Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die waterman kom

Dit verg ’n spesiale mens om dag ná dag in die dorre Karoo na water te soek om verligting te bring vir duisende mense wat gebuk gaan onder die felste droogte in eeue. Elsabé Pienaar het twee dae saam met hom deurgebring.

Elke klip verskaf ’n leidraad aan die waterman dr. Gideon Hendrik Groenewald, oftewel Oom Gideon Waterman. Foto: Elsabé Pienaar

In die bloedige oggendson stap ’n man net buite Bedford tussen miershope rond. Hy loop die GPS-sein op sy selfoon na, en kyk af en toe na die lesings van die magnetometer wat op sy bors hang.

“Hieeeerie klippe! Hieeeeeerie klippe maak my bly,” sê hy, soort van vir homself.

Uiteindelik staan hy stil en maak met sy skoenpunt ’n merk neffens ’n bos. Dan gryp hy die naaste merker, ’n leë pakkie aartappelskyfies wat rondwaai, en pak dit vas met ’n stuk van ’n ou miershoop.

“Pheello kan hier kom boor,” sê hy en wys opgewonde na twee vae lyne wat vanoor die bult aankom tot by die skyfiesakkie.

“Kyk net! Dis die ossewapad van Adelaide se kant af! Ek wou sê ek het die spore op die GPS gesien!”

Boorselhopies praat met Pheello en Oom Gideon Waterman en wys presies hoe geboor moet word. Foto: Elsabé Pienaar

’n Alleenkind van Aliwal-Noord

Dit vat langer vir ’n ongeoefende oog om die uitgetrapte pad tussen miershope en gras te eien, maar skielik besef ’n mens jy staan in die pad waar die gerammel en gekraak van ou transportwaens eens opgeklink het.

Dít is maar net een van vele verrassings wat op ’n mens wag as jy twee en ’n halwe dae in Dr Gideon Hendrik Groenewald se spore loop.

Oor oom Gideon Waterman, soos hy beter bekendstaan, kan ’n mens ’n boek skryf. Of twee. In sy 64 lewensjare op aarde het hy al nege lewens ingepas, ’n unieke doktorsgraad verwerf en báie kilometers op Suider-Afrikaanse bodem te voet afgelê.

“Ons het brandarm grootgeword,” vertel hy. “My pa was ’n onderwyser, en ek was tot St.5 op Aliwal-Noord op skool. Ek was toe al ’n alleenmens en het meestal smiddae ná skool in die berge rondgeloop. Op 12 het ek my eerste dinosourusbeen opgetel en op 13 my eerste boorgat gesink, met ’n boor wat ek van ’n ou tennisnetkabel en ’n wa-as gemaak het. Die gat was 18 voet diep en gee steeds water.”

Vandag wil almal raad vra by oom Gideon Waterman, wat reeds meer as 40 jaar se ervaring as paleontoloog en geohidroloog het. Selfs tydens ’n ure lange motorrit is ’n behoorlike gesprek met hom moeilik, want kort-kort bel ’n boer, ’n boorman of ’n burgemeester. Almal soek eintlik net een ding: water.

Klippies. Foto: Elsabé Pienaar

‘Ek soek krake, God gee water’

Oor sy fyn vermoë om ’n boorplek akkuraat aan te wys, het hy geen illusies of ’n heldekompleks nie. Hy is in die eerste plek ’n gelowige, en dan wetenskaplike.

Klippies maak Oom Gideon Waterman bly, want in hulle kwartskrakies sien hy die moontlikheid van water so diep as 60 m onder die grond. Foto: Elsabé Pienaar

“Ek kan nie water onder die aarde ‘sien’ nie. Ek bid elke nag tussen 01:00 en 04:00 en vra vir God se leiding. Ja, ek gebruik my wetenskaplike kennis en ervaring en moderne tegnologie, maar ek beoefen my wetenskap in afhanklikheid, en slegs binne die wil van God. Onder Sy leiding soek ek wel die krake, maar God gee die water!”

