Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die Noord-Kaap bied skatkis vol ervarings

Die meeste mense wat die Noord-Kaap besoek, mik soontoe as dit blommetyd is. Dié provinsie se dorpe en afdraaipaadjies bied egter regdeur die jaar genoeg om te sien en te beleef; jy hoef nie vir die blomseisoen te wag nie, meen Ilse Zietsman.

Net mooi soos wat jy by Loeriesfontein uitry, pryk ’n klein kerkie op ’n platterige heuwel – weerskante van die voordeur is kokerbome.

Voor jy kon sê “madeliefie!”, het ek, my ma en my sus laasgenoemde se nuwe wiele bestyg en besluit ons gaan meestal ry waar die wind ons waai.

Die eerste groot lekkerte is die uitsig oor die vlaktes vanaf die Piekenierskloofpas op die N7 ’n entjie voor Citrusdal. Die naam is ontleen aan piekeniers of lansiers wat in die kloof ontplooi is om die boere teen strooptogte van die Khoi-Khoi te beskerm, lees ek voor uit Wikipedia toe ons aan die anderkant afry.

Eers draf ons gou in by De Tol Plaasstal vir ’n knaagdingetjie. Toe sit sus Esna voet in die hoek tot by Nieuwoudtville waar ons by familie oorslaap.

Die luukse Namakwa-bergsuites by Naries Namakwa Retreat het rietdakke tot op die grond en ’n uitsig wat tot by die see strek.

Daar aangekom, laat ons die twee tantes nuus uitruil en Sus Kwadraat sak af na die Nieuwoudtville Hotel se kroeg, ’n regte plattelandse kuierplek waar jy nie jou ore aan al die stories moet uitleen nie en waar jy nooit weet wie of wat jy hier gaan raakloop nie.

Ons is gelukkig genoeg om die kroegman, Anton, se papegaaikuiken te ontmoet en eerstehands te sien hoe hy die kleine dingetjie met ’n lepel voer.

Vroegoggend blêr die skape op die oop erwe in Nieuwoudtville en die oggendlug is knypkoud. ’n Swart kat loop op die dak van die hotel en daar is een fiets voor die poskantoor geparkeer.

Die hoeksteen van die imposante NG kerk is in Februarie 1906 gelê. Die oop erwe rondom die klipkerk strek so wyd soos die Heer se genade.

Toe die gemeente gestig is, was daar “480 lede en 1 200 siele”, lees ek op die gemeente­geskiedenisbladsy op hul webwerf. In 2017 was daar “156 belydende en 28 dooplidmate”.

Protea Motors is die enigste vulstasie in Nieuwoudtville. Die eienaar het ’n groot versameling van interessante en antieke motorfietse wat alleen ’n besoek werd is.

Loeriesfontein, net minder as ’n uur se ry weg, is nóg kleiner as Nieuwoudtville. Loeriesfontein Slaghuis verkoop afval, lewer-in-netvet, kaaswors en “braai shushi” waarvoor ek alles lus is, maar my vegetariese sus trek haar neus op hiervoor.

Elke Namakwa-bergsuite het sy eie houtdekkie waar jy oggendkoffie en skemerkelkies kan drink.

Ek laat haar maar begaan, want ek weet daar wag ’n driegangete op ons by Naries Namakwa Retreat waar ons vir dié aand verblyf bespreek het.

Ons gaan luister na die sjjjrrr-sjjjrrr van die windpompe by die Windpompmuseum langs die Fred Turner-museum, lees die windpompname op die windpomplemme en kyk hoe ’n windpomp ’n nuwe leksel verf kry; loer in by Medjoul Dadels waar ons neef, Nico Louw, die lekkerste dadels in die hele Suid-Afrika vir die uitvoermark verwerk en verpak en neem foto’s van die mooie NG kerk en die United Reformed Church met twee kokerbome weerskante van hul voordeur.

Ons los vir Ma by haar sus Ria Viljoen en pak die Van Rhynspas, oorspronklik gebou in 1880, aan. Ons sluk ’n vinnige koffie by Bagdad Café op die R27 af, spyt dat daar nie tyd is vir ’n sny soetsuurdeegbrood ook nie.

