Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Groet die grot, man!

As ’n mens ’n spiksplinternuwe nutsvoertuig tot jou beskikking het, dan gryp jy die geleentheid aan om te om ’n paar agterpaaie in die Baviaanskloof te gaan ry, skryf Michael Green.

Die nuwe Isuzu MU-X is gemaak om in plekke soos die Baviaanskloof mee rond te ry. Foto: Willemien Green

"Baviaanskloof toe! Eindelik kan ons nou ook daar uitkom,” het ek en my gesinnetjie gejubel toe ons die geleentheid kry om vir ’n naweek lank agter die stuur van die nuwe Isuzu MU-X SUV in te skuif.

Ons eie klein sedan is al gaar en ons hou maar op paaie waar die AA ons maklik kan kom help ingeval die outjie gaan staan.

Voor die Makkedaatgrot. Daar is ses sulke grotte wat in slaapplekke omskep is op die plaas.Foto: Willemien Green

Ons het dus die kans aangegryp om van Port Elizabeth af deur Baviaans toe te ry.

Maar waar in die Baviaans? Die Makkedaat-grotte het nog altyd na ’n goeie idee geklink en ons maak ’n bespreking vir drie – ek, my vrou, Willemien, en seun, Gareth (19).

Met die gepak sien ons die Isuzu het nogal heelwat spasie vir die beddegoed, sakke hout, kos en klere. Ook vir die koelhouer met die bier.

As ’n mens die agterste ry sitplekke ook opslaan, is daar sitplek vir sewe mense. Dis nou sewe mense wat nie van plan is om iewers te gaan oorslaap nie, want daar is dan bitter min laaiplek. Dit moet ook verkieslik kindertjies wees wat jy op daardie heel agterste sitplekke saamry, want die beenspasie is ook skraps daar agter.

Ons het gelukkig nie die ekstra sitplek nodig nie en dus kan ons maar die bier laai. Sommer die wyn ook.

Die grondpad van Steytlerville na Uitenhage is goed genoeg vir enige voertuig.Foto: Willemien Green

Vat die (lang)pad

Onthou jy daardie ou grappie van Mike Schutte wat gevra word, wat se kar ry jy, Mike? Dan antwoord hy: “ ’n Rooie.”

Wel, ons het ’n swarte gekry. As jy daardie 1980’s-TV-reeks Knight Rider gesien het, dan weet jy wat se soort swart ek van praat.

Maar daai karretjie waarmee David Hasselhoff rondgery het, was ’n swart luiperd. Dié Isuzu was die swart luiperd se boetie met ’n gim-lidmaatskap en sommer heelwat steroïede. Die ding lyk of dit enige oomblik in ’n Transformer kan omvorm, soos in ’n Michael Bay-fliek .

Henriëtte Terblanche ontvang mens vriendelik wanneer jy die Makkedaat-grotte besoek.

Oral waar ons gery het, het ons aandag getrek. By petrolstasies (waar ons diesel ingegooi het) het die pompjoggies omtrent my handtekening gevra.

Voor ons vertrek het ’n kollega gewaarsku die MU-X is nie ’n blits op die pad nie.

“Kyk maar mooi voor jy iemand probeer verbysteek,” het hy gemaan.

Ja, dis nou nie asof die MU-X ’n spoedvark is nie, maar daar is nie iets om oor te kla nie. Hy loop mooi en vinnig genoeg op die langpad, maar ons het mos nie ’n karavaantjie gesleep nie. Dis dán wanneer ’n Isuzu eintlik begin respek afdwing.

Die outomatiese ratkas is we­liswaar nie iets waarvan almal hou nie. Ek vermoed dis wat my kollega bedoel het oor die traagheid.

En met ’n outomatiese ratkas moet jy mos maar jou voet mooi op die spoedpedaal gebruik, anders voel dit dalk wel vir jou of jy op een plek bly staan en brom.

Só op die langpad ontdek Willemien toe ’n mens kan die agterste sitplekke verstel en daar gaan lê sy.

“As ons nou gaan kampeer, hoef ons nie eens ’n tent op te slaan nie,” reken sy.

’n Plakkaat in die ontvangskamer by Makkedaat wat vertel watse voëls jy als kan sien. Foto: Willemien Green
Só lyk een van die hoekies in die Makkedaat-grot.

Gareth sit voor en koppel sy selfoon aan die infotainment unit. Nou moet ons na trance-musiek luister.

Toe dit voel of ek gaan begin mal word, skreeu ek: “Staak vuur!” en met die vrede in die SUV herstel, ry ons Uniondale binne. Ja, mevroutjie het nie kans gesien om saam met my deur die Baviaanskloof Wildernisgebied te ry nie, so ons is Willowmore om Baviaanspoort toe.

Wanneer ons die grondpad tref, is dit natuurlik tyd om die 4x4 op die proef te stel. As ek gewoonlik net ’n bietjie vinnig ry op ’n grondpad skree mevrou Green soos ’n heks in ’n ou Fellini-fliek.

Nie dié keer nie. Sy weet nie eens hoe vinnig ek ry nie, want jy voel mos nou nie eens die knikke in die pad nie.

