Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Gaan leer om die branders aan te durf

Daar is min dinge so lekker soos om op ’n warm somersdag die see in te storm en te duik in die branders. Watersport-entoesiaste leer egter gou om met respek in die see te gaan speel, skryf Eben Human.

Pak die branders! Hierdie aksiefoto van Tristan Roberts van Hermanus is aan die Weskus geneem. Roberts was onlangs vyfde in Portugal toe daar om die wêreldtitel meegeding is. Foto: Warren Baynes

Baie van ons het kleintyd al met ’n lyfplank in die branders baljaar. Die spoed waarmee jy strand toe spoel, is altyd opwindend.

Maar die see kan ook ’n gevaarlike speelplek wees – veral as jy dit agter die branders waag waar gevaarlike strome en haaie skuil.

“Die see het ’n manier om jou hard terug aarde toe te bring. Jy moet die see maar altyd met respek benader,” waarsku die 21-jarige Tristan Roberts van Hermanus.

Tristan Roberts. Foto: Verskaf

Tristan het al op sesjarige ouderdom met sy lyfbord saam met die ouer seuns in die branders gekerjakker. Vier jaar gelede het hy die wêreldtitel vir juniors verower en onlangs was hy vyfde toe hy in Portugal om die senior wêreldtitel meegeding het.

Gaan sit laatmiddag op die strand en hou die sonsondergang dop. Begin dan droom van die watersport wat jy wil beoefen. Daar is 384 plekke op ’n lys waar jy aan ons lang Suid-Afrikaanse kus die branders kan aandurf.

’n Lyfplank kan ’n goeie begin wees. Kies ’n veilige strand met ’n skoon sandoppervlak. Muizenberg se strand is ’n goeie voorbeeld en dis die plek waar baie branderplankryers al hul eerste lesse gekry het.

Ouers wat hul kinders wil aanmoedig om in die branders te baljaar, moet ook uit die staanspoor dink aan swemlesse. As jy eers kan swem en aan die water gewoond is, is dit makliker in die branders.

Roberts sê toe hy nog baie jonger was, het sy ma hom soggens by die see afgelaai en eers weer in die middag kom haal. Met dié raak jy gewoond aan die see en al sy grille.

Dit neem nie lank om bewus te raak van getye, sleurstrome en rotse nie. Veral as jy eers baie groot branders begin aandurf, moet jy jou storie ken.

“My slegste ervaring was seker in Chili,” sê Roberts. ’n Reuse-brander wat hy onderskat het, het hom teen rotse geslaan en hy moes steke in sy kop kry.

Baie opwindende video’s is al van Roberts se aksies in die branders gemaak. “Om deur ’n tregter omring deur water te seil, is ’n ongelooflike ervaring. Dis nie iets wat jy aan iemand kan beskryf nie,” sê die jong sportman.

Sweef soos ’n branderryer: Matthew Maxwell sweef op ’n hidrovleuelplank bo die brander by Bloubergstrand. Jy het ’n ekstra lang spaan nodig om so oor ’n brander te vaar. Foto: Eben Human

As jy sien hoe Roberts teen die reuse-golwe afpyl en dan weer na bo skiet en in die lug tol, wonder jy dadelik hoe fiks jy hiervoor moet wees. As top-presteerder moet hy ook draf en aanvullende oefeninge doen om superfiks te wees.

Een van die dinge wat jou entoesiasme as beginner kan demp, is koue. Veral as jy aan ons Weskus op plekke soos Blouberg, Melkbosstrand, Elandsbaai of Langebaan die see aandurf, sal jy baie graag ’n duikpak wil aantrek.

Daar is plaaslike vervaardigers wat uitstekende pakke maak wat jou teen die koue kan beskerm en jou in staat stel om langer in die water te bly. Maak seker dat jy uit die staanspoor die regte pak koop.

“Daar is duikpakke vir branderryers, waterski, duik en hengelaars. Ons maak ook beskerming vir jou hande, voete en kop,” sê Barry Stringer van die Reef-fabriek in Ottery.

Die pakke vir branderryers is dunner en ligter. Dit gee jou meer beweeglikheid in die water, verduidelik Stringer.

Hy sê in die Kaapse waters verkies branderryers ook vollengte duikpakke. Jy sal nie dikwels branderplankryers met ’n kortbroek of kort moue in aksie sien nie. Dit word eerder verkies deur waterskiërs en die kajak-hengelaars wat jy soms op ’n plek soos die Langebaan-strandmeer sien.

