Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ervaar Italië in Swartberge

Einde Maart in die Klein-Karoo beteken vol tabakskure, spekbome en gematigde herfsdae. Ry saam en volg dié selfbegeleide dagsirkelroete verby skouspelagtige natuurtonele, geologiese wonderformasies en pastoraal mooie prentjies. Gooi laastens interessante proe-, teug- en beleef-sessies in en kry só ’n blik op die mooi streek se hartskamer, skryf Heleen Coertze.

Vat die pad na die Swartberge, jy sal nie spyt wees nie. In hierdie streek van die Klein-Karoo sal jy ’n tikkie Italië, Japan en eg Suid-Afrika beleef. Foto: Getty Images

Die Oudemuragie-kronkelpad is die skakel tussen De Rust met die Swartbergpas.

4 km voordat jy De Rust op die N12 vanaf Oudtshoorn binnery, draai jy skerp links op die Oudemuragie-grondpad. Die eerste stilhouplek is by De Rustica-olyflandgoed op die plaas Oudemuragie, aan die voet van die Swartbergreeks.

Die netjies versorgde olyfboorde vang al van die teerpad jou oog, lokflitse wat jou nader wink na die ingang van die bekende olyflandgoed.

Tussen lieflike groengrys olyfbome met knotsstamme, presies net soos Vincent van Gogh dit geskilder het, begin ons groepie ’n boordstap saam met Precilla Steenkamp, wat in beheer van bemarking en verkope is.

Jy hoor dat die ligging van die landgoed ideaal is om met olywe, wat oorspronklik met Mediterreense lande vereenselwig is, te boer. Hier, aan die voet van die Swartberge, is die klimaat perfek vir dié veelsydige vruggies.

Die hoë bergpieke is in die koue winters dikwels toe onder die sneeu, maar in die vallei is dit beskermd en rypvry.

’n Tabakland by die ingangshek by Kobus se gat-restaurant. Foto: Heleen Coertze

Warm en lang somerdae, skoon, suiwer water uit die Swartberge en goed gedreineerde klei- en spoelgrond met heelwat organiese materiaal waarborg hierby ’n besliste suksesproduk.

’n Ware stukkie Italië, genestel hier in die Klein-Karoo, kom dit behaaglik by jou op terwyl jy die grond ruik. Jy rol die Italiaanse kultivars se name wat hier gevestig is, FS17, Frantoio, Leccino, Delicata, Nocellara en Coratino, denkbeeldig rond soos opera-areas en jy verkyk jou aan die vruggies wat met oestyd met kamme van die takke afgekam gaan word.

Later, gedurende die olyfolie-proesessie hoor jy dat die landgoed reeds in 2013, die tweede jaar waarin olyfolie op die landgoed gemaak is, met drie goue medaljes op die SA Olive-toekenningsgeleentheid weggestap het.

As die derde grootste olyfprodusent in die land kreun die pryse en eerstes trots in De Rustica se vertoonkas. Hier laat Precilla jou ruik en proe aan van die Toskaanse variëteite en wys ’n paar karaktereienskappe waaraan die olie moet voldoen uit.

’n Goeie ekstrasuiwer-olyfolie behoort byvoorbeeld vrugtige geure (wat kenmerkend is van vars en ryp groen olywe) te vertoon, smaak effens bitter aan die kant van die tong en kan vir ’n peperagtige sensasie agterin die keel sorg. Olyfolies word geklassifiseer as delikaat, medium en intens en het ’n legio van gebruiksmoontlikhede.

Kyk net hierdie uitsig op die Swartberge. Behalwe vir die natuurtonele, kry jy ook gasvryheid in dié kontrei. Foto: Heleen Coertze

Gedagtig-instemmend aan die skrywer Pablo Neruda, wat die ryp lig van ware olyfolie ekstaties in ’n gedig besing, vertrek ons klompie ’n rukkie later met armsvol aankope van die veelsydige vrug wat reeds van kindsbeen, saam met Noag en sy ark aan ons goed bekend is. Ons draai skerp regs, terug op die Oudemuragiepad, rigting Kango-grotte en die Swartbergpas.

