Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die tonnel wat Venterstad laat Italiaans praat het

Onder een van die Oos-Kaap se mees ikoniese heuwels lê ’n wonder geskep deur ingenieurs waarvan min mense weet, maar wat ongesiens alles in dié geweste verander het sedert dit in 1976 geopen is. Julliene du Toit vertel meer. Chris Marais het die foto’s geneem.

Hier begin en eindig ’n besigtigingstoer by die wêreld se derde langste aaneenlopende watergang – die Oranje-Vistonnel.

Een van die Karoo se mees verborge toeristeaantreklikhede is 150 meter onder die grond, dit ruik so ’n bietjie na vis en dit is net vir vier weke in ’n jaar oop.

Hier, onder ’n heuwel met ’n opvallende plat bokant, genaamd Teebus, tussen die klein Oos-Kaapse dorpies van Steynsburg en Hofmeyr, is die uitlaatskag van die wêreld se derde langste aaneenlopende watergang, die Oranje-Vistonnel.

Met sy donker ondergrondse gange en reusagtige klepkamer wat uit soliede ysterklip gekap is, lyk dit nogal soos die filmstel van ’n ou James Bond-fliek. Jy weet . . . met besige werkers doenig met allerhande eienaardige masjinerie in ’n geheime, ondergrondse basis terwyl die baasbrein-skurk oor hulle toesig hou en sy groot wit kat streel.

Sedert die Oranje-Vistonnel in 1976 geopen is, bly dit een van Suid-Afrika se besonderse ingenieursprestasies. Dit is boonop lewensbelangrik vir miljoene mense in die Oos-Kaap.

Die Gariepdam in volle vloed – sulke vloedlyne is nog nie weer sedert 2012 beleef nie.

Water vir 11 maande – en ’n toerismemaand

Vir meer as 11 maande van die jaar druis gemiddeld 22 kubieke meter water per sekonde deur hierdie 82,45 km-lange watergang van die Gariepdam af onder die Suurberge deur om dorpies soos Cradock, Cookhouse, Somerset-Oos en selfs ’n stad soos Port Elizabeth van water te voorsien.

Tussen Steynsburg en Middelburg sien 'n mens dié opmerklike heuwels wat as Teebus (links) en Koffiebus bekend staan. Teebus is waar die Oranje-Vistonnel eindig, en die water dan in die Teebusspruit, Brakrivier dan tot in die Groot Visrivier vloei.

Dié water word gebruik om gewasse te besproei en water te voorsien aan melkerye in die vrugbare Oos-Kaapse Karoo-Middellande. Dit word ook aangewend as besproeiingswater vir die multimiljoenrandse sitrusboorde in die Sondagsrivier se naby Addo en Kirkwood.

In die middel van die winter, wanneer die yslike klawerblaar-sluise by die Gariepdam toegemaak word, word die Oranje-Vistonnel ’n vlietende toeristeaantreklikheid. Die konstante gedruis van water word dan stil en net ’n klein stroompie bly nog loop, terwyl ’n span werkers van die departement van water en sanitasie in die tonnel onderhoudswerk doen. In hulle oorpakke, gumboots en kopligte plons hulle deur die water in hierdie vreemde onderwêreld met ’n lewendige of ’n dooie vis elke hier en daar, of ’n krap wat teen hulle enkels verbyskuif in die dieper tonnels.

Hulle werk? Hulle maak die tonnels waar dit nodig is weer waterdig, vul gate en vervang verweerde stukke van die peperpotkleppe se omhulsels; kleppe wat spesiaal gemaak is om die watervloei te help reguleer.

Dit is gedurende dié paar weke van onderhoud wat besoekers (gewoonlik nuuskierige besproeiingsboere en hulle vriende) toegelaat word om hierdie uitsonderlike plek van binne af te bekyk, solank daar iemand is wat hulle kan vergesel.

Die massiewe inlaatstruktuur by Ovison is vanwaar 'n kwart van die Gariepdam se water heen gelei word deur die Oranje-Vistonnel.

