
’n Siberiese tierwyfie slaan haar arms om ’n boomstomp in ’n nasionale park in die verre ooste van Rusland. Die Russiese fotograaf Sergei Gorsjkof is as vanjaar se Wildlewefotograaf van die jaar van die Britse Natural History Museum aangewys. Foto: SergeiI Gorsjkof/Wildlewefotograaf van van die jaar
Die wenfoto in vanjaar se Wildlewe-fotograaf van die Jaarwedstryd – ’n bedreigde Siberiese tierwyfie met haar voorpote om ’n boomstomp geslaan asof in ’n omhelsing – is tekenend van ’n wêreldwye pandemie waar mense daarna hunker om geliefdes te mag omhels.
Dít is een van die beskrywings van die fotograaf Sergei Gorsjkof se wenfoto getiteld “Die omhelsing”.
Catherine, hertogin van Cambridge, het verlede week die wenner virtueel bekend gemaak.

Catherine, hertogin van Cambridge, het onlangs die wenner van die Wildlewefotograaf van die Jaar virtueel bekend gemaak. Die video van die aankondiging is in die Natural History Museum se ikoniese Hintze-saal verfilm. Foto: Getty Images
Die 38-jarige hertogin, wat self ’n ywerige fotograaf is, het elegant gelyk in ’n swart broekpak van die ontwerphuis Alexander McQueen.
“Die deelnemers het ’n roerende en fassinerende blik op die skoonheid en kwesbaarheid van die lewe op ons planeet gewys,” het die hertogin gesê.
Gorsjkof het met die louere weggestap die 56ste keer dat die wedstryd deur die Britse Natural History Museum gehou is.
Gorsjkof het die foto geneem in die verre ooste van Rusland in die Land van die Luiperd- nasionale park.
Dit het dié fotograaf, ’n Rus, langer as 11 maande geneem om die foto vas te vang deur versteekte kameras in die park, berig CNN.
Roz Kidman Cox, voorsitter van die beoordelaarspaneel, het gesê die foto “is ’n toneel soos geen ander nie. Dit is ’n unieke blik op ’n intieme oomblik diep in ’n magiese woud.”
Siberiese tiere word bedreig en is tot op die rand van uitwissing gejag vir hul pelse en bene. Danksy verskeie bewaringsprojekte om die dier te red, is daar tans net meer as 500 van die tiere in die wêreld oor. Hulle kom grootliks in die verre ooste van Rusland sowel as die noordoostelike dele van China voor. – CNN, People