By die gevaarliker plekkies kruie ek wel stadig aan sodat sy foto’s kan neem.

Gareth Green aan die swaai op ’n wipplank in die Baviaanskloof.

Kry lafenis

Naby Makkedaat is daar ’n afdraai na die Uitspan-gasteplaas toe. Jy kan hier kamp opslaan én hier is ’n kroeg.

Ons spoel toe maar die stof by die kroeg af en Nico Smith, die eienaar van die plaas, vertel ons elke jaar as die bergfietsryers deur die kloof ry op die Trans Baviaanstoer is dit ’n groot finansiële inspuiting vir die gebied.

Ons kyk ook vir ’n paar oomblikke hartgebroke na ’n heruitsending van die Superrugby-eindstryd tussen die Leeus en die Crusaders.

Gelukkig druk Malcolm Marx daai troosdrie, en ons vang weer gees vir die pad. Voorwaarts!

Dis mos nou hoe ’n buite-toilet moet lyk

By Makkedaat se ontvangs wag Henriëtte Terblanche ons in.

“My man (Boetie) het hierdie grotte self leefbaar gemaak. Hy is ’n baie praktiese mens en ’n harde werker. So tussen die boerdery deur het hy en die werkers al ses grotte só ingerig,” vertel sy.

Die grotte is ver genoeg van mekaar sodat ’n mens jou privaatheid kan geniet. Hulle is almal per motor bereikbaar en jy hoef dus nie te sukkel om by hulle uit te kom nie.

By die ontvangskantoor sien ons ook dit was nie nodig om enige iets behalwe ons bier saam te bring nie.

“Ons verkoop hout, braaipakkies en ander kos hier,” sê die vriendelike Henriëtte. “En tuisgemaakte brood. En konfyt. En chilli-sous.”

Die grot waarin ons slaap, is iets om te bewonder. Boetie het die natuurlike holte in die berg mooi toegemaak met ’n houtmuur. Binne is ’n gasstofie, kaggeltjie, opwasplek en genoeg matrasse vir agt mense. Dis skoon en daar hang nie vlermuise van die dak af nie, maar jy kan tog sien jy is in ’n grot. Dis wonderlik.

Buite is ’n geskree. Dis Gareth wat soos ’n waansinnige op ’n soort wipplank al in die rondte swaai.

Toe spring hy af en hardloop soos Sylvester Stallone in Rocky IV teen ’n koppie uit op soek na ’n luiperd.

Tuinversierings in UniondaleFoto: Willemien Green

Die vars lug het duidelik ’n vreemde uitwerking op my seun.

“Luister,” sê Willemien toe Gareth eindelik ophou skree, “dis so stil my ore kry seer.”

‘n Baaise karweier wat homself in een van Uniondale se tuine tuisgemaak het. Foto: Willemien Green

Dis in erge teenstelling met sake by die huis. Ons bure in Richmond Hill in die Baai is mense wat van hul eie stemme hou. Die Zimbabwiërs aan die een kant se stemme sny soos kraspennetjies deur jou kop en die Nigeriërs aan die ander kant se bas stemme laat jou vuisvoos, reg vir die uitklophou.

Hier is ’n staproete van vier dae en ’n vier-by-vier-roete wat jy kan ry op die plaas, wonderlike tonele om af te neem en voëls om na te kyk, veral in die oggend.

Volgens die plakkaat in Henriëtte se kantoortjie is daar onder meer bosluisvoëls, kolganse, bloureiers en bruinjakkalsvoëls.

Ons probeer soveel as wat ons kan aanpak en ná ’n dag se ge­stap en gery is dit tyd vir vleisbraai in die klein lapa naby die grot.

Laatnag verwens ek myself oor al die bier wat ek gedrink het, want die grot het ’n buitetoilet. Die helder sterre daar bo laat ’n mens egter gou weer vreedsaam voel.

Die gerestoureerde watermeul op Uniondale.Foto: Willemien Green

Die teater en informasiesentrum op Uniondale.Foto: Willemien Green
Kies ’n ander koers

Op pad terug Baai toe besluit ek om die MU-X aan nog ’n toets te onderwerp. Die R329 tussen Willowmore en Steytlerville se eerste deel is mos ’n sementpad, ’n dunnerige streep sement – breed genoeg vir een motor – met ’n strook grond weerskante. Die sement is plek-plek gerif, gekraak of vol gate. Vir die MUX is dit kinderspeletjies en die enigste probleem is mevrou Green se senuwees.

By Steytlerville draai ’n grondpaadjie af na die Karoo-Teaterhotel waar daar soms burleske vertonings gehou word, maar die hek is toe en niemand wil ons inlaat nie. Ons hou aan met die grondpad, want die GPS sê mos ons sal wel die een of ander tyd in Uitenhage uitkom.

Dit word nog een van die hoogtepunte van die kort reis. Springbokkies met wit boude spring voor ons in die pad en ons sien ’n trop blouapies wat skynbaar ’n skaapboerdery oorgeneem het. Sowaar, dis net apies waar jy kyk daar tussen die skape, dit is nogal bisar.

Meerkatjies bestorm die MU-X se breë bande asof dit hulle gehipnotiseer het en vir lang ente is