Studie reeds in 1912 gedoen

Volgens Lani van Vuuren, redakteur van die vaktydskrif Water Wheel, wat deur die water navorsingskommissie bestuur word, is die Oranjerivierprojek (wat die Gariepdam en die Oranje-Vistonnel met mekaar verbind) deels begin weens internasionale skokgolwe oor die apartheidsregering se Sharpeville-slagting in 1960. (Altesaam 69 betogers is doodgeskiet toe hulle in Sharpeville teen die Wet op Passe in opstand gekom het.) Die destydse regering moes toe iets doen om weer “die vertroue in die land se ekonomie te herstel”.

Stephen Mullineux van Cradock, wat afgetree het uit sy loopbaan by die departement van water en sanitasie, by die swembad op die dorpie Teebus, wat nou heeltemal verlate is. Dit is duidelik dat die swembad een van die hoogtepunt van enige inwoner se sosiale lewe was.

Dit was egter glad nie ’n nuwe idee nie. Jare voor dit, in 1912 al, het Dr. Alfred Lewis, wat later die direkteur van besproeiing geword het, ’n uitmergelende reis deur die Oranjerivier se gebied onderneem. Die kwik het met tye 41 °C getref. Later het hy in ’n verslag geskryf oor die moontlikheid om ’n deel van die rivier se water met tonnels na die Groot Vis- en die Sondagsriviere te laat vertak. Hy en baie ander het besef so ’n projek sou groot potensiaal in die droë Oos-Kaapse Karoo kon ontsluit waar die aarde vrugbaar maar die reënval skaars is en die riviere ’n kortstondige leeftyd het.

Die Oranjerivierprojek is in 1948 aan die regering voorgelê, maar dit is afgekeur omdat dit te duur was. Op die ou einde was dit internasionale druk in 1960 en die bedreiging van buitelandse kapitaal wat landuit sou vloei, wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die R490 miljoen-Oranjerivierprojek (om en by R75 miljard in vandag se terme, het een wateringenieur geskat).

Die eerste stap was natuurlik om ’n dam te bou om die magtige Oranjerivier te tem. Konstruksiewerk hiervoor, wat die grootste dam in die land sou wees, het in 1965 begin en dit is in 1971 voltooi. Dit is aanvanklik die Ruigte Vallei-dam genoem, maar later is dit na Hendrik Verwoerd vernoem, en in 1996 is dit as die Gariepdam (die oorspronklike Khoi-naam) hernoem.

Daar is nie veel aan die buitekant om te sien nie, maar onder dié geboue en heuwels loop daar ingewikkelde strukture, tonnels en pype.

Italiaans in die Middellande

Beplanning vir die Oranje-Vistonnel-deel van die projek het in 1963 begin, kompleet met lugfoto’s, geografiese kartering en die boor van nagenoeg 300 verkenningsboorgate.

Werkkampe – wat eintlik volledige klein dorpies was – moes vanuit die niet ontwikkel word. Teen die bedrywigste tyd van die tonnel-bouprojek sou daar ’n werkersmag van 5 000 plaaslike mense en buitelanders van reg oor die wêreld wees, insluitend junior- en senioringenieurs van Brittanje, Italië, Portugal, Spanje en België.

Die konstruksie van die tonnel was hopeloos te omvangryk om dit aan net een siviele ingenieur toe te vertrou, en daarom is die verantwoordelikheid tussen drie ingenieurs verdeel. ’n Italiaanse maatskappy het aan die inlaatgedeelte gewerk (die dorpie daar is Oviston genoem, wat kort is vir Oranje-Vistonnel). ’n Suid-Afrikaanse maatskappy was aan die hoof vir die middelste deel (hulle basis was ’n dorpie wat Midshaft genoem is), en ’n Franse maatskappy was verantwoordelik vir die uitlaat by ’n dorpie genaamd Teebus (die naam kom van ’n nabye berg wat soos ’n outydse teehouer lyk).

'n Ou verwaarloosde struktuur staan steeds waar die ou watertoevoerpunt dekades gelede in Teebus was.

