SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Buite
Elke dag, op en af

Andrew Patterson klim elke dag vanjaar Tafelberg uit en trek nou al by dag 256. Marzahn Botha het saam gaan klim.

Naby die einde van Platteklipkloof se 800 rotstrappe.

Dit is 07:00 op ’n Vrydag en die sneeu lê dik op die berge in die verte.

Ek ontmoet vir Andrew Patterson (38) in die parkeerterrein van die Tafelberg-sweefspoor. Vandag sal ons teen Platteklipkloof uitklim. Dit sal die 250ste keer wees dat Andrew Tafelberg vanjaar uitklim – en hy gaan dit nog elke dag tot 31 Desember doen.

As jy in Kaapstad woon, het jy waarskynlik al gehoor van die stap-verslaafde wat Tafelberg vanjaar 365 keer uitklim. Jy groepeer hom saam met avonturiers soos Riaan Manser of Braam Malherbe en dink iewers is ’n skroef dalk los.

Maar Andrew het besluit om hierdie ekstreme uitdaging aan homself te stel ten bate van drie liefdadigheidsorganisasies.

Hy noem sy filantropiese avontuur 365 Ubuntu Climbs.

“Dis verbasend hoe baie mense gedink het ek sal dit nie maak nie. Maar soos die tyd aanstap en ek nog net 115 klimme voor my het, vermeerder die vertroue in my,” sê Andrew.

Die sterkgeboude man met die groot kuite troon voor my uit. Soos ons teen die berg opstap, hou ek my oë op sy stewige Solomon-stapskoene. Hy is uitgevat in ’n warm K-Way-baadjie, want vandag is dit ysig.

“Waar het alles begin?” wonder ek.

Een van die koudste dae van die jaar op die berg het vir ’n reënboog gesorg.

Andrew sê hy het ’n paar jaar gelede die Platteklip-uitdaging gedoen. “Daar het ek bewys dat ek Platteklipkloof vyf keer op een dag kon uithardloop.”

Die saadjie was reeds hier geplant, maar dit het finaal ontkiem toe Andrew verlede jaar sy werk verloor het. Skielik het hy tyd gehad om te doen wat hy altyd wou doen en Tafelberg het geroep.

“Ek het geweet ek wil iets ekstreems doen en Tafelberg is hier op my agterstoep,” sê Andrew, wat in Seepunt woon.

“Maar dit moes nie net vir myself wees nie, dit moes vir liefdadigheid wees.”

Gevolglik het hy begin stap vir Habitat for Humanity, One Heart for Kids en die Sunflower Fund. Met elke stap delf skenkers dieper in hul sakke en Andrew het al oor die R260 000 ingesamel. Ondernemings soos Cape Union Mart het hom begin borg, en verder leef hy van sy spaargeld.

Ons vorder tot by die helfte van die kloof se 800 trappe en het ’n panoramiese uitsig oor die stad. Dis snerpend koud en misreën het uitgesak. “Jy kan nooit onvoorbereid op die berg gaan nie. Die weer is altyd bedrieglik en ek vat geen kanse nie,” sê Andrew soos ons ekstra lae klere aantrek.

“Ek het myself voorberei om 200 keer vanjaar in die reën te stap. Elke keer as dit reën, is ek bly.”

Soms stap hy in die oggend, soms smiddae, en dit neem hom so drie uur per dag. Hy stap gewoonlik tot bo en neem dan die kabelkar na onder, maar soms, soos vandag, moet hy op- én afstap omdat die sweefspoor gesluit is. “Ek het op die Platteklipkloofroete besluit, want dis die gewildste roete en maak ’n moeilike uitdaging soos dié meer hanteerbaar. Maar ek kies op mylpaal-dae ’n ander roete om dit te vier.”

Andrew stap elke oggend na die sweefspoor om ’n foto te neem as bewysstuk.Foto’s: Marzahn Botha

Vandag, klim nommer 250, is só ’n dag: Ons gaan tot op die kruin stap en dan met die India Venster-roete afkom.

My bene raak al lam van die steil trappe.

“As jy so baie stap, raak jou bene dit gewoond. Terwyl ek besig is, voel dit wel soms of ek Tafelberg vir die derde keer die dag uitklim. Al is jou kop gewillig, is jou bene soms swaar.”

Ons is amper bo, waar ’n reënboog ons inwag. “Kom ons gaan kyk hoe koud die meterlesing is by die sweefspoorkantoor.”

Ons stap na die plek waar hy daagliks ’n tydgreep en foto op sy foon neem, as bewysstuk dat hy nie een dag oorgeslaan het nie. Dis vandag 2 °C. “Met die wind wat hier bo waai, skat ek dis so -3 °C.”

Skielik voel ek trots dat ek op een van die koudste dae van die jaar saam met die Bergman hier bo in die stilte is.

“As jy ekstreme dinge in jou lewe doen, word alles ekstreem. Jou verhouding met jou familie verdiep, jy begin anders na dinge kyk en jy het ’n intense verhouding met die natuur,” sê hy.

Sy ouers, wat in Johannesburg woon, kom binnekort vir hom kuier om saam te stap.

Ná sy jaar lange avontuur wil hy by sy meisie in San Francisco gaan kuier en ’n boek oor sy ervaring skryf – verkieslik ’n fotoboek met die uiteenlopende natuurtonele wat hy afgeneem het.

Ons stap na die India Venster-beginpunt. As ons klaar is, gaan ek my bene laat rus, maar Andrew doen dit môre weer.

  • As jy saam wil klim of ’n bydrae wil maak, gaan na 365climbs.com.
Meer oor:  Tafelberg  |  Bergklim  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.