Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Fotograaf net betyds vir groot oomblik in wildtuin

’n Amateur-fotograaf van Middelburg in Mpumalanga het ’n halfuur tot ’n driekwartier gewag vir net die regte oomblik dat ’n luiperd in die Krugerwildtuin sy prooi gryp.

Toe die luiperd die rooibokram bespring en gryp, het albei die diere deur die lug getrek terwyl die luiperd se kloue nog om die bok se nek was.

Die merkwaardige oomblik wat op kamera vasgevang is toe ’n luiperd in die Krugerwildtuin ’n rooibokram aan die nek gryp dat albei die diere deur die lug trek. Foto: Gerhard Grové

Gerhard Grové (50) se vinger was net betyds op die sluiter se knoppie om hierdie aksie vas te vang, want daar is net een enkele foto as bewys daarvan.

Die oomblik was so groot dat hy eers later besef het hoe waardevol die foto werklik is. Was hy nét te vinnig of te laat, was hy dalk die geleentheid kwyt.

Die foto is Saterdagmiddag by die Delaporte-watergat in die suide van die wildtuin naby Skukuza geneem.

Grové en sy vrou, Avery (56), was op die H1-1-pad op pad terug na die Berg-en-Dal-ruskamp toe hulle van die luiperd verneem wat agter bosse by die watergat skuil.

Dit was so skuins ná 13:00.

Avery het hul voertuig van die pad afgetrek en dis toe dat die luiperd agter die bosse uitbeweeg en tussen die gras gaan wegkruip. Daarna het die egpaar die wilde kat nie gou weer gesien nie.

“Later het hy weer sy verskyning gemaak en op die watergat afgekyk, waar daar in daardie stadium nog geen diereaktiwiteit was nie. Vlakvarke, rooibokke en ’n koedoekoei het egter mettertyd hul opwagting gemaak en ons het gesit en wag om te sien wat gebeur,” sê Grové.

“Geen van die diere het nader beweeg nie, maar uiteindelik het die afwagting vrugte afgewerp en het van die rooibokramme in die luiperd se rigting begin beweeg.”

Die luiperd sleep sy prooi terug die bosse in. Foto: Gerhard Grové

Die eerste ram het verby die luiperd geloop, terwyl die tweede een in sy spore vasgesteek het.

Oomblikke later het die luiperd opgespring en die maklike teiken, die tweede ram reg voor hom, aan die nek gegryp.

“Hulle het vir ’n wyle so gestaan en kyk-kyk en toe hulle weer begin beweeg, was die aksie op ons waar die luiperd die tweede rooibokram gevat het,” sê Grové.

“Daai was die enigste foto wat ek op daardie tydstip kon kry, want ’n ou is in afwagting vir dit wat gebeur.”

Die luiperd het daarna sy prooi die bosse ingesleep om middagete te geniet en die Grovés het met ’n onvergeetlike herinnering weer na hul ruskamp in die pad geval.

Die luiperd sleep sy prooi terug die bosse in. Foto: Gerhard Grové
Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Luiperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.