Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ek wil Thailand se marathon weer en weer beleef

Baie van my fietsry-vriende is ook so tussendeur hardlopers om hul oefenprogramme af te wissel, maar omdat hardloop nog altyd vir my baie minder natuurlik gekom het as fietsry, is dit nie iets wat ek gereeld of vrywillig doen nie. (Selfs die winkelassistent by die tekkie-winkel het my eenkeer een kyk gegee en gesê hy dink ook my beendere is te swaar vir hardloop.)

Die Suid-Afrikaanse deelnemers in Bangkok: Van links: Taryn Fernandez, Teresa Coetzee, Christeen Tait, Lee Ray Thompson, Jacqueline Reid en Karin Smit.

Toe die geleentheid hom egter onlangs voordoen om aan die derde Amazing Thailand Marathon in Bangkok te gaan deelneem, het ek net daar en dan in ’n hardloper ontaard. Dis nie ’n groot prys om te betaal vir die geleentheid om ’n oorsese reis te onderneem nie.

Die afgelope Sondagoggend het ons douvoordag in die Radjamangala-stadion in Hoea Mak saam met 29 883 atlete by die beginpunt van die verskillende afstande gestaan. Daar was 5 565 atlete wat aan die marathon (42,2 km), 11 051 wat aan die halfmarathon (21,1km), 10 677 wat aan die mini-marathon oor 10 km en 2 590 aan die pretdraf oor 5 km deelgeneem het.

Ek moet sê, daar is min dinge wat kom by die gevoel om saam met soveel duisende mense op die wegspringplek van ’n byeenkoms te staan – pure adrenalien en afwagting, met vreemde tale in jou ore.

Die deelnemers aan die verskillende afstande het almal vooraf verskillende kleure hempies gekry en dit het gesorg vir ’n onvergeetlik gesig toe almal soos ’n stroom deur die strate van Bangkok begin vloei het.

Ons het verby van Bangkok se mees ikoniese landmerke soos die Oorwinnings-monument, Wat Bentsjamabophit (Marmer-tempel, Ratstjadamnoen-laan (Thailand se “Champs-Élysées”), die Rama VIII-brug en die Wat Saket-tempel gehardloop. Terwyl ek soms net die plof-plof van die ander hardlopers se tekkies op die teer kon hoor, het ek soos die gelukkigste mens op aarde gevoel en net daar besluit dat ek hierdie ervaring weer en weer wil beleef.

Dis ’n wonderlike manier om ‘n stad of plek met jou tekkies te verken.

Die Thaise inwoners is sagte, vriendelike mense en hoewel ek bo die mans en vroue uitgetroon het, het hulle my nooit soos ’n buitestander laat voel nie. Die Thaise toerisme-organisasie (TAT) beoog juis om jaarliks meer buitelanders na hierdie ren te lok. Die inskryfgeld het nie net die hempies nie, maar ook ’n gratis ete ná die ren, ’n koeldrank en ’n roomys ingesluit en die waterpunte langs die pad was goed opgevul met water en selfs vrugte en roomys.

Ek kon die volgende dag byna nie loop nie (want ek is régtig nie ’n hardloper nie), maar Thailand is gelukkig bekend vir sy wonderlike spa’s en masserings, en ’n twee uur lange massering het met my skete en pyne klaargespeel. Daar is baie te sê oor massering by meerfasige marathons en baie kenners meen dit kan jou meer skade doen as goed as dit nie reg gedoen word nie. Ek glo wel dat as ’n masseuse sy of haar storie ken, kan dit tog help om die melksuur uit jou spiere te vryf en tot ’n vinnige herstel lei.

Terésa Coetzee

Dit was nie die eerste internasionale byeenkoms waaraan ek deelgeneem het nie. Die afgelope paar jaar nooi Chris Desjardins van Mauritius my na sy jaarlikse Mauritius Vets & Masters-fietstoer wat deur Beachcombers geborg word. Sedertdien is hierdie ren en eiland boaan my lys van gunstelinge. Ek het Mauritius op my fiets leer ken en steeds bly hierdie eiland my gunsteling-bestemming. Die fietstoer trek nie groot getalle fietsryers nie en juis omdat dit so klein is, is dit baie outentiek en persoonlik.

Die Tour de Maurice Vets & Masters is vanjaar van 18 tot 20 September en as jy nou al bespreek, kan jy baie goeie pryse vir jou vliegkaartjie en verblyf kry. Kulula.com bied juis nou vlugte en wonderlike vakansiepakkette na Mauritius aan.

Die melksuur van die Amazing Thailand Marathon is nog nie behoorlik uit my sisteem nie en ek is reeds weer in Ceres vir die jaarlikse Tankwa-Trek-bergfietsmarathon. Dit is die laaste groot oefenlopie voor die Cape Epic, wat in die middel van Maart aangebied word.

Mense vra my gereeld waar ek al die energie kry vir al die dinge wat ek doen. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig: Ek glo hoe meer jy doen, hoe meer kry jy gedoen. Dis ’n voorreg om aktief en gesond te wees en ek vergeet dit nie een dag van my lewe nie.

Meer oor:  Thailand  |  Marathon  |  Wedloop  |  Hardloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.