Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die legende van Duiwelspiek

Jannie van Rensburg het onlangs Duiwelspiek, syns insiens die onverdiende afskeepkind van die drie bergspitse wat oor die stadskom van Kaapstad waak.

Oppelskop, die klein spits voor Duiwelspiek waar ’n hut destyds gestaan het vir brandwagte om te waak teen moontlike brandgevaar. Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Jan van Hunk was sy bevoeterde ou self toe sy vrou hom een oggend in 1700 uit die huis skop en sê hy moet buite gaan rook. Sy was die hedendaagse anti-rokers jare vooruit . . .

Mnr. en mev. Van Hunk het daardie tyd aan die voet van Windberg gewoon, wat in ’n stadium ook as Charlesberg bekend was.

Dit is nie bekend met watter twak Jan sy pyp gestop het nie, maar volgens oorlewering was dit sterk genoeg om hom soms gesigte te laat sien.

So sien hy toe daardie oggend ’n kêrel aangestap kom wat lyk of hy horings aan sy kop het, met ’n stert wat agter uitsteek. Dié man stel homself voor as Die Duiwel en spog dat niemand by hom kan kers vashou as dit kom by rook en stook nie.

Van Hunk was ’n seerower voor hy met sy kwaai vrou getrou het. ’n Mens kan maar sê hy het altyd van ’n uitdaging gehou.

Terstond klouter Van Hunk en Die Duiwel Windberg uit en raak gewikkel in ’n rookstryd. Nie lank nie, of Tafelberg was toe onder ’n wit wolkkombers.

Die Duiwel het uiteindelik bes gegee, en met ’n hoes en geproes die aftog geblaas.

Van daardie dag af heet Windberg Duiwelspiek. Altans, so lui die legende . . .

Soos ’n wafferse brandwag by die murasie van Oppelskop bespied Mary van der Spuy die omgewing vir ongewenste rookwolkies. Irene Vermeulen kyk toe.

Tussen Tafelberg, Leeukop en Duiwelspiek is laasgenoemde ongetwyfeld en onverdiend die stiefkind. Op enige gegewe oomblik van enige dag is daar duisende mense op Tafelberg.

Hulle bestyg dit óf met die kabelkar, óf met een van talle staproetes. By Leeukop moet mens veral oor naweke soms toustaan om by die kettings, trapleertjies of kramme op of af te gaan.

Selfs vroegoggend, as die stad se liggies nog flonker, sien jy die kopligte van klimmers in ’n streep teen Leeukop uit. Duiwelspiek daarteenoor, staan dikwels verlate.

Op 1 000 m is Duiwelspiek ’n skrale 85 m laer as Tafelberg. Met skouspelagtige uitsigte oor Tafelberg en Leeukop, die stadskom, die hawe en Nuweland, hoef dit g’n aks terug te staan vir sy twee gewilder boeties nie.

Daar is ook meer as een roete om jou tot bo te vat. Die algemeenste een is vanaf Tafelbergpad verby die Platteklip-ravyn. Parkeer jou motor onder ’n paar bome net voordat die pad teen sementblokke doodloop. Oorkant is ’n teken wat die pad na Duiwelspiek aandui.

’n Slingerpad vat jou op na die nek tussen Tafelberg en Duiwelspiek, waar die sogenaamde Breakfast Rock met sy waterstroompie jou geleentheid bied om asem te skep en ’n lafenissie uit jou rugsak te delf.

Daarvandaan lei ’n voetpad jou min of meer regop na die spits van Duiwelspiek.

Die uitsig bo van Duiwelspiek af oor Leeukop, met Oppelskop op die voorgrond.
Die sekondêre piek (Minor Peak) teen Duiwelspiek. ’n Voetpaadjie langsaan lei jou met ’n alternatiewe roete tot heel bo.

Die roete wat ons gekies het was met die kontoerpad wat links uit die slingerpad afdraai na Oppelskop, voor jy by die nek en Breakfast Rock uitkom. Dit lei jou om Duiwelspiek, na waar die bouval van die destydse brandwaghut jou inwag.

Van Oppelskop af lei ’n paadjie jou met ’n rif langs terug na Duiwelspiek.

Hier moet jy mooi trap, veral met die wind wat dikwels nogal sterk waai – en daar’s ’n vér val ondertoe.

Teenaan die piek kan jy óf regs ­om terugstap na Breakfast Rock, óf links met die kontoerpad langs.

Die paadjie is aanvanklik heel gemaklik met geen steil op- of afdraandes nie, maar hou jou oë oop vir ’n ongemerkte paadjie wat regs opkronkel net nadat jy by die sekondêre piek verby is.

Dié lei jou met ’n steilte op na die nek tussen Duiwelspiek en sy kleinboetie, die sekondêre piek.

Van hier af is daar geen genade nie – dis steil en regop na die piek, nog so 20 minute se sweet en blaas.

Wees verseker, dis die moeite werd. Die wind waai taamlik gereeld hier bo, maar daar is heerlike skuilplek tussen die rotse – met ’n panoramiese uitsig wat jy nie maklik sal vergeet nie.

  • Van Rensburg is ’n vryskutskrywer.
Ons is bo! Die Duiwelspiek-klimmers Irene Vermeulen, Mary van der Spuy, Leen Vliegenhart, Hester Spies en Reline du Toit glimlag tevrede met hul prestasie.
Meer oor:  Kaapstad  |  Omgewing  |  Buite  |  Doendinge  |  Bergklim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.