Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Epic inskrywings gou uitverkoop

Etlike oomblikke nadat die nuwe inskrywings vir volgende jaar se Absa Cape Epic die afgelope Dinsdag oopgemaak het, is dit uitverkoop. Dit was nadat 90 % van die ryers wat aan hierdie jaar se Cape Epic sou deelneem die opsie gekies het om hul inskrywing te laat oordra na volgende jaar toe en die 55 inskrywings wat beskikbaar was vir ander ryers, is letterlik binne sekondes opgeraap, waarskynlik vanweë die allemintige 25 % afslag wat almal kry wat voor 15 Junie betaal. Dit beteken dit is die goedkoopste Cape Epic sedert 2016.

Een van die bruggies waaroor ryers tydens 2019 se Absa Cape Epic gery het. Foto: JUSTIN COOMBER

Die stigter van die byeenkoms, Kevin Vermaak het gesê hy is baie verlig oor die ryers se reaksie en hy dink een van die redes waarom almal so graag weer volgende jaar die Epic wil ry, is juis omdat ons almal iets nodig het om ons gemotiveerd te hou in hierdie onsekere tye.

Een ding wat ek weet, is dat as ek volgende jaar by daardie beginpunt van die Epic staan, ek dankbaar en nederig gaan voel, want as daar een ding is wat ek hierdie jaar geleer het, is dat ons absoluut niks vanselfsprekend kan aanvaar nie. Nie ons gesondheid nie, en ook nie ons vryheid nie. Die datums vir volgende jaar se Epic 21 tot 28 Maart, die afstand is 647 kilometer met 15 550 meter vertikale klim en die dorpe waar die tentdorpe opgeslaan gaan word, is Ceres, Tulbagh en Wellington.

My vriende vra my gereeld hoe ek dit uithou tydens die inperking om nie meer so gereeld soos voorheen my fiets te kan ry nie, maar die waarheid is dat ek dit eenvoudig maar net uithou omdat ek geen ander keuse het nie. Ons is sterker as wat ons dink en boonop het die inperking my heelwat nuwe goed laat ontdek en beleef.

Ek het byvoorbeeld hierdie week aan my heel eerste virtuele tydren in ’n volledige span deelgeneem en hoewel ek diskant die dood was daarna, was dit ’n baie unieke ondervinding. Timothy Kock van The Practice in Linden het my genooi om deel van hul gemengde span van agt ryers te wees en daar was altesaam 67 spanne wat Dinsdagoggend 07:30 aan die ACE Cycles Team TT-virtuele byeenkoms op Zwift deelgeneem het. Dit werk basies só: die resies was 20 km ver en vir daai twintig kilometer trap jy so hard soos jy kan, al voel jy hoe bloed by jou sweetgaatjies uitkom. Ek het ’n paar keer gedink ek is besig om ’n hartaanval en ’n beroerte gelyktydig te kry. Deur middel van die Discord app op my foon kon ons hele span regdeur die ren met mekaar praat en dit was nogal vertroostend om te hoor dat van my spanmaats net so oor die mikrofoon geblaas het soos ek.

Die organiseerders van Dryland het ook laat weet dat hulle in die maande wat kom virtuele byeenkomste op Zwift gaan aanbied en daar is lekker pryse in die pot.

Op 29 tot 31 Mei vind die Glacier Cradle Traverse plaas en op 13 - 16 Junie die Tankwa Trek. Op 4 - 5 Julie kan jy die Attakwas Extreme op Zwift ry en op 1 - 2 Augustus die 36One bergfietsren.

Inskrywing is gratis en ryers wat al vier renne voltooi staan die kans om ’n inskrywing vir volgende jaar se Tankwa Trek byeenkoms te wen. Daar is ook lekker boerpot-pryse van Biogen en First Accent vir deelnemers. Inskrywings kan gedoen word op die Dryland webwerf by Dryland.co.za.

Terwyl almal wat aan vanjaar se Comrades marathon sou deelneem erg teleurgesteld is omdat die ren heeltemal afgestel is vir 2020, is daar darem nog ’n klein bietjie hoop vir bergfietsryers wat aan die Wines2Whales en Sani2C marathonne wil deelneem. Volgens die organiseerders gaan die Wines2Whales in hierdie stadium nog voort tussen 30 Oktober en 8 November, hoewel die veld waarskynlik net heelwat kleiner sal wees. Die Sani2C vind hopelik ook steeds aan die begin van Desember plaas en hoewel Dryland nog nie uitsluitsel het oor die Cape Pioneer Trek wat tussen 6 en 12 September plaasvind nie, kan ons nou maar net styf duimvas hou.

Meer oor:  Bergfietsry  |  Epic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.