Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die Tuinroete se blomme van hoop

Heleen Coertze ry een Saterdagoggend vroeg ooswaarts op die N2 uit ’n nat George met die Tsitsikammawoud as eindbestemming. Dit is dieselfde pad wat sy twee jaar gelede, net ná die verwoestende veld- en bosbrande, gery het om na die verskriklike brandskade te gaan kyk.

’n Ontploffing van kleurryke Watsonia borbonica teen die pad naby die Stormsrivierbrug langs die Tuinroete. Foto: JAN COERTZE

Die N2 vanaf George na Tsitsikamma is voorwaar een van die heel mooiste dele aan die Tuinroete. Groot, massiewe bome met lieflike name soos suurbessie en Celtis africana (witstinkhout) omsoom in sekere gedeeltes die pad. Meng dan die heerlike soet geur van die Buddleja salviifolia (saliehout), spierwit varkore of wilde dagga wat verskillende tye van die jaar blom en jy het ’n allesomvattende hemelse ervaring.

Met wisselende reënpatrone wat eerder skaars as reëlmatig is, was die Suid-Kaap onlangs wel onder die gelukkige streke wat goedheid uit die hemel ontvang het. Wanneer jy direk daarna hoor dat daar nou massas pienk en oranje Watsonia borbonica of te wel watsonias (in Afrikaans ook bekend as die suurkanol of kanolpypie) langs die teerpad naby die Stormsrivierbrug pronk, is daar nie veel verskonings om nie dadelik in die pad te val nie.

Vanaf George draai die N2 see se kant toe. Die magies mistige mooi buite resoneer voelbaar met die kinderlike verwondering van die insittendes van die voertuig.

Terwyl jy moeitevry en wetsgehoorsaam teen 60 km/h deur Kaaimanskloof gly, verstaan jy eensklaps hoekom dié stukkie pad met sy diep klowe een van die kopkrapperdele vir die padbouers tussen Kaapstad en Port Elizabeth in die middel 19de eeu was.

Die huidige pad kruis die Kaaimans- en Swartrivier met ’n vrydraende betonbrug oor Kaaimansgat waar die gewilde Kaaimans-restaurant sy besoekers met soesji en pizzas lok en waar jy elke dag van 08:00 tot 17:00 kan kajak.

Die dorp Wildernis word omsoom deur die Wildernis Nasionale Park en vorm deel van die Tuinroete Nasionale Park waar die beleid van “bewaring sonder grense” beoefen word.

“Dié nuwe model plaas nogal ’n groot onus en medeverantwoordelikheid op die meer as 1 000 private eienaars wie se grond die park en bewaarde gebied omsoom,” laat my reismaat val.

’n Watsonia-blom Foto: WIKIPEDIA

Voordat jy egter te diep insak in die vraagstukke en slaggate van bewaringsbeginsels, ry jy verby Wildernis en Timberlake, met sy eiesoortige winkeltjies, tot in Sedgefield met sy Mosaiëkroete.

Ons hou verby die bekende Sedgefield-boeremark wat elke Saterdag, regdeur die jaar, ’n groot gunsteling van die plaaslike inwoners is. Vanoggend is geen uitsondering nie en dit lyk of die hele Gauteng en Kaapstad ook hier kom uitspan.

Die Ganzvlei-melkplaas, net voor die Buffelsbaai-afrit en die Goukammarivier, lê soos altyd pastoraalgroen reg langs die pad.

Die Phantompas-afrit wink links en herinner jou om volgende keer die Sewepasroete van duskant af “terug”, deur die stilte van die woud, te ry Saasveld toe.

Knysna is meregebied, maar vandag is daar geen optimistiese seilbootjies op die water te sien nie. Knysna lê slegs 64 km van George. In die dorpie is dit die gewone Saterdagoggend-miernes. Ten spyte van die misreëntjie lok die oulike kunswinkels, koffiewinkels en bekende Thesen-eiland steeds optimistiese toeriste.

Tussen Knysna en Plettenbergbaai sien jy kort-kort ou plantasies met nuwe denne-aanplantings. Die boompies staan regop en kordaat in gelid en jy hoor behoorlik hoe hul wortels die klam grond inskiet.

Dis juis langs dié strook pad waar die verwoestende veldbrande van 7 tot 12 Junie 2017 groot gebiede vernietig het. Die riller was nog nie verby nie – skaars ’n jaar later, teen die einde van Oktober 2018, beleef die Tuinroete ’n inferno wat glo vier keer die grootte van die 2017-brande was. Volgens die gesamentlike operasionale sentrum se verslag is daar toe binne tien dae meer as 86 000 ha deur veldbrande in die Tuinroete vernietig.

Deesdae is daar massas heuphoogte pienk heide naby Bloukrans se rekspring-stilhouplek en verder aan by Witteklip rek hulle kophoogte toe. Jy is nou in Sara Baartman se wêreld en die Lottering- en Elandsbos-plantasie rits langs jou verby. By die Tsitsikammawoud se Groot Boom hou die kalanders wag oor die pad soos pligsgetroue soldate.

En dan sien jy dit . . . spikkels van pienk, salm en oranje wat jou flambojant op dié klam Saterdagoggend inwag. In hul beste feesklere wieg en swaai die lelies van die veld hul koppe asof in ’n rumba.

’n Ongelooflike kleurespel vrolike watsonias waai, jubel en dans op die maat van die stuitige somerreëntjie.

Jy hou summier stil, trek van die pad af en omhels dié stukkie hemelse genade met oop arms. Jy verkyk jou aan die lang, smal blare wat ’n waaier rondom die basis vorm en die salm en oranje kleure wat subtiel wissel in skakerings.

Die verruklike skouspel van veelkleurige pypie-agtige blomme, afgeëts teen grys-swart verbrande stamme, is seerkry-mooi.

“Watsonias is daarvoor bekend dat hulle uitsonderlik blom wanneer goeie reënneerslae ná ’n bosbrand volg,” laat my ingeligte reismaat gepas val.

“Tekens van konkrete hoop,” herdoop jy summier die slanke bolplantjie met die wegry-slag.

Wanneer jy dink dat daar ná ’n brandverwoesting niks, maar niks, ooit weer hier kan groei nie, dán juis ontplof hier ’n kleureskouspel net nadat die hemelsluise sy genade-deure oopgegooi het.

Jy dink skielik aan die papawer wat hoop simboliseer in Pablo Picasso se ikoniese skildery Guernica en ry dankbaar en verwonderd terug huis toe.

Meer oor:  George  |  Tuinroete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.