Alles was op die allerhoogste standaard en geen onkoste was te veel nie. In die herdenkingsboek van die Oranje-Vistonnel, wat in 1975 gepubliseer is, staan geskryf dat die klein dorpies wat tydens die projek gevestig is “amper heeltemal selfonderhoudend was, met hulle eie elektrisiteitsnetwerk, rioolwerke, paaie, mediese klinieke, laerskole, administratiewe personeel en blyplek vir vakmanne. Daar was ook al die nodige ontspannings- en sportgeriewe (soos swembaddens, beligte tennisbane, rugbyvelde, ens.), behuising, kantoorgeboue, vergadersale, inkopiesentrums, banke en ander toepaslike geriewe”.

Besoekers van die Cradock-distrik wag vir 'n gids voordat hulle in die binnewerke van die tonnel verdwyn.

Daar is ook in dié boek aangeteken dat die bou van nuwe paaie “ ’n deel van Suid-Afrika vir mense oopgemaak het wat nooit vantevore deur iemand anders as ’n handjievol boere van die Suurberg-plato gesien is nie”.

’n Plaaslike ingenieur van die departement van waterwerke, WJR Alexander, het in ’n stadium opgemerk dié tonnel is “50 myl van risiko’s en onsekerheid”. Hy was ook reg. Dit was gevaarlike werk wat amper pynlik-noukeurig en presies gedoen moes word. Daar was deurentyd rotsstortings van modder- en sandsteen, ontploffings en grondwatervloede namate hulle deur die klipharde doleriet moes boor. Een van die metaangasvure het vir maande lank gebrand en dit was so warm dat dit tot rotse laat smelt het.

Nie minder nie as 102 mense het tydens die bouwerk gesterf. Die tonnel se herdenkingsboek gee erkenning aan hulle: “Sommige van die oorledenes is van ver lande; die tonnel is nou hulle blywende monument.”

Sommige plaaslike boere onthou steeds die opwinding van al hierdie uitlanders wat in die laat 1960’s hulle intrek gemaak het. Saam met hulle het daar ook bioskope, inryteaters, Olimpiese-grootte swembaddens en sosiale klubs hulle opwagting gemaak . . . daar is konserte gehou en in ’n stadium is daar meer Italiaans in en om Venterstad gepraat as Engels of Afrikaans.

Die water word een keer per jaar toegedraai. Dan vloei daar net ’n klein stroompie water deur die tonnel, sodat die departement van water en sanitasie onderhoudswerk kan doen deur die kleppe reg te maak, die tonnels plek-plek weer waterdig te maak, en enige slytasie wat deur die konstante vloei van water veroorsaak is, te herstel.

‘Die weer was ekstreem’

Dave van Heerden, wat nou in die Wesrand van Johannesburg woon, was ’n jong seun toe sy pa op Midshaft begin werk het. “Ek onthou nog steeds die bioskoop en die winkel daar . . . dit was omtrent soos ’n mini-Makro. Daar was 150 kinders saam met my in die skool, almal tussen gr. 1 en standerd 5 (gr. 7). Die weer was ekstreem. Ek het nog ’n skyfie-foto wat my pa van my geneem het, waar ek in die sneeu speel – op 16 Desember 1970!”

“Dit het nogal ’n groot indruk op my gemaak toe hulle ’n enorme tonnelmasjien uit Frankryk daar aangebring het. Die masjien het miljoene rande gekos. Dit het vorentoe beweeg op sulke snaakse klein pennetjie-pootjies. Ek is amper seker daarvan dat hulle dié ding sommer iewers in een van die ondergrondse tonnels gelos het.”

Die Oranje-Vistonnel is so lank, die ingenieurs se berekeninge moes die kromming van die aarde ook in ag neem. Oor die lengte van die tonnel het wetenskaplikes van die geologiese opmeting van Suid-Afrika abnormaliteite in die gravitasieveld opgemerk, en daarom moes aanpassings in die meettegnieke gemaak word, om enige “gelykmakingsfoute” te beperk.

