Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Geniet ’n stukkie Kalahariwoestyn

Noord-Kaap Toerisme vier vandeesmaand die 20ste bestaansjaar van die Kgalagadi-oorgrenspark – ’n park wat om verskeie redes ’n blink ster in ons toerismebedryf geword het, skryf Eben Human.

Sulke Kalaharileeus kan jy verwag om te sien wanneer jy die Kgalagadi-oorgrenspark in die Noord-Kaap besoek. Jy kan hulle ook soms hoor brul wanneer jy in die aand jou vleisie braai. Foto: Eben Human

Om in ’n klein en ligte bakkie in 1974 op ’n stamperige grondpaadjie van byna 300 km van Upington noordwaarts na die Kalahari-Gemsbokpark te ry, was nogal ’n belewenis. Ook vir my medepassasier, ’n natuurfotograaf en voëlkyker, was dit ’n eerste.

Kort voor ons vertrek uit die Kaap het ons ’n film gesien van ’n Australiër se ontdekkingstog in sy eie land se Outback.

Dié Crocodile Dundee het ewe kordaat ’n likkewaan aan sy stert gevang en dan triomfantelik in die lig gehou – iets wat destyds ons eie avontuurlus behoorlik geprikkel het.

So halfpad op die grondpad en naby Noenieput waggel daar ook toe so ’n likkewaan ewe bakbeen voor ons. Hy is voorgekeer, maar terwyl ek nog dink hoe om hom te vang, skiet daar ’n brandpyn deur my arm.

My maat het uitgebars van die lag. Die likkewaan se stert het soos ’n sweep geklap – ’n hou wat ek nie eens gesien kom het nie.

Die laaste 40 km na Twee Rivieren het die grondpad tussen groot kameeldoringbome deur gevleg. Die kenmerkende rooi sandduine en versamelvoëlneste het ons laat besef ons het geland by ons droombestemming – die Kalahari.

Die berghaan is van die groot roofvoëls in die Kalahari. Meer as 300 verskillende voëls word hier aangetref. Foto: Eben Human

Ons het daarvandaan noord tot by die Nossobkamp gery. Hier was nie kampeerders nie en verder noord kon jy die volle dag ry sonder om enige ander toeriste te sien. Dit was asof die hele Kalahari net aan jou behoort het.

Sedert die eerste besoek het dinge vinnig verander in die twee dekades tot die groot politieke veranderinge teen 1990. Die park is herdoop na Kgalagadi en met ’n nuwe teerpad van Upington tot by Twee Rivieren kon Sanparke behoorlik begin bemark en uitbrei. Dit was egter met die koms van sosiale media wat mense op ’n daaglikse grondslag na vars foto’s van die Kgalagadi kon begin kyk.

Die kampe by Twee Rivieren, Mata-Mata en Nossob is intussen uitgebrei en daar het nuwe kampe bygekom. Die grootste toename was egter onder die kampeerders.

In Sanparke se jongste jaarverslag word daarop gewys dat die Kgalagadi se kampeerplekke 78% benut was in sy 2018/2019-boekjaar en 74,55 kampeerders per plek per nag daar gebly het.

Om elke draai in die Kgalagadi-oorgrenspark kan jy ’n verrassing verwag. Geen wonder dit is so ’n gewilde bestemming vir natuurfotograwe nie. Foto: Eric Shaw

Voeg nog by die 32 761 toeriste per aand verblyf in dieselfde tyd en jy kan verstaan hoe benoud ons ouer geslag raak wanneer ons deesdae al die baie verkeer in Kgalagadi sien.

Wat vandeesmaand gevier word, is die groot gebied in Botswana wat nou deel geword het van die nuwe Kgalagadi-oorgrenspark met sy totale oppervlak van 35 551 km².