Die oproepe na sy selfoon hou aan. Sutherland, Makhanda. Hammanskraal, Worcester, De Aar, Cradock. “Oom Gideon,” dreun ’n Karooboer se stem, asof hy raad vra by sy pa. “Wat sê oom gaan die weer maak?” Oom Gideon draai nie doekies om nie. “Die predikant van ’n Karoo-gemeente het my onlangs gevra om tydens hul oggenddiens te praat. Mense waardeer nie noodwendig my boodskap nie, want ek sê nie wat hulle graag wil hoor nie. Maar dis my mening as ’n gelowige: mense moet, vir die spesifieke duur van hierdie droogte­siklus, nie net bid vir reën nie, maar eerder vir wysheid oor hoe om die droogte te oorleef.”

Sy Gift of the Givers-bakkie ry ’n woonbuurt van Bedford binne en inwoners maak plek vir die voertuig, soos die Skelfsee wat skei vir die Israeliete.

“Gift-o-vah-Giv-aaaas!” roep kinders uit en hardloop agter die bakkie aan. ’n Stofwolk slaan die lug in by ’n skool waar een van Martyn Landmann se boorspanne werskaf.

Mario Ferreira, oom Gideon en Dr Imtiaz Sooliman. stigter van Gift of the Givers, hou ’n dankbare nabetragting. Hulle kon op hierdie dag 71 boere help met veevoer. Foto: Elsabé Pienaar

“Pheello, hoe lyk dit?” vra oom Gideon met die stilhou, en die boorman staan nader met klippies in die hand.

“Die Zulu’s noem my ‘Die man wat klippe eet’ en dan sê ‘skuif die boor’,” verduidelik oom Gideon en steek summier ’n boorseltjie in sy mond. Só wik en weeg die geoloog en boorman heeldag saam: moet hulle dieper boor of elders heen skuif?

“Skuif, net 12 meter” besluit hulle, en die beloning daarop kom wanneer Pheello ure later opgewonde laat weet: “die manne het sterk water gekry!”

Oom Gideon Waterman juig, en bereken dadelik hoeveel kinders daagliks uit dié gat drinkwater kan kry. Dít is die dryfveer agter alles wat hy deesdae doen: die kinders.

“Die Karoo het 1 000 jaar laas so ’n droogte beleef, en mense besef nie die erns van die situasie nie. Gebaseer op wat die wetenskap ons leer van die droogtesiklusse in die geskiedenis van die aarde, ly dit geen twyfel dat ons tans ’n uitsterwingsfase beleef nie. Krane is leeg, en ons maak weer ’n generasie van waterdraers groot, in plaas van ’n generasie van ingenieurs,” verwoord hy sy frustrasie.

Oom Gideon Waterman, ’n paleontoloog en geohidroloog wat medelye en opoffering versinnebeeld. Foto: Elsabé Pienaar

“Nou sal jy seker wil weet hoekom boor ons dan by skole, en herstel ons nie eerder net die munisipale waterbronne nie. Gift of the Givers is versoek om as amptelike ‘noodhulpspan’ in te gryp waar ’n waterkrisis gemeenskappe in die gesig staar. Ons kan egter nie net ’n munisipale gebied binnevaar en oorneem nie. Gelukkig het ons ’n wedersydse vertrouensverhouding met die departement van onderwys, wat ons toelaat om binne die grense van enige skoolterrein te boor.”

Beperk dit hom as geoloog nie? Hy skud net sy kop. “Kyk nou maar na Graaff-Reinet: ons boor by skole in die hoogste dele van die berg waar ’n mens moontlik met ’n boor kan uitkom. G’n geoloog wat by sy volle verstand is, sal ooit so hoog gaan boor om vir ’n gemeenskap water te gee nie. Maar óns werk in geloof.”

Op ’n plaas net buite Adelaide word die waterman hartlik begroet deur die neutboer Allan Ballyntine. Hy’t oom Gideon se doktorale proefskrif geleen: maklik twee Bybels dik. “Ek het twéé promotors gehad, omdat die helfte van my PhD eintlik in paleontologie was,’ verduidelik hy.

“Maar omdat paleontologie nie in 1996 van enige waarde geag is nie, het ek op papier net ’n doktorsgraad in geologie.”

Oom Gideon vertel dat ’n deel van sy navorsing hom en sy twee assistente, Baba Tshabalala en Johnny Nonyane, oor 11 jaar 40 000 km in die Karoo laat stap het. Dit lyk nie of sy liefde vir klippe of fossiele ooit uitgewoed sal word nie. Hy stop maklik langs die pad en wys eers hoe klein die krakies is waarin ’n mens die grondwater aantref.

