Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Eendag ry Erik dalk joberg2C

Die hele fietsrygemeenskap is in 2017 geruk toe die bekende fietsryer en eienaar van die Van Gaalen-kaasplaas in Skeerpoort naby Hartbeespoortdam, Erik Schipper (58), sy nek in ’n fratsbergfietsongeluk gebreek het. Hy is van die bors af ondertoe verlam en sedert die ongeluk destyds veg Erik ’n baie dapper stryd. ’n Mens sien hom nog gereeld daar in die tuin van die restaurant by Van Gaalen en die manier hoe hy altyd positief en opgewek is, ten spyte daarvan dat sy lewe in ’n oogwink handomkeer verander het, is altyd vir my ’n inspirasie.

Erik Schipper het al lankal gewys sy gestremdheid nadat hy in ’n frats­fietsongeluk was, gaan hom nie terughou nie.

So ’n tydjie terug het Craig Wapnick, ook ’n bekende figuur in bergfietsrykringe, op sy Facebook-blad aangekondig dat hulle besig is om geld in te samel om ’n spesiale fiets vir Erik te bou waarmee hy moontlik volgende jaar of die jaar daarna aan die bekende joberg2C-bergfietsbyeenkoms kan deelneem. Craig is een van die eienaars en organiseerders van joberg2C en sy hart was nog altyd op die regte plek as dit by fietsry kom. Hy het al diep spore in die land met sy rubberfietsbande gery (en getrap) en hy weet hoe fietsryers se hartklop klink.

Craig en Erik ken mekaar al amper 30 jaar en doerie jare al toe niemand anders bergfiets gery het nie, het hulle al die enkelspoorpaadjies daar by Van Gaa­len gaan uittrap. In die verlede het Craig ook al gehelp om spesiale projekte ten bate van Erik van stapel te stuur en die plan is om Februarie volgende jaar ’n dag propvol fietsryaktiwiteite by Van Gaalen te hou waar daar geld ingesamel sal word vir Erik se spesiale e-fiets waarmee hy dalk joberg2C of dele van die toer sal kan ry.

Hierdie tipe projekte maak my trots om ook ’n fietsryer te wees.

My vriend Mauritz Meyer het ook intussen laat weet dat hy die hele gemeenskap betrokke wil kry by die Bestmed Tshwane Classic wat op 3 November plaasvind.

Vanjaar is daar op die terrein van die Voortrekkermonument ’n veilige fietswedren vir voorskoolse kinders en enige kind met ’n fiets mag deelneem. Selfs babas in stootkarretjies is welkom en elke deelnemer kry ’n medalje.

Laerskoolkinders wat nog nie kans sien vir die padroete nie, kan ’n veilige roete van 5 km op die terrein ry. Daar is geen wenners nie, want almal wat deelneem is wenners.

Daar word ook voorsiening gemaak vir kinders met ’n gestremdheid wat graag wil stap of draf.

In samewerking met Crawford Schools en Katjiepiering Preprimêre Skool is projekte begin om proppe te versamel en sodoende rystoele te verkry vir behoeftige kinders wat dit nie kan bekostig nie. Elke rystoel verg 450 kg proppe (225 000 proppe word benodig vir een rystoel) en die gemeenskap werk pragtig saam om die doelwit van drie rystoele te bereik. Daar sal by die monument houers wees waarin mense proppe kan plaas.

Inskrywings vir die Tshwane-ren kan gedoen word by hecticpromotions101@gmail.com. Laat inskrywings kan by die registrasietafels op die monumentterrein gedoen word. Die geld wat uit die projekte genereer word, word aan welsynsprojekte geskenk om die omstandighede van minderbevoorregtes te verbeter.

Pretoria is die stad naas Washington wat die meeste ambassades huisves en baie ryers van die ambassades gaan aan vanjaar se ren deelneem.

Omdat die organiseerders betrokke is by herwinning en dit een van die projekte is wat gefinansier word uit die inkomste van die wedren, word daar vanjaar ’n uitstalling gehou om mense te motiveer om te herwin. Van die artikels wat uitgestal sal word, word tuis vervaardig deur van die projekdeelnemers. Die welsynsprojek SA Cycle for Food gaan ’n uitstalling hou van tuinornamente wat vervaardig word uit ou voertuigbande.

So, terwyl almal lekker kry op hul fietse en wonderlike tye geniet, kan dit ook gedoen word om mense wat dit nie heeltemal so maklik het nie te help.

Meer oor:  Joberg2c  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.