Die oorgrensparke het ons land gehelp om baie spesiale en sterk bande te bou met agt lande in Suider-Afrika. Behalwe die Kgalagadi in Botswana en Suid-Afrika, is ook Namibië, Angola, Zambië, Zimbabwe, Lesotho, Mosambiek en Swaziland nou betrokke by oorgrensparke.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is op 12 Mei 2000 amptelik geloods deur pres. Thabo Mbeki van Suid-Afrika en pres. Festus Mogae van Botswana. Grondeise van die Khomani San- en Mier-gemeenskappe is deur die nuwe Regering gehanteer sodat baie meer mense om die Park nou voordeel kan trek uit die ontwikkelinge.

Andriesvale, Askham, Mier, Vanzylsrus, Hakskeenpan, Rietfontein en ook die omliggende plaaseienaars is betrek by die Rooiduin-roete wat aan besoekers nog opsies bied wanneer hulle die Kalahari gaan verken.

In die Park self is daar die Khomani San se Xaus Lodge wat luukse verblyf bied. Hier kan jy saam met gidse in die veld gaan stap om hul veldkennis te deel.

Die oord het ook internasionale erkenning gekry as ’n donker plek wat ideaal vir sterrekykers is. As jy ’n nog meer afgesonderde wildernis-ervaring wil beleef, kan jy byvoorbeeld die 4x4-roete van 180 km van Nossob na Mabuasehube in Botswana aandurf. Daar is maatskappye wat begeleide toere met gidse aanbied as jy dit nie op die afgeleë sandpaaie op jou eie wil waag nie. In Sanparke se laaste verslag word gemeld dat die Kgalagadi-oorgrenspark sowat 237 tot 256 leeus het, asook 600 bruin hiënas, 375 gevlekte hiënas, 150 luiperds en 200 jagluiperds.

Roofarende kom algemeen voor in die Kgalagadi. Hierdie een was besig om ’n molslang te verslind. Foto: Eben Human

Natuurfotograwe stroom gevolglik na hierdie park wat boonop meer as 300 voëlsoorte huisves.

Die Kgalagadi is veral bekend as ’n roofvoëlparadys. Van die klein dwergvalkie tot die groot breëkoparend, aasvoëls en uile kan jy hier vind.

Dit is eers wanneer jy baie stadig deur die Kgalagadi begin ry en fyner begin kyk na sy kleiner diertjies en voëls wat jy nog meer besef hoe ’n interessante bewaringsgebied dit werklik is. Om jong kinders te leer om met die hulp van ’n voëlgids die verskillende spesies te identifiseer, is iets wat hulle die res van hul lewe bewus sal maak van die geveerdes.

Wetenskaplikes begin nou baie konsentreer op die invloed wat aardverhitting op die natuurlewe kan hê. Deesdae sien jy byvoorbeeld baie minder neushoringvoëls.

Dit kan deur droogte veroorsaak word, maar stygende temperature kan baie van die voëls se broeiery verongeluk.

So word daar gekampeer by die Mata Mata-kamp. Hier is ook ’n doeanepos vir toegang na Keetmanshoop in Namibië. Foto: Eric Shaw
Ontmoet die Khomani San wanneer jy in die luukse Xaus Lodge bly in die Kgalagadi-oorgrenspark. Dit het ook internasionale erkenning gekry as bestemming vir sterrekyk. Foto: Max Bastard

Steppe-arende het van so ver as Rusland in die somermaande na die Kalahari getrek, maar jy sal baie gelukkig wees om nou van hulle te sien. Daar is met navorsing vasgestel dat hulle deesdae al meer in Arabiese lande oorwinter nadat natuurbewaring in die Midde-Ooste begin verbeter het.

Die Kgalagadi bly nogtans van die min plekke waar jy in die aand iets op die kole kan braai en in die nabyheid leeus, hiënas of jakkalse sal hoor. In die oorgrenspark kan jy in die veld slaap om die naggeluide en helder sterrehemel nog meer te waardeer. Moet dan nie verbaas wees om in die oggend vars leeu- of luiperdspore om jou tent te vind nie.

Die stroom na die Kgalagadi-oorgrenspark kan vinnig opbou as die koronavirus eers onder beheer is. Daar is baie natuurliefhebbers wat nou sal smag na ’n bietjie Kalahari-vryheid.

Meer oor:  Toerisme  |  Leeu  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.