Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die hoeders van Kamfersdam

Twee of drie keer per week sluip ’n paar figure gebukkend in hul waterskoene om die pienk-omsoomde Kamfersdam in Kimberley. Hul oë is stip gerig, neuse teen die wind gedraai en ore wyd gesper. Boonop is hulle gewapen, nogal met kameras, teleskope en swartsakke.

In hul visiere is kleinflaminke, grootflaminke, skoorsteenveërs en ander watervoëls. En die visarende wat hier jag maak. Honger jakkalse en muishondjies draf ook hul draffies hier om.

Die spannetjie wat gereeld om Kamfersdam loop om die flaminke te bestudeer is van links Herbert en Brenda Booth, Debbie Smith, Ester van der Westhuizen-Coetzer en Donovan Smith. Foto: Charné Kemp

By dié dam kan dié navorsers hul beproewinge van die Covid-19-inperking ’n paar ure lank ontsnap.

Kamfersdam is net ’n klipgooi buite die Diamantstad. So tussen die Karoo en die Kalahari. Die gekwaak, gekwetter, geroep, geskreeu en gekrys van flaminke, eende, ganse, visarende en meeue herinner aan ’n oase, dog is die waterhabitat mensgemaak.

Teen die suidelike horison toring die bekende mikrogolftoring, ’n paar wolkekrabbers en huise. Nader aan die wal is die versteekte gholfbaan, ’n hotelkompleks wat na die flaminke genoem is en die munisipale rioolaanleg­ wat sy gesuiwerde en vloedwater in die dam pomp. Onder die oorhoofse kraglyne rammel ’n vragtrein vlak teen die water verby. In die ander windrigtings staan die geel gras geil tussen doringbome danksy mildelike laat reëns.

Ester van der Westhuizen-Coetzer, Debbie Smith en Donovan Smith is vandag weer hier op Herbert en Brenda Booth se plaas om waarnemings oor die kleinflaminkspesie te doen.

Dié drie se navorsing het verlede Januarie spontaan ontstaan toe hulle deel van Mike Bolhuis, flaminkliefhebber, se groep vrywilligers was wat sowat 2 000 kuikens van die verdorde dam gered en met die hand groot gemaak en gering het. Hulle het verlede jaar sowat 550 wat oorleef het hier vrygelaat. Sedertdien soek hulle vergeefs in die pienk massa na die enkeles van hul “grootmaakbabas” wat nog nie na groener weivelde weggevlieg het nie.

Met die hulp van die Noord-Kaapse departement van natuurbewaring probeer hulle om die laaste 190 kuikens wat nog in dieretuine in Gauteng is, hier vry te laat. Dié proses is egter deur onderstrominge en die Covid-19-inperking vertraag.

’n See van pienk flaminke op Kamfersdam. Foto: Debbie Smith

Omdat die reën mildelik maar laat in die seisoen was, het die flaminke eers in Februarie begin broei, later as normaal. Dit het Ester en Donovan bekommer, omdat die jong kuikens nie teen die winter sterk genoeg sou wees om na tropiese gebiede te vlieg op soek na kos nie. Kimberley se koue winters laat die groen alge waarop die flaminke leef, vrek.

Boonop kon hulle weke lank weens die Covid-19-inperkingstyd nie kyk hoe en of die kuikens dit oorleef het nie. ’n Vernietigende haelstorm op Goeie Vrydag het hulle ook bekommer, hoewel dit geblyk het Kamfersdam het die haelstorm vrygespring.

Die wuiwende grasse lei na die oewer van ’n versteekte baai. Dan verskyn ’n pienk wolk van volwasse, meesal kleinflaminke, en enkele grootflaminke. Vanjaar se oes kleinflaminkkuikens lyk soos ’n grys gedaante in die vlak water waar hulle na alge soek.

“Toe die eerste kouefront in Junie gekom het, het die meeste alge gevrek,” sê Donovan. “Dit is hoekom ons vandag etlike dooie kuikens optel. Hulle is uitgeteer en kon nie die koue trotseer nie. Baie kuikens sit seker op die oewer om in die son te bak eerder as om in die water aan beskikbare alge te vreet.”

Donovan, ’n veearts in private praktyk, kyk deur sy verkyker.

Jong kleinflaminkkuikens sit in die flou winterson langs die Kamfersdam om op te warm.Foto: Charné Kemp
George, flamink nr. 60, is ’n geringde gerehabiliteerde kleinflamink wat verlede jaar van die pan gered is. Foto: Ester van der Westhuizen-Coetzer
’n Visarend vreet aan ’n dooie flamink terwyl ’n guitige seemeeu sy lippe aflek. Foto: Ester van der Westhuizen-Coetzer
Pokmerke is duidelik aan die keel van ’n grootflamink te sien. Foto: Ester van der Westhuizen-Coetzer
Herbert en Brenda Booth op wie se plaas Kamfersdam genestel is. Foto: Charné Kemp
Jong flaminke sit in hul grys tienerdrag voor die volwassenes wat in hul pienk tabberds pronk. Foto: Charné Kemp
Donovan Smith kyk deur die lens van die teleskoop om geringde flaminke of flaminke met pokke op te spoor. Foto: Charné Kemp
Kamfersdam en sy watervoëls word deur teleskope en kameras bekyk. Van links is Debbie Smith, Bennie Coetzer en Ester van der Westhuizen-Coetzer. Foto: Charné Kemp

“Kyk, daar is een met pokke. Dit is aan die snawels, kele en oë. Dit is pynlik, en waarskynlik ook ’n gevolg van die stres oor min kos.”

