Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die plek van die walvisse

In die De Hoop-natuurreservaat word jy gelyktydig bekoor deur voëls, plante en seediere, skryf Maryke Roberts.

Bo my kop vlieg ’n klein rooivalkie, kloutjies oopgesper, oë vasgenael op iets tussen die grassies. Voor my in die see speel ’n noorkapperwalviskalf. Ek weet nie waar om eerste te kyk nie.

Die De Hoop-natuurreservaat is in die Kaapse Blomkoninkryk, waar 1 500 plantspesies groei. Foto: Clifford Roberts

Dís die wonderlike dilemma waarmee jy gekonfronteer word by die Lekkerwater Beach Lodge in die De Hoop-natuurreservaat naby Kaap Agulhas.

De Hoop beslaan 34 000 ha, waaronder ook ’n mariene bewaringsgebied 5 km die see in.

Dis die hartjie van die broeiplek vir noorkapperwalvisse hier aan die suidpunt van Afrika. Vanaf ons kamer sien ons hulle speel met hul vinne wat uit die water kom en dan sekondes later op die oppervlak neerplof. Hulle paar en gee geboorte hier.

Lekkerwater se voltydse fynbos- en mariene gids, Billy Robertson, vertel die gemiddelde walviskoei is so groot soos agt tot tien Afrika-olifante bymekaar en die kalfies is 5 m in lengte! ’n Volwasse walvisstert is 2 meter van punt tot punt en soms swem ’n “vroedvrou”- walvis saam om die ma by te staan met die geboorte. “Die kalfie drink 400 tot 600 liter melk per dag; bly drie jaar by sy ma en kom altyd terug na waar geboorte gegee is,” voeg Billy by. Hy kyk al sedert 1994 walvisse en herken dié wat jaarliks terugkeer aan die unieke merke op hul lywe.

Die kalfies word sonder liggaamsvet gebore en word eers hier vet gevoer, voordat hulle Antarktika toe gaan. Die ma leer die kalf om branders te ry of te seil. Sodoende kan hulle as’t ware met die seestrome gly en baie min energie verbrand.

Waar swart tobies speel

Op die dag van ons aankoms los ons ons motor onder die bome by die parkeerarea. Die laaste 6 km ry jy met die 4x4 van die lodge, wat hoog teen die kranse waghou oor die strand en groenblou oseaan.

Hoeveel plekke sien jy nog op die strand die spore van ’n jagluiperd? Foto: Clifford Roberts

Ryan Harrison, deel van die bestuurspan, vertel ons die lodge se gemeenskaplike sit- en eetkamer is gebou op die oorspronklike fondamente van ’n huis wat FW de Klerk besit het.

Volgens wetgewing moes die lodge die minimum impak op die ekostelsel hê en nie buite die oorspronklike voetspoor gebou word nie. Water kom meer as 6 km van die boorgat af. Sonpanele verhit die water en wek krag op vir alles elektronies.

Ons bly in Oystercatch­er, een van die lodge se sewe kamers wat met hul voete in seesand ver bo die branders staan, en net om ’n punt te maak stap ’n swart tobie-paartjie ewe kordaat op die sand onder ons huisie verby.

Billy vertel oor middagete: “Swart tobie-mannetjies se bek is effe dikker en korter om die mossels oop te breek; wyfies se bek is dunner en langer om wurms uit die grond te trek. Hulle vul mekaar perfek aan.”

Ek sit die res van die middag langs die groot vuur in ’n pragtige ysterdrom en hou vier swart tobies op die strand dop. Daar is geen spore op die wit sand nie; en sodra die branders in yslike sirkels uitspoel, versit die voëltjies vinnig hul pootjies, sodat hulle nie nat word nie. Die paar spoortjies in die sand word gou met die volgende brander uitgewis.

Op ’n begeleide toer wys ’n gids jou al die pragtige blommetjies wat jy dalk sou miskyk. Foto: Clifford Roberts

Daar is vele aktiwiteite wat jy saam met Billy en Les Hatt, ’n voëlgids en deel van die bestuurspan, kan onderneem. Les vertel laatmiddag op die houtdek, oor ’n gin en tonic en biltong, dat daar ten minste 270 voëlspesies hier in die reservaat gesien kan word, waarvan 97 watervoëlspesies is wat totaal afhanklik is van die Ramsar De Hoop-vlei, sowat 25 km wes van die lodge.

Etes is ’n avontuurlike, nostalgiese affêre saam met sjefs Tatenda “Don” Jailos en Tatenda Sheyn. “Ons probeer om ons geskiedenis hier aan die suidpunt van Afrika te herbepaal deur ons disse,” vertel hulle. “Ons berei onder meer ons geroosterde pampoensop met masala voor en bobotie met Maleise speserye soos borrie en koljander wat ons bedien met vrugte soos appelkose en rosyne.”

Seekatte, jagluiperds en leeubekkies

Op ons tweede middag stap ons, soos die gety toelaat, saam met Billy vir ’n mariene stap na die getypoel om na ’n seekat in ’n skeur te gaan kyk. Die vorige aand se gure weer het egter die see vertroebel en ons sien nie veel nie.

Dis hier waar die noorkapperwalvisse kom paar en kalfies kry. Foto: Clifford Roberts

Billy wys vir ons jagluiperdspore op die strand, wat hy op sy foon afgeneem het. Daar is twee rye: dié van die ma en van ’n jong welpie. Jy kan nie glo daar is nog sulke ongerepte dele in ons land nie.

Ons stap tussen die fynbos terug. Billy vertel dat die Kaapse blomkoninkryk die kleinste plantkoninkryk op aarde is. Hier groei 1 500 plantspesies – waarvan 15 nêrens anders te vinde is.

Daar is altyd iets wat blom in die Kaapse blomkoninkryk, sê hy. Hy buk by ’n piepklein bossie en wys ons die pienkrooi poprosie. Die windjie waai ysig toe ons hoër op teen die koppie uitklim en kyk na die Klipdrift-grotte.

Hier is al tekeninge teen die rotsmure gevind. Jy kan egter nie by die grotte ingaan nie, want dis ’n kosbare vindplek en word tans deur argeoloë besoek. Party sê die opgrawings en rotskuns dateer van 125 000 jaar terug.

Die Lekkerwater Beach Lodge is geleë by ’n mariene reservaat waar walvisse kom paar. Foto: Clifford Roberts

Ons stop om foto’s te neem van vars elandspore in die klam grond. Die spoor word mooi omraam deur groen en pienk en geel plantjies wat fyn krul-randjies vir die spoor maak. Hy lag en sê: “Meeste van die uitstappies is ‘Billy’s believe it or not.’ ”

Ons sien ’n leeubekkie wat soos jasmyn ruik. Hy pluk en kneus dit effentjies, sodat almal die lieflike geur kan ruik.

Toe ons terugstap, het nuwe gaste aangekom en hul kinders staan met hul kaarte op die strand om te kyk na voëls en plante en skulpe. Hulle het groot pret met die inkleur en ontdek. En ek weet hoeveel hulle hierdie paradys die volgende paar dae gaan geniet.

  • ’n Nag by die Lekkerwater Beach Lodge begin by R2 900 per persoon, etes ingesluit.
Meer oor:  Walvisse  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.