SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Buite
En toe kom Chobe se eie Moses . . .
Chobe se wonderwerker kry toe die “Rooisee-triek” reg en al die seekoeikoppe verdwyn toe weer onder die water.

Die olifantjie het luid getrompetter. Daar was ’n klomp seekoeie in die rivier en hy wou by hulle verbygaan na die res van sy trop. Eben Human vertel wat gebeur het.

Ná my besoek meer as twee dekades vantevore lyk die diere en voëls van Moremi en Savuti in Botswana vir my baie rustiger, skaars bewus van die paar mense wat hul wêreld betree.

Wat het intussen verander?

In die 70’s en 80’s het die 4x4-manne van Suid-Afrika hierdie wildtuine soos ’n storm getref. Daar was min reëls. ’n Mens kon kampeer waar jy wou, en dit was ’n goedkoop bestemming.

Dankie tog dat die Botswana-regering ingegryp het met strenger reëls en hoër tariewe.

My gids, Johan Kriek, wat lank ’n toerorganiseerder in ons buurland was, sê daar was van ons landgenote wat in daardie jare ons in die skande gesteek het met hul onaanvaarbare gedrag.

Dieselfde rustigheid en saligheid ervaar jy ’n entjie verder noord by Kasane naby die Victoria-waterval op een van die gewilde skemervaarte op die Choberivier. Maar die natuur het ook soms sy dramatiese oomblikke.

Die tien olifante op die eiland storm toe skielik die water in en hul getrompetter aan die seekoeie weergalm oor die Chobe: Voertsek! Foto’s: Eben Human

Met my vorige besoek in die droë seisoen was die eiland in die Chobe vol buffels en olifante. Nou lyk die plek verlate en wonder ek kliphard hoe die gids op ’n vaart van drie uur sy gaste wakker gaan hou.

Daar word kliphard gesoek na goed om te wys: klein krokke, likkewane, ’n paar seekoeie, ’n visarend, waterbokke, rooibokke en visvangers.

Dit is snaaks om so min olifante te sien. ’n Klein teeltrop geniet egter die groenigheid op ’n eiland.

Skielik hoor ons ’n luide getrompetter agter ons. Op die wal van die rivier staan ’n olifantjie wat ’n groot geraas maak. Ons boot draai om en almal kan skielik dieretaal verstaan.

Die olifantjie sê luidkeels: “Ek wil na my maats op die eiland gaan, maar die verdomde trop seekoeie wil nie padgee nie.”

Met die olifante se terugkeer het een bul sy bek gerek (inlas). Die seekoeie (bo) vorm toe ’n hegte formasie, en ons dag hier kom ’n geveg.

Nou ja, ’n seekoei het ook sy waardigheid. Hy het die reputasie dat hy die dier is wat elke jaar die meeste mense in Afrika doodmaak.

Die tien olifante op die eiland storm toe skielik die water in en hul luide getrompetter weergalm oor die Chobe: Voertsek!

Die olifantjie skraap vinnig sy moed bymekaar en laat waai met sy swemtog reg op die seekoeie af.

As die seekoeie vir hom pad wou gee, sou hulle dit ook op ’n waardige manier moes doen. En toe doen hulle dit net soos ’n seekoei kan. Die koppe verdwyn onder die water.

Wanneer hulle ’n rukkie later weer verskyn, sien jy die olifant het ’n onbelemmerde deurgang.

Die ernstige en vrome seekoeie se gevrete sou die aand niks verraai van ’n aftog wat geblaas is nie.

Daarvan kon jy ’n paar oomblikke vantevore net lugborrels sien.

Ons vaar verder.

Op pad terug gewaar ons weer ’n beroering onder die olifante op die eiland. Hulle het nou aanstaltes gemaak om terug deur die rivier landwaarts te gaan.

Dié slag wag die seekoeie in ’n hegte formasie, en ’n groot bul rek sy bek so groot soos net ’n seekoei kan.

Die olifantjie daag seekoeie uit. Foto: Eben Human Foto:

Hier kom ’n geveg, dink ons toe vol afwagting.

Die matriarg het die troppie olifante gelei, maar haar moed begeef haar kort voordat sy die water bereik en sy draai weg.

Van die olifante volg haar, maar een jongeling is moedswillig.

Meneer Kordaat gaan staan voor die seekoeie. Hy lig sy slurp en beduie so oor die rivier en sê: “Dit is die pad wat ons olifante wil swem.”

Toe Moses met sy staf op die water geslaan het, het ’n wonderwerk gebeur. Chobe se wonderwerker kry toe dít reg wat jare gelede by die Rooisee gebeur het.

Weer verdwyn al die seekoeikoppe onder die water. Meneer Kordaat begin swem, en sy trop val in enkelgelid agter hom in op die nuwe pad.

Die seekoeie het weer ’n nou gangetjie gelaat – ’n bietjie breër­ as ’n groot olifant se lyf.

Die oorkantse wal is veilig bereik, en toe daal daar ’n hemelse vrede oor die Chobe.

Ons mensekinders het miskien die wonderlikste brein, maar hoe lank gaan dit ons nog neem om te verstaan hoe olifante, seekoeie en krokodille in vrede ’n rivier kan deel?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.