Ingenieurs het van lasers gebruik gemaak – dit was toe regtig die heel nuutste tegnologie – om die tonnel reguit te hou terwyl die myners deur die soliede klip moes grou. Die berekeninge was op die ou einde so akkuraat dat die spanne wat die verskillende dele van die tonnels gebou het met net 4 mm uit skatting was toe hulle deurgebreek het om mekaar te ontmoet.

Tonnel-feite:
  • Sowat 2.5 miljoen kubieke meter se klip is met die grou van die tonnel verwyder. Dit is genoeg om twee Empire State-geboue te bou.
  • Daar is weekliks 14 000 ton grootmaat-sement ingery.
  • Die tonnel is 5.33 m in deursneë. Dit is breed genoeg vir ’n trein om daardeur te kan ry.
  • Die tonnel is binne afgewerk met 842 000 kubiekemeter se beton.
  • Tot vandag toe is metaangas ’n groot gevaar, en as gevolg daarvan word slegs dieselbakkies in die tonnels toegelaat.
  • ’n Spesiale ryding is gebou waarmee inspeksies in die tonnel gedoen is. Dit het ’n dieselenjin gehad en al die elektriese bedrading is verseël, met ’n kajuit voor en agter, sodat dit makliker sou wees om vorentoe en agtertoe te ry. ’n Fiets is ook daaraan vasgemaak, ingeval iets sou verkeerd loop en die bestuurder dan op ’n ander manier uit die tonnel moes kom. Niemand weet egter wat hiervan geword het nie.

Die eerste water wat deur die tonnel gevloei het, het in 1976 van die Gariepdam af gekom.

Charles Jordaan, ’n boer van die omgewing, onthou steeds die dag wat die tonnel geopen is. Almal het gestaan en wag om die water te sien. En toe dit kom, het tonne vis ook van die dam af deurgekom. “Ons het hulle met nette gevang en bakkievragte vol weggery . . . almal het daarna gesmul aan die karpe en barbers.”

Vervalle spookdorpies

Die dorpie van Oviston bestaan steeds. Dis ’n stil toevlug vir vakansiegangers en afgetredenes wat nou in die ou ingenieurskamp se opslaanhuisies met hulle pragtige uitsig oor die Gariepdam bly.

Die ingenieursdorpies van Teebus en Midshaft het vervalle ou spookdorpies geword. By Teebus, waar die Franse tonnelbouers gebly het, het ghwarriebosse stadig maar seker die steen- en klipwerk van die ontspanningsentrum toegegroei. Die massiewe swembad is nog steeds daar, mét die hoë duikplank. Hier en daar staan nog ’n populier of ’n tropiese balataboom wat in die jare toet daar geplant is. ’n Geroeste teken begroet ’n mens nog saam met die akkedisse en rooivlerkspreeus . . . of dalk is dit ’n stille vermaning: “Swemdrag moet ordentlik wees”.

Kyk, daar bo is sonlig! Met dié lang leer klim werkers af na die tonnel van 5.33 m in deursneë. Dit is breed genoeg vir ’n trein om daardeur te kan ry. In hierdie ondergrondse wêreld van beton gaan ’n besoeker se verbeelding maklik op loop . . . en dié interessante en leersame uitstappie word beslis nie aanbeveel vir iemand wat kloustrofobies is nie!
Water vloei van die Gariepdam af deur die tonnel tot in Cradock, Cookhouse, Somerset-Oos, Grahamstad en Port Elizabeth. Dit is ? lewenslyn vir uitvoergewasse en sitrus wat in en om die geweste van Addo en die Sondagsriviervallei gekweek word.Foto:
Van 1976 af is die Groot Visrivier ? konstante vloeiende rivier, eerder as ? seisoenale spruit wat dit voorheen was. Dit was nie lank voor roeigeesdriftiges dit as ? kanoe-aantreklikheid ontdek het nie, en nou is die Visrivier-kanoemaraton een van die grootste sportgeleenthede in Oktober.Foto:
Daar is gewoonlik ? magdom water wat deur die uitlaat druis.Foto:
Een van die “peperpot”-kleppe wat gebruik word om die water stadiger te laat vloei voordat dit by die Groot Visrivier inloop via byriviere.Foto:
Meer oor:  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.