Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
FOTO'S: Kleinbaai se haaie van nader gegroet

’n Man met wilde blonde hare in ’n geskeurde denimbroek en rubberstewels gooi op die eerste Dinsdagoggend van 2021 vyf viskoppe voor aan ’n tou in Kleinbaai se waters.

Dié man, ’n navorser genaamd Toby Rogers, is saam met ’n handjievol van sy spanlede en sowat 20 Kapenaars en plaaslike en internasionale toeriste op die boot Dreamcatcher.

’n Paar minute nadat die viskoppe die water tref in The Shallows, ’n gebied wat bekend is om sy digte haaibevolking, skree twee mariene bioloë op hul beurt “regs onder . . . links! Af, duikers! Af!”

Een van die koperhaaie in die seewater van Kleinsee. Foto: Jenna Lemmer
Haaie word met viskoppe nader aan die boot gelok. Foto: Jenna Lemmer

Dan duik daar ses mense in duikpakke met hul koppe onder die water en hul oë in die rigting wat Alina Pryazhkina en Kelly Baker wys.

Pryazhkina en Baker is mariene bioloë verbonde aan Marine Dynamics in Kleinbaai, ’n ekotoerismegroep wat toeriste see toe neem om haaie van naderby te ontmoet.

Reg voor hul neuse, maar aan die ander kant van die hok waarin hulle langs die Dreamcatcher dryf, aanskou die duikers vyf koperhaaie onder die water.

Die duikhok waarin toeriste in die see afgesak word om onderwater na die haaie te kyk. Foto: Jenna Lemmer

Wes-Kaapse strande is nou al langer as ’n week gesluit, maar die Atlantiese Oseaan – en alles daarin – verwelkom steeds besoekers. Haaihokduikers klim in die Kleinbaai-hawe op die ekotoerismegroep Marine Dynamics se bote wat hulle na die duikgebied neem. Dus kan dié aktiwiteit onafhanklik van Covid-19-regulasies wat toegang tot strande beperk, voortgaan.

Marine Dynamics het in Desember ook toestemming by die departement van omgewingsake, bosbou en visserye gekry om op die huidige vlak 3-inperking met hul werk voort te gaan, bevestig Brenda Walters, ’n woordvoerder vir Marine Dynamics.

Dié uitstappies befonds mariene navorsing en -bewaringspogings in die Dyer-eiland-ekosisteem, sê Walters Dinsdagoggend in die Great White House-restaurant op droë grond in Kleinbaai.

Haai en mens ontmoet mekaar van naderby. Foto: Jenna Lemmer

Die Marine Dynamics-span van ses mariene bioloë versamel byvoorbeeld data oor die omgewingstoestande, haaibevolkings en selfs die gesondheid en gedrag van individuele grootwithaaie tydens elke haaihokduik-ekskursie, sê Pryazhkina later op die Dreamcatcher.

“Regs onder, duikers! Af! Af, af, af!” roep haar kollegas aan die ander kant van die boot.

“ ’n Haai se rugvin is basies soos ’n vingerafdruk,” verduidelik sy. Foto’s word geneem van die rugvin van elke haai wat by die boot kom kuier om die haaie te kan uitken en hul haai-databasis by te werk, sê sy. Volgens Walters help dié soort navorsing en dataversameling wat so saam met die haaihokduike gedoen word om ’n ogie oor die haaibevolking te hou.

Dit is bewolk en die wind is doodstil – perfekte weer vir haaihokduik omdat die seeoppervlak besonder deursigtig is in die afwesigheid van wind of fel sonskyn, sê Hennie Otto, skipper van die Dreamcatcher, soos wat hy die koperhaaie langs die hok afneem.

Die duikpakke waarvan die materiaal 7 mm dik is, behoort te help met die berugte koue water van die Atlantiese Oseaan, troos Pryazhkina duikers wat op die rand van die boot huiwer. Dié water is vandag selfs kouer is as ’n paar dae gelede danksy die suidooster wat intussen deur Kleinbaai gewaai het, sê sy. Selfs die haaie het meer energie in warmer water, vertel Otto van die haaie wat vandag taamlik sku is.

Die navorsing en verskeie toerismeaktiwiteite waarmee hulle bedrywig is, sê Pryazhkina, is grootliks daarop gerig om mense se denkwyses oor haaie te verander. “Haaie is alles. Haaie is lewe,” sê Pryazhkina, en voeg by mense is oningelig deur haaie as koudbloedige aanvallers te beskou wat niks meer as “tande en dooie oë” is nie. Wanneer mense na haaie kyk as “monsters” of boosdoeners, is hulle meer geneig om dié diere dood te maak as om hulle te bewaar, sê sy.

’n Paar seemeeue stel ook belang in die viskoppe wat in die see gegooi word. Foto: Jenna Lemmer

“Mense verstaan nie hoe belangrik hulle is vir die gesondheid van die ekosisteme waarvan hulle deel is nie. Hele voedselkettings maak staat op die gesondheid van die top-roofdierbevolking,” sê Pryazhkina.

Sy wys na Geyser Rock in die verte en verduidelik dat die byna 60 000 robbe op dié eiland se genepoel “skoon” gehou word en die bevolking sodoende gesond gehou word deur haaie wat hulle jag.

“Haaie is eintlik maar soos die dokters van die see wat bevolkings skoonmaak en gesond hou,” sê sy.

“Baie Suid-Afrikaanse besoekers het steeds die wanopvatting dat grootwithaaie boosdoeners is. Ons kry baie mense wat sê hulle het met Jaws grootgeword en is doodbang vir haaie. Dan klim hulle in die hok . . . sien die haaie . . . en die vrees is weg,” sê Pryazhkina.

Deur mense so naby as moontlik aan hulle in hul habitat te bring, sê Pryazhkina, kan hul denkwyses verander word wanneer hulle sien hoe rustig die haaie eintlik is. Hopelik kan daar ’n belangstelling in die bewaring van haaie in elke duiker aangewakker word, sê sy.

Meer oor:  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.