Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Durf dié nuwe roete op Kaappunt aan

Daar is ’n (relatiewe) nuwe staproete in Kaappunt en dis ’n lushof vir enige buiteliefhebber, skryf Jannie van Rensburg.

Die eerste klim van die dag neem jou na ’n uitkykpunt met ’n uitsig op die vuurtorings.Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Eers die slegte nuus: Kaappunt, soos party mense steeds dink, is nié die mees suidelike punt van Afrika nie. Dis ook nie die bymekaarkomplek van die Indiese en Atlantiese Oseane nie. In albei gevalle kom dié eer Kaap Agulhas toe.

Dit doen egter geen afbreuk aan dié sonderlinge natuurreservaat aan die mees suidwestelike punt van ons vasteland nie!

Skaars ’n uur se ry uit Kaapstad bevind jy jou in die rustigheid van ’n natuurlike omgewing wat plant- en diersoorte in oorvloed bied. Meer as 1 000 plantsoorte is reeds hier op Kaappunt aangeteken.

Daar is ’n verskeidenheid staproetes, soos dié na die vuurtoring – daar is twee torings, glo dit of nie! Jy kan selfs ’n tand­rat­spoor­kar oftewel funikulêr soontoe neem as die trappies boontoe te veeleisend lyk. Die eerste vuurtoring is in 1859 opgerig en staan 238 m bo seespieël.

Vanweë sy hoogte is die toring egter dikwels in digte mis gehul, en talle skepe het al op die rotse geloop omdat die lig nie gesien kon word nie.

Hierdie vuurtoring het in onbruik verval en ’n tweede een is in 1911 effens laer opgerig. Dié een se lig kan 60 km ver gesien word en is steeds in gebruik.

Daar is ook etlike dag- en oornagstappe in die reservaat. Buite het onlangs berig oor die sirkelvlei-stap wat jou onder meer verby twee skeepswrakke neem.

’n Nuwe staproete is onlangs geopen. Dit begin op die Kaappunt-parkeerterrein, of by Hoek van Bobbejaan in die omgewing van Gifkommetjie.

’n Stel houttrappies lei jou af na die beskutte strandjie.

Jy trek weg by die een punt en eindig by die ander punt. Dit help natuurlik om twee voertuie te hê, wat by die begin- en eindpunt gelos word.

Dit is ook raadsaam om vroeg in die pad te val omdat parkeerplek op Kaappunt soms ’n nagmerrie kan wees – veral oor naweke!

Die roete self is so 10 km en behalwe vir so ’n effense klim en afdraande naby die begin, en nog ’n klim teen die einde, is die roete meesal plat en op die strand.

Sowat ’n uur nadat jy begin stap het, lei die paadjie jou teen ’n steilte op. Daar is ’n uitspanplek waar jy jou rugsak kan neersit en die omgewing rondom jou kan geniet.

Wees tog net bedag op bobbejane wat die kos uit jou rugsak sal gaps as jy anderpad kyk.

Van die uitkykpunt af lei trappies jou af na die see, waar ’n gewilde landmerk aandui dat jy nou op die mees suidwestelike punt van Afrika staan.

Kees-se-kind. Toeriste wat oor die jare gedink het dis oulik om die bobbejane te voer, het veroorsaak dat die wilde diere al meer kordaat op jou kos aandring.

Daar is ’n teerpad van hier af, maar heel gou is daar voetpaadjies wat na die strand lei. Hou jou oë oop vir sebras, elande, hartbeeste en volstruise. Die volstruise van Kaappunt is uniek omdat hulle sover vasgestel kan word, die enigste in hul spesie is om op die strand te kom en mossels te eet.

Tussen die strand en die see is daar op plekke ’n begroeide sandduine. Met springgety spoel die see soms om hierdie duine, en jare gelede het die Khoisan hierdie natuurlike lokval gebruik om visse te vang.

Afgesien van die diereryk in die reservaat, is Kaappunt ook ’n lushof vir voëlkykers. Sowat 270 soorte voëls is tot dusver in die reservaat opgeteken, en sluit in die Kaapse vleisanger, suikerbekkies, rooivlerkspreeu, Kaapse kanarie en die bokmakierie.

Ons was gelukkig genoeg om ’n grondspeg, of Ground Woodpecker soos die Engelse dit noem, te sien.

Ofskoon dié knaap hom in ’n struik tuisgemaak het, is dit inderwaarheid die enigste heeltemal grondlewende speg.

Toeriste staan soms tou om by dié landmerk afgeneem te word.
Die grondspeg, oftewel Ground Woodpecker.

Omdat die staproete redelik onlangs maar oopgestel is, is die aanduidings nie oral baie duidelik nie.

Ná ’n verkwikkende stap van sowat 8 km strandlangs, moet jy begin uitkyk vir ’n paadjie wat regs uitdraai in die rigting van ’n heuwel.

Die paadjie raak al hoe steiler namate jy die heuwel uitklim, maar daar is plekkies waar jy kan rus en asem skep.

En voordat jy jou kom kry, is jy by Hoek van Bobbejaan, waar jy ’n voertuig sou gelos het waarmee jy na die ander punt op die Kaappunt-parkeerterrein te ry.

Meer oor:  Kaappunt  |  Staproete  |  Omgewing  |  Buite  |  Doendinge  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.