Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Dis hemel innie Hel, ou pel!

Die Warm Plek...Elke jaar in November trap 'n paar honderd bergfietsers al die pad van De Hoek-vakansieoord in die Swartberge af tot binne in Die Hel. Lees gerus voort indien jy ook graag per fiets in die Gamkaskloof wil gaan kuier.

Klassiek. Dis seker die beste manier om die jaarlikse To Hell & Back-bergfietsbyeenkoms te beskryf. Daar’s oneindig lange gruispaaie; daar’s steil bergpasse; daar’s snikhete somertemperature (en soms sneeu bo by Die Top); en daar is hope legendes. Die resies is vir seker ’n classic as dit by bergfietsbyeenkomste kom.

Dié tweedaagse heen-en-weer-rit deur die Swartberge in die Klein-Karoo is Suid-Afrika se oudste multidag-MTB-ren. Vanjaar is dit vir die 26ste keer aangebied deur die Ecobound-span – die eerste byeenkoms was in 1995. Dit wil gedoen wees, veral as ’n mens in ag neem dat 2020 nou nie juis die maklikste jaar was om ’n bergfietsbyeenkoms te reël nie (en dat die meeste van Gamkaskloof laasjaar deur ’n brand verwoes is).

Verwag landskaptonele van wolkekrabberkranse en die blou van onse hemele wat om jou vou.Foto’s: Jacques Marais

Die dikwielbrigade het egter hare op hul tande. Verlede maand het sowat 250 trappers naby die Kango-grotte begin saalboom steek. Van hier af het hulle gehyg en ge-hoera vir amper 70 km, tot diep in die hartjie van Gamkaskloof. Die meeste mense ken hierdie verlate vallei as Die Hel, en die enigste manier om daar uit te kom is met ’n doodloop-bergpas wat deur die onherbergsame Swartberge se ruwe rante en pieke kronkel. Die pas is reeds taai in ’n viertrekvoertuig, so moenie vra hoe jy gaan sweet en swets op jou fiets nie . . .

Dis wat die To Hell & Back-ren so spesiaal maak – die swaarkry maak jou tawwer en gewoonlik is daar digby 600 deelnemers wat hul staal hier kom toon.

Ná ’n paar uur van kwieng-kwang klimme en kuite wat kramp, bereik jy uiteindelik Elandspas, ’n wit-kneukel afdraand met 26 es-draaie en ’n yskoue Darling-bier of twee wat onder op jou wag.

Elandspas is ’n ’n wit-kneukel afdraande met 26 es-draaie.

Daar’s vure wat brand en ’n braaiplek met jou naam op, en dan praat almal ná die tyd sommer groot stories. Dis gewoonlik ook dan tyd om daai moeë bene ’n blaaskans te gee; so, gaan koel af in ’n bergpoel of plons in die swembad en laat die stilte oor jou spoel.

Want môre pak jy douvoordag weer die roete, en die Elandspas wag!

Die roete

“Jou ma se pas, man” . . .

Jip, dis soort van die mantra wat in jou agterkop eggo wanneer jy die Swartberge vir die eerste keer met ’n bergfiets aanpak. Vra maar vir my, want ek het die roete tot daar in Die Hel ’n hele paar keer gery – van albei kante van die berg af.

Dis ’n openbare pad, wat beteken dat enigiemand dit enige tyd van die jaar op eie stoom kan ry, dus hoef jy nie te wag tot November voor jy jou bergfiets opsaal nie.

Ek verkies persoonlik om van Prins Albert se kant af te trap, met tonele van wolkekrabberkranse en die blou van onse hemele wat jou inwag, terwyl jy opkyk na waar Thomas Bain se dramatiese bergpad wag.

Ry in Prins Albert se hoofstraat af in die Swartbergpas se rigting.

Dis ongeveer 4 km tot waar ’n mens regs afdraai op die Gamkaskloof-grondpad, en dan omtrent 12 km se klim tot bo waar jy weer regs draai, af na Die Hel toe.

Die Swartberge is van die mees dramatiese landskappe vir ’n bergfietsryer om te verken. Foto: Jacques marais

Maak skoene nat by Eerste Water en hou moed by Droë Waterval verby voor jy die laaste paar kilometer se klim tot bo-op Teeberg vermag. Die piekniek­tafeltjie daar lyk aanloklik, maar Die Hel lê nog goed 50 km ver, en amper drie uur in die saal vir ’n oom soos ek.

Die pad is lank en swaar van hier af tot in Gamkaskloof, met ’n padpredikant wat in groot wit letters verkondig “Gevaarlike Pad vir 48 km”.

Dit laat ’n mens nou nie juis oorloop van selfvertroue nie (en jou moed knak nog verder wanneer jy besef dis glad nie afdraand van hier af nie!)

Doer ver teen die hardekwashange wag Heartbreak Hill op jou, en as dit nie dynserig is nie, sien jy die gruispad wat vir kilometer op kilometer soos ’n moerige koperkapel teen die berghange langs sweep slaan.

Klits die pedale verby Oom Kosie se Klip met die gewuif van fynbos rondom jou en die kranse wat antwoord gee wanneer jy jouself hard moet moed inpraat.

Die laaste klim voor Elandspas is genadeloos. Dis hoekom ek maar altyd ’n ekstra paar nartjies, ’n stuk droëwors, gemmerkoekies en neute inpak: dit proe beter as enige energiestafie, en werk net so goed.

Die lekker gaan jou lank moet hou, want hierdie hartebreker van ’n klim voel of hy nooit gaan ophou nie.

Ek hou gewoonlik op tel, maar daar is minstens vier of vyf vals draaie waar jy kan sweer jy’s bo. En dan besef jy die pad swenk nog ’n slag of twee teen die horison uit daar bokant jou . . .

En dan is jy uiteindelik bo-op die kruin, met die dramatiese Swartberge wat 360 grade rondom jou uitkring, so ver as wat ’n mens kan sien.

Gamkaskloof self strek so reguit soos ’n roer in die vallei af, en met loodregte kranse waar witkruisarende gereeld teen die blou lug sweef.

Dis iets wat jy nie wil misloop nie, maar maak seker jy is goed fiks voordat jy die pas op ’n fiets pak!

Vir die dapper trappers

Volgende jaar se To Hell & Back-bergfietsbyeenkoms vind plaas op 13 en 14 November. Besoek www.ecobound.co.za om in te skryf of vir meer inligting oor volgende jaar se resies.

As jy die pas op eie stoom wil ry, is daar talle verblyfopsies in die omtrek. Bespreek vir jou selfsorgverblyf in Die Hel, wat deur Cape Nature bestuur word.

Besoek www.capenature.co.za vir meer inligting oor verblyf in Gamkaskloof en die Swartbergnatuurreservaat.

Oudtshoorn is sowat 500 km vanaf Kaapstad. As jy in Oudtshoorn is, ry uit op die R328 in die rigting van die Kango-grotte. Die De Hoek-vakansieoord is 8 km verby die grotte, 35 km vanaf Oudtshoorn. Besoek www.dehoekmountainresort.co.za vir meer inligting.

Vir nog idees oor opwindende bergfietsroetes, en idees en inligting oor die nuutste bergfietsbyeenkomste besoek mtbroutes.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.