Bloubergstrand: Maak seker jy het ‘n goeie duikpak wanneer jy in die koue water aan ons Atlantiese Weskus gaan branders ry.

Stringer waarsku dat jy byvoorbeeld nie met ’n duur gespesialiseerde pak vir branderry moet gaan skubaduik nie. Die water se druk sal jou pak ná herhaaldelike gebruik van ’n dikte van 3 mm tot 1 mm laat krimp.

Maak vooraf seker waarvoor jy die duikpak wil gebruik.

Stringer sê om byvoorbeeld met ’n swaar skubapak te gaan probeer branders ry, sal groot ongemak veroorsaak.

Bruce Brown se dokumentêre fliek The Endless Summer was in 1966 ’n internasionale treffer toe hy deur die wêreld gereis het om opnames van branderryers se gunsteling- plekke te maak. Dit het Jeffreysbaai op die wêreldkaart geplaas.

Die mooiste plek ter wêreld om met jou vlieërplank te ry. Foto: Eben Human

Drie jaar gelede het die Afrikaanse rolprent Die Promet branderry as tema ook aandag getrek. Dis toe dat die regisseur aan sy drie akteurs, Edwin van der Walt, Reine Swart en Vilje Maritz, opdrag gegee het om vir lesse na Muizenberg te gaan. Van hulle is verwag om ’n maand later soos ervare surfers te lyk.

Dit was ’n groot uitdaging, maar die drietal het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Gaan kyk maar weer die fliek as jy lus raak om die eerste keer met ’n branderplank die golwe aan te durf.

Muizenberg met sy veilige sandstrand word as die regte plek beskou om te leer om branders te ry. Gaan kyk op ’n Saterdagoggend hoeveel mense daar in die brandertjies leer om hul balans op ’n branderplank te hou.

Neem jou eerste les
  • Muizenberg is ’n goeie plek om branderry te leer en daar is ’n paar afrigters waaruit jy kan kies. Besoek byvoorbeeld surfemporium.co.za.
  • Gaan na Langebaan vir jou eerste lesse in vlieërplankry. Kyk na www.kitesurfinglangebaan.com om te sien wat jy kan verwag.

Staanroei het ook reeds baie gewild geraak. Op stiller dae sal jy dikwels ook van die ouer garde kan dophou wanneer hulle op die see gaan roei.

En as jy ’n stappie verder wil gaan, gaan probeer om op ’n hidrovleuelplank (hydrofoil) staande te bly.

Matthew Maxwell, ’n gewese Suid-Afrikaanse junior kampioen in staanroei en vlieërplankry, het onlangs heel gemaklik gelyk toe ek hom op sy hidrovleuel in die see by Bloubergstrand bo die branders sien sweef.

“Voordat jy die hidrovleuel aandurf, is dit goed om eers gewoond te raak aan staanroei. Jy moet die energie van die branders benut om spoed op te bou om jou uit die water te lig,” verduidelik Matthew.

Hy is al ’n groot watersport-entoesias sedert hy op agtjarige ouderdom die branders op ’n branderplank aangedurf het.

Die blou dam se branders: Aksie op ’n lyfplank in die see by die Punt op Mosselbaai. Foto: Eben Human

Vlieërplankry is nog moeiliker om te bemeester en hiervoor kan jy na Bloubergstrand of die Langebaan-strandmeer gaan vir jou eerste lesse.

Die Nederlander Jalou Langeree, ’n gewese wêreldkampioen, het gereeld in die Kaap kom oefen en dit was ’n onvergeetlike ervaring toe ek haar een middag op Scarborough naby Kaappunt in aksie gesien het.

Jou rug moet sterk wees om die groot druk van die wind te hanteer. Om dan die lenige Langaree oor die branders te sien swiep, was baie spesiaal.

Dis somer en nou ’n lekker tyd om in die see watersport te beoefen. Onthou net altyd: Benader die see met respek en wees voorbereid op al sy grille en gevare.

Mosselbaai: Kyk net hoe ry sy die branders! Victoriabaai is nog ’n gewilde plek om branders te vang in die Suid-Kaap.
Meer oor:  Hermanus  |  Langebaan  |  Mosselbaai  |  Branderplankry  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.