Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Gasvryheid van Karoo op sy beste

Aan die begin van die jaar het ek my voorgeneem dat ek vanjaar minstens een bergfietsmarathon gaan ry wat ek nog nooit tevore gery het nie. En toe die uitnodiging na die Y2Karoo-marathon dus in my posbus beland, het ek die geleentheid dadelik aangegryp.

Die terrein het deurentyd gewissel. Foto: Reblex Photography

Die marathon is die afgelope naweek in Colesberg gehou.

Ek ken die organiseerders van die Y2Karoo jare lank al en dit was tydens my eerste joBerg2C in 2014 dat ek op my fiets gehaltetyd saam met Keith en Marelize Wilson deurgebring het. Ek onthou Marelize het die ergste saalsere denkbaar gekry, maar ten spyte daarvan het sy aangehou en uitgehou, en Keith is een van daai ouens wat fietsry sommer net lekker maak – hy glimlag altyd en is enige tyd reg vir ’n geselsie. Lank daarna het ek uit­gevind hy is eintlik ’n pastoor van beroep, maar daar is niks heiligs aan hom of Marelize nie.

Keith het die Y2Karoo-bergfietsmarathon ses jaar gelede eiehandig in Colesberg begin met die uitsluitlike doel om te help geld insamel vir die plaaslike skool daar wat veg om sy bestaan. Hy het die hele gemeenskap betrek en min of meer ál sy fietsryvriende gedwing om deel te neem.

Die eerste jaar het sowat 65 ryers deelgeneem, maar reeds die volgende jaar het die getal verdubbel. Vanjaar, die sesde jaar, het ’n volle 368 ryers kom saamry en die halfwegstasie tussen Johannesburg en die Kaap is behoorlik vir die naweek deur bergfietsryers geannekseer. Dis een groot kuier van begin tot einde en ’n mens ervaar die Karoo-gasvryheid en vriendelikheid op sy heel beste. Die hele skool word tydens die byeenkoms deur fietsryers oorgeneem en al wat ’n koshuiskamer en -bed is, word vir die naweek benut.

Saans is potjiekos en braaivleis voorgesit met die heerlikste roosterkoek en stampmielies daarby. Onopgesmuk heerlik.

Al die waterpunte is deur die inwoners gefinansier en beman en ’n mens kon behoorlik weglê aan al die lekkernye soos kaasworsies en baba-aartappeltjies. Die hoogtepunt is natuurlik die skaapstertjies by die tweede waterpunt van die derde skof. Ek droom nóú nog daarvan.

Wat my en my spanmaat Bonnie Swanepoel egter die heel meeste beïndruk het van die hele byeenkoms, was die puik roetes wat ons gery het.

Terésa Coetzee

Die Vrydag het afgeskop met ’n proloog en ryers kon vanaf 14:00 op hul eie tyd wegspring en die 21 km aflê. Dit was rowwe, taamlik tegniese terrein, wat ’n lekker manier was om ’n mens wakker te laat skrik en voor te berei op wat nog moes kom.

Ons het verblyf by die Nana Rouss-gastehuis gehad en hoewel Colesberg maar so ’n geniepsige bytjie in die winter kan hê, het die elektriese komberse op ons beddens baie gehelp om die koue af te weer.

Die tweede skof was ’n bielie van ’n 72 km wat niemand moet onderskat nie. Die terrein het heeltyd verander, hoewel die meeste daarvan enkelspoorpaadjies was.

Keith het agterna vertel dat hulle destyds ál daardie paadjies eiehandig gebou het en tot vandag toe weet ek nie hoe hulle dit reggekry het nie, maar hulle het hulle baie goed van hul taak gekwyt.

Hoewel die derde skof ook ’n allemintige 74 km was, was dit darem heelwat makliker as die vorige dag se uitdaging. En natuurlik, met ’n gebraaide skaapstertjie agter die blad kan ’n mens mos enige bultjie aandurf.

Teen inskrywingsgeld van R2 200 per persoon, met alle etes en verblyf in die koshuis ingesluit, is dit sekerlik die heel goedkoopste bergfietsmarathon op die kalender.

En dan kry ’n mens sommer nog ’n baie mooi T-hemp op die koop toe!

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Karoo  |  Bergfiets  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.