Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Fietsry red nie net lewens, dit kan ook koerante red

My vriendin Maretta was nog altyd bietjie agterdogtig oor die welstand van my geestelike gesondheid as dit by fietsry kom, want dit maak nie saak hoeveel keer ek vir haar verduidelik dat daar niks by die gevoel kom as jy jou rubberwiele so op die teer hoor sing terwyl jy elke spier in jou lyf (en kop) inspan om by ’n bergpas uit te ry en dan by die bopunt uit te kom nie.

Daar is soveel elemente wat fietsry ’n ongelooflike sport maak – benewens dat jy jou liggaam baie goed leer ken en ontwikkel, jou gesondheid verbeter en jou vermoëns konstant uitdaag, het dit ook ’n geweldige invloed op jou geestelike en emosionele spasie. Jy leer uithou en aanhou, jy leer oor strategieë, beplanning, deursettingsvermoë en jy leer oor mense en spanwerk.

Ek onthou die gevoel van euforie en ongelooflike krag ná elke Cape Epic wat ek voltooi het, amper asof iets in my geweet het as ek dit kon oorleef, is daar min wat ek nie sal kan oorleef nie.

Maak nie saak hoeveel keer ek bogenoemde aan Maretta verduidelik het nie, het sy steeds volgehou dat sy eerder met ’n kar sal ry as sy iewers wil kom.

Dié foto van Chris Froome is deur die Suid-Afrikaanse fotograaf Kim Ludbrook tydens die negende skof van die 2017-Tour de France geneem. Foto: EPA

Maar gister bieg sy toe aan my dat die Tour de France skielik haar kop heeltemal geswaai het. Sy betrap haar deesdae elke dag waar sy vasgenael voor haar televisie sit en fietsry kyk en nee, dis nie net die beeldskone Franse platteland en geskeerde bene in spandex wat haar lok nie, dis die strategieë, die ongelooflike spanwerk en die byna onmenslike vermoëns om soms teen 101 km/h in bondels te ry en weg te breek wat haar asem wegslaan. Dis drama, spanning, aksie en liefde alles in een!

Die afgelope week het ek ’n paar keer mense uitgevang wat “kamtig besig” is en later erken het hulle het net gou eers die laaste 15 minute van die Tour de France gekyk. Dis ongelooflik om te dink dat duisende mense in meer as 180 verskillende lande dieselfde doen.

Danksy die Tour de France is fietsry behoorlik in die kollig gesit en met rede, want wat hierdie ryers regkry, is werklik byna onmenslik. Oor die tydperk van 29 Augustus tot 20 September sou hierdie superwesens sowat 3 484,23 km op hul fietse aflê, oor agt verskillende bergpasse. Hulle sou meer as 4 800 minute op hul sale sit.

Die aanlyn publikasieThe Hustle het hierdie week ’n interessante artikel oor die geldsake van die Tour de France gepubliseer en daarin skryf Zachary Crockett dat die toer toevallig uit die finansiële nood van die Franse koerant L’Auto begin het. Nes koerante deesdae, het die koerant destyds gesukkel om kop bo water te hou en die joernaliste is gevra om aan maniere te dink om die sirkulasie te verbeter. Die 26-jarige sportskrywer Géo Lefèvre se voorstel was om die grootste fietsrybyeenkoms te organiseer wat tot nog toe in die land gehou is.

Die eerste Tour de France is in 1903 gehou en dit was onmiddellik ’n reusesukses. Binne die eerste jaar het die koerant se sirkulasie byna verdriedubbel van 25 000 tot 65 000, genoeg om hul grootste mededinger, Le Vélo, op sy neus te laat kyk.

Terésa Coetzee

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die toer tydelik gestaak en ná die oorlog het die koerant L’Équipe die toer oorgeneem.

In 1965 is die toer oorgeneem deur die huidige sportorganiseerders, Amaury Sport Organisation, ’n private instansie in Frankryk wat deesdae ’n baie lonende besigheid met dié ren bedryf. Fietsry is ’n duur sport, maar ook ’n sport wat baie ondersteuners en borge trek.

In 2016 het Team Sky (nou Ineos Grandiers) ’n video gemaak wat wys wat dit verg om die nege ryers in ’n span in die Tour de France op die pad te hou:

  • 34 in die ondersteuningspan (werktuigkundiges, bestuurders, dokters, masseerders en dieetkundiges.);
  • 55 fietse (ses per ryer);
  • 80 noodwiele, 82 noodkassette en 57 noodkettings;
  • 4 360 energiestafies en -jels;
  • 40 bottels masseerolie.

Net nou die dag bel my vriend Mauritz Meyer my met die nuus dat die Rapport-fietstoer beslis volgende jaar Februarie gaan herleef en dié toer gaan fietsry in Suid-Afrika en ons ekonomie ’n allemintige hupstoot gee.

Die Rapport Toer (1973-1999) was altyd Suid-Afrika se enigste internasionale toer en name soos Ertjies Bezuidenhout word outomaties onthou. Ek voorspel dat menige daai tyd, nes my vriendin Maretta, onverklaarbaar “besig” gaan wees.

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Fietsry  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.