“Die krake is meestal sowat 3 cm breed en duik teen hoeke van 80° tot 90° in die grond af. Juis daarom moet ’n boorman sy storie ken om hulle op 60 meter raak te boor.”

Ongekende vreugde vir die kinders (en volwassenes) van Geluksdal op Graaff-Reinet – daar is weer water! Foto: Elsabé Pienaar
Dit is bloedig warm en kurkdroog – maar opeens dans Geluksdal se kinders die riel in boorgatwater, danksy die werk van Gift of the Givers. Foto: Elsabé Pienaar
Gift of the Givers boor nie net vir water nie, maar staan ook boere met droogtehulp (en die vervoer daarvan) by. Foto: Elsabé Pienaar
Lede van Gift of the Givers, van links, Hester Obermeyer, Mario Ferreira, oom Gideon Waterman, Martyn Landmann, Rashied Prince en Ali Sablay. Foto: Elsabé Pienaar

Laat die kinders baljaar . . .

Dis ’n dag later. Die son brand en onder ’n boom by ’n skool op Graaff-Reinet staan twee mans diep in gesprek gewikkel. Die een is lank, ’n boerseun uit die Noord-Kaap, gebeitel deur jare se son, wind, en helaas, swaarverdiende lewens­ervaring. Die korter, donkerder man het ’n sagte glimlag en wag geduldig vir die hoogtepunt van die middag: ’n nuwe boorgat gaan skoongeblaas word. Hordes kinders wag saam, onbewus daarvan dat dié korter man aan die stuur staan van die grootste humanitêre organisasie in Afrika.

Daar is mense wat omgee . . . Dave Stern van die boereverenigingorganiseer die uitdeel van agt vragte GOTG voerskenkings. Foto: Elsabé Pienaar

“We are going to get wet here!” waarsku oom Gideon, maar dokter Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers (GOTG), bly staan. Miskien kry hy warm, want hy het pas toegesien dat agt vragte voer vir boere afgelaai word.

Boorman Petrus Mofokeng het die lugdrukmasjienerie aan die gang gesit.

“Daai man weet wat hy doen,” sê Martyn Landmann, wie se boorspanne al duisende kilometers se boorwerk vir GOTG gedoen het. In foutlose Suid-Sotho beduie Martyn iets vir die res van die span, en dan begin ’n gegorrel onder die boor. Met ’n luide “pffffsssst!” spuit die water soos lewegewende witgoud diep vanuit die aarde se maag die hoogte in. Kinders kruip jillend onder die veiligheidstoue deur om in die water te baljaar.

“Hôtr! Hôtr!” kom nog ’n klomp kleintjies aangehardloop, en grootmense suiker ook nader.

“Ons krane het lankal nie meer water nie,” sê een met haar oë op die spuitende boorgat. ’n Mens kan nie met sekerheid sê wat in haar gemoed omgaan nie. Dankbaarheid? Die hoop om die stryd om oorlewing nog ’n tydjie langer voort te sit?

Dit is ’n hartroerende gesig. Kinders dans in die “reën”. ’n Boorspan Sotho-manne staan breëbors, maar nederig – nog ’n skool is gehelp, nog ’n duisend kinders het 10 liter water ’n dag. Honderde lyfies staan tou agter ’n bakkie waar bottels water uitgedeel word. Die kleintjies heel voor word amper papgedruk deur die beurende dorstiges van agter, maar ’n paar kwaai anties klim sommer met houtlepels onder hulle in. Dan sink die werklikheid by ’n mens in: hier lê ’n rampgebied voor jou.

Elsabé Pienaar

Uiteindelik draai die wit GOTG bakkie se neus weer Noord – die boere in die Sneeuberge by Cradock soek raad.

Slaap hy ooit? wonder ’n mens. Dit sit nie in enigeen se broek om dié pas vol te hou nie.

“Ek werk tot ek moeg voel, dop om, en werk weer sodra ek wakker word, want ons ís midde-in ’n katastrofe. Ek is maar net ’n klein ou stukkie in ’n veel groter legkaart,” is oom Gideon Waterman se filosofiese antwoord.

Meer oor:  Gideon Groenewald  |  Karoo  |  Droogte  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.