Die verlate, rustieke skoonheid van die area laat jou kort-kort stilhou op die stil gruispad om foto’s te neem van oënskynlik alledaagse tonele. Wit skapies wat smul op ’n vars groen weiland, nuwe olyfboord-aanplantings, ’n klein skooltjie vir die vallei se kleingoed, alles lê veilig en vreedsaam ingebed in die Swartberge wat gerusstellend eenkant waghou.

Ongeveer 22 km verder wys die afdraaibordjie na die Rus-en-Vrede-waterval. Ons hou verby, sien die Koos Raubenheimer-dam wat deur die Grobbelaarsriver gevoed word en sluit ná nog 10 km by die geteerde R328-T-aansluiting aan. Jy is nou diep in die Kango-vallei, dis skuins ná 13:00 en gelukkig verskyn die De Kombuys-afdraaibordjie byna onmiddellik regs.

’n Japanse beesras wei vredig in die Karoo, sowaar. Die geykte beskrywing van ’n prentjiemooi plek geld regtig nog wanneer jy by die De Kombuys, die tweede stopplek, indraai. Hier, in die mooie Kango-vallei, is ’n 150 jaar oue Kaaps-Hollandse plaasstoor gerestoureer tot ’n uitsoek-restaurantbestemming.

Die De Kombuys-afdraaibordjie in die Kango-vallei. Foto: Heleen Coertze

Oorspronklike materiale uit die natuur is subtiel vir die binnenshuise afwerking gebruik – doringtakke uit die Karoo-veld is as plafonbedekking in die restaurant gebruik en jy weet instinktief dat kennis, ondervinding en aanvoeling hier saam ’n rol gespeel het om ’n buitengewone outentieke ruimte te skep.

Buite onder die reuse-eikeboom waai daar ’n soel luggie en jy verkyk jou aan die skadu’s teen die wit muur wat enige skilder na sy verfkwasse sal laat gryp. Die klem op detail, eg in Japanse tradisie, is oral subtiel sigbaar en ek loer om te sien of die perskepitvloer onder die tafeltjie agter my nie dalk in netjies gekamde patrone lê nie.

“Die tafels is van geelwit bloekomhout, gemaak van ’n bloekombos op die plaas,” laat Lee-Jo Kiewiets, ons kelner van die dag, later terloops val.

Hy vertel voorts van die Ou Skooltjie en Die Bakhuis wat aan die rand van die shiraz-wingerd met onbelemmerde uitsigte op die immerteenwoordige Swartberge staan.

“Die Bakhuis,” vertel Lee-Jo verder, “is, soos die ander kothuise wat vir verblyfplek gebruik word, meer as 100 jaar oud, tipies met dik kleimure en opskuifvensterrame.”

Klink na ’n wenresep vir besoekers wat iets van die stilte van die vallei wil inasem, hul eie groente wil pluk, sterre wil kyk en sommer net leeglê, dink jy terwyl ’n keurige vars slaai met stukkies wagyu-vleis en ’n glasie koel chardonnay voor jou neergesit word.

Uitsigte soos dié begroet jou kort-kort langs die pad. Foto: Heleen Coertze

Seemeeu, die vriendelike rifrug, draf vriendelik nader en loer lui na die hordes rooivlerkspreeus wat vanuit die oorkant raserig op die chardonnay-wingerd neersak. JJ, die sjef, staan intussen nader. Hy vertel begeesterd meer oor die besondere wagyu-beeste wat met hul intra-muskulêre vetselle bekend is vir die ryk, sagte en geurige vleissnitte.

“Die woord wagyu beteken koei in Japannees en verwys na ’n rassoort wat oorspronklik vanaf Japan kom,” vertel die gawe sjef verder.

Met hul wagyu-beeskudde, organies verboude chardonnay- en shiraz-wingerde, hoenders en ’n eie groentetuin het die eienaars hier in die waai van die Kango-vallei ’n unieke konsep met ’n Oosterse aanslag gevestig.