Debbie, wat in die mynbedryf werk, is ’n diereliefhebber en fotograaf van formaat. Vandag is sy soos gewoonlik in haar waterstewels in die water. Elke keer as sy ’n karkas optel, huil sy byna. As dit van haar afhang, sal die kuikens gevoer word.

“Ons kan nie,” sê Donovan. “Die natuur moet sy gang gaan. Eintlik is alles onnatuurlik. Onder natuurlike omstandighede sal die dam droog wees.”

Soos Herbert dit onthou. Vyftig jaar gelede toe hy die plaas gekoop het, was Kamfersdam ’n droë pan van 400 ha met min watervoëls. Toe die eerste rioolaanleg gebou is, het die flaminke gekom, nóg meer toe die huidige aanleg opgeknap is. Die massa water het hom al ’n paar keer gedwing om sy plaasingang te verskuif.

In die vorige dekade het ’n plaaslike myn in samewerking met die departement ’n eiland op die dam gebou sodat flaminke ongesteurd kon broei. Die broeisukses is nie in diepte bestudeer nie, waarna die eiland verval het.

Die reddingsaksie in 2019 het hernude belangstelling meegebring en selfs internasionale kenners het na Kimberley gestroom om die kuikens te help rehabiliteer.

Was dit nie vir dié reddingsdaad nie, sou Ester, Donovan en Debbie mekaar nie so goed leer ken en saam op Herbert se wilds­plaas navorsing gedoen het nie. Herbert verwelkom hulle, veral noudat die inperking sy jagonderneming gekniehalter het.

Herbert en Brenda vertel hoe hulle dag en nag met die flaminkgesang tot in die slaapkamer wakker word en gaan slaap.

“Dit is so mooi hier, ons is voorwaar gelukkig,” sê Brenda.

Ester is die omgewingspesialis van die Ekapa-myngroep, wat onder meer Kamfersdam en sy voëllewe moet moniteer. Sy is ’n kenner van waterekologie en watervoëls en toets daarom gereeld watervlakke en -gehalte.

Haar en Donovan se waarnemings word ook deur Save the Flamingo en Birdlife South Africa gebruik.

Debbie Smith (links) en Ester van der Westhuizen-Coetzer is in die water om flaminkkuikenkarkasse uit te haal wat ondersoek moet word om die oorsaak van dood te bepaal. Foto: Charné Kemp

Vandag het sy reeds, kaalvoet in die water, ’n paar karkasse uit die water gehaal wat in swart sakke gesit word sodat Donovan nadoodse ondersoeke kan doen.

Die vier plaaslike visarende en ander aasdiere gedy andersins op flaminkvleis.

Donovan sit regop agter die teleskoop. Hy sien ’n grootflamink agter die duisende kleinflaminke waggel. Dan begin hy jubel.

“Ek sien hom, ek sien hom. Ek sien ’n geringde kleinflamink.” Hy, Ester en Debbie spring op en af. Dis die eerste keer wat hulle ’n geringde flamink in die massa voëls raaksien. Dit is flamink George, nr. 60, wat as kuiken van elkeen ’n soen moes gekry het.

Hy is een van drie gerehabiliteerde kuikens waarop nasporingstoestelle op die rug gepas is wie se toestelle nog werk. En die enigste een wat nooit van die dam weggevlieg het nie. Hy pas vanjaar se broeisel op.

Donovan glimlag.

Ester van der Westhuizen-Coetzer en Donovan Smith bestudeer ’n karkas en bespreek watter dele die visarend en ander aasdiere eerder aan vreet. Foto: Charné Kemp

“Die navorsing is geweldig interessant juis omdat dit nog nooit hier gedoen is nie. Tussen droë en nat jare moet ons bepaal hoe en óf hulle te midde van droogte, vloede, pokke, roofdiere, menslike aktiwiteite en die oorhoofse kragdrade waarin hulle vasvlieg, gaan oorleef. Dit laat vrae ontstaan, soos of hulle gevoer moet word, of die pokke behandel moet word; en op watter wyse die mens moet ingryp, en so meer. Elke keer wanneer ons kom, maak ons nuwe ontdekkings.”

Later sit elkeen van hulle óf agter ’n kamera óf ’n teleskoop.

Vir hulle is die dam ook ’n plek waar hulle hul ingeperktheid tydelik kan afskud om saam met die flaminke te vlieg.

Meer oor:  Kimberley  |  Kamfersdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.