Die Ou Ou Skuur op Port Nolloth is ’n geskenkwinkel met iets vir almal.

Dit kos rý om voor sonsondergang by Naries Namakwa Re­treat buite Springbok aan te kom. Om oor ’n glasie jenewer die son te sien sak terwyl die vriendelike gidse van Naries ons meer van die omgewing vertel, was een van die hoogtepunte van ons reis.

Nog ’n hoogtepunt was ons verblyf in die luukse Namakwa- bergsuites by Naries. Elke unieke bolronde rondawel met sy eie houtstoepie is op een van die rantjies van die Spektakelberg gebou vanwaar jy oor golwende vlaktes tot by die see op die horison kan uitkyk.

Dit was eerlikwaar een van die mooiste plekke – met een van die mooiste baddens – waar ek nog oorgebly het.

Ná ’n geurige ontbyt vertrek ons in ’n Noorse dwaal, onseker waarheen ons volgende gaan, omdat ons ons juis nie aan ’n vaste roete wou bind nie.

Sou jy wou gaan

By Naries Namakwa Retreat is verblyf in selfsorgkothuise, die hoogs aanbevole Namakwa-bergsuites en die herehuis. Die prys per nag sluit ’n driegangaandete en ontbyt in. Vind meer uit by www.naries.co.za.

’n Mens ry nie deur Springbok sonder om by die Springbok Lodge & Restaurant in te loer nie. Al is dit net vir die koerant of om jou te verwonder aan die klip-en-kristalversameling, ’n boek of twee aan te skaf en die ou uitknipsels oor Namakwalandse gebeure oor die afgelope eeu teen die mure te lees.

Ek kry dit reg om my sus te beïndruk met dit wat ek van Robey Leibbrandt, ’n Duitse geheime agent, weet toe sy die ou koerantberigte sien wat vertel hoe hy beweer het dat hy in Junie 1941 met ’n duikboot by die Namakwalandse kus aangekom het terwyl dit eintlik met ’n seiljag was.

Wat van middagete in Port Nolloth? Hoekom dan nou nie? En daar gaat ons!

Port Nolloth is vernoem na ’n skeepskaptein, kommandeur M.S. Nolloth wat in 1854 die kus hier rond verken het. Port Nolloth is oorspronklik gestig om as hawe te dien om kopererts uit te voer.

Toe spoeldiamante hier ontdek is, het die dorp nuwe lewe bygekry.

Die Sophia-gastehuis in Garies is een fees van kleur aan die binnekant.

Op Port Nolloth aangekom, koop ons eers geskenke by die Ou Ou Skuur skuins agter die Port Nolloth-museum voor ons by die kleurvolle Nemo’s aansit. Ek sal weer so ver ry net om hulle calamari te eet.

Voor ons weer die langpad aanpak, soek ons, synde albei vuurtoringentoesiaste, eers die Port Nolloth-vuurtoring op wat toe eintlik maar net ’n staalstellasie agter ’n muur is.

Ons gaan kyk hoe lyk McDougallsbaai net omdat ons nog nooit daar was nie. Die reisskrywer T.V. Bulpin het in die sestigerjare geskryf dat die Diamantkus, waar McDougallsbaai is, ’n mens laat wonder hoe die natuurbui daar uitgesien het toe dié deel van ons land geskep is.

Die see en die strand kom woes en leeg voor.

Vir Bulpin het dit ’n gevoel van genadeloosheid en grimmigheid. So in die ry besluit ons dat ons die aand op Garies wil slaap. Net daar ry ons die hele pad terug met die R382 Springbok toe en klim terug op die N7.

Terwyl jy voor Loeriesfontein Slaghuis staan, kan jy sommer besluit wat jy in jou inkopiesak gaan pak.
By Nemo’s in Port Nolloth het ek die heerlikste calamari geëet.
Daar is rakke en rakke en rakke vol eierkelkies in die eetkamer by Sophia Gastehuis, en nog baie ander kombuistoerusting van lank gelede om jou aan te verwonder.
Met ons besoek het van die windpompe ’n nuwe leksel verf gekry wat deel van die gereelde instandhouding van die Windpomp-­ mu­seum uitmaak.
Meer oor:  Noord-Kaap  |  Buite  |  Reis  |  Blommeseisoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.