Die kabbeling van die water in die leivoor, die lae witgekalkte muurtjie en tipiese plaasgeluide laat jou onmiddellik rustig en tuis voel en die diepblou-grys kleure van die Swartberge herinner jou aan ’n Pierneef-skildery.

Laaste stilhouplek, natuurlik Kobus se gat. Dié eg Suid-Afrikaanse tradisionele veldrestaurant is ideaal geleë by die T-aansluiting waar die R328 afdraai Calitzdorp se kant toe. Jy glip regs by die R407 se Prins Albert-bordjie in en sien dadelik die restaurant se baniere wat in die bergwind wapper. Met die inloopslag hoor jy Kobus se bulderlag van ver af en sien jy hoe hy korswel met ’n Nederlandse toeris waar hy agter die toonbank vrae antwoord en kosbestellings deurgee kombuis se kant toe.

“Gasvry en vrygewig, dis mos maar hoe onse mense is,” som hy hierdie familiebesigheid op wat al meer as 21 jaar se ondervinding het.

Die veldrestaurant Kobus se gat aan die voet van die Swartbergpas. Foto: Heleen Coertze

“Hier word daagliks eg Suid-Afrikaanse kos gebraai en gekook,” sê hy trots. Bobotie, potjiekos en volstruisfilette is maar ’n paar van die geregte wat my oog op die spyskaart vang.

Die son trek water en ons vergaap ons aan die vistas – ’n 360°-uitsig rondom en Randall Wicomb se Matjiesvlei wat doer onder in die vallei lê. Jy sien die ronde vuurherd in die middel van die restaurant en besef dat die stelsel gerat is om tot 200 mense gelyktydig kos te gee.

Kobus verlei ons maklik met warm roosterkoek met korrelkonfyt en koffie terwyl hy vertel van die begeleide toere wat daagliks hiervandaan vertrek.

Hy vertel passievol hoe aangrypend mooi die bergpieke van hierdie Unesco-wêreldbewaringsgebied lyk wanneer jy met sonsondergang bo teen die kruin terugsit en aan ’n koue wyntjie teug of eerder by “high-tea” hou.

Met die terugkomslag kan gaste sommer inteken by die keurige verblyf wat neffens die restaurant aan die suidwestekant op Matjiesvallei uitkyk. Bo, heel bo, kan jy glo so ver as 200 km met die blote oog die Klein- en Groot- Karoo inkyk.

Die Swartbergpas is bekend vir sy haarnaalddraaie en ’n besliste moet-doen-uitdaging op avontuursoekers se lysies. Die pas is ’n nasionale monument en is deur die befaamde padbouer Thomas Bain gebou en op 10 Januarie 1888 geopen.

Die De Kombuys-restaurant is in ’n gerestoureerde plaasstoor. Foto: Heleen Coertze

Laatmiddag, met die wegry-slag van die gesellige veldrestaurant met sy gawe mense, sien jy die koolaanplantings reg langs die ingangshek.

“Dit voel mos regte veld en plaas, so met die vuur wat nou net aangesteek is en egte, regte Karoo-disse wat vir die gaste uitgedra word,” laat iemand val.

Dis doodstil in die voertuig, elkeen tob met sy eie belewenisse van ’n ongelooflik visueel-stimulerende dag.

Waar, dink jy so in jou enigheid, kry jy ’n happie Italië, sagte sappige Japanse vleis en warm roosterkoek met druiwekonfyt op een dag se spyskaart.

“Net in die Klein- Karoo, met ’n ompad na die Swartbergpas toe,” lees my reismaat my gedagtes.

Goed om te weet
  • De Rustica Olyflandgoed: Oudemuragie-pad 1, De Rust, 044 241 2177.
  • De Kombuys; The Marble Wagyu Restaurant & Deli. De Kombuys Estate, R328, Kango-vallei. 044 272 7255.
  • Kobus se gat: R328, Prins Albert-pad, Matjiesrivier, Oudtshoorn. 074 438 1402

Meer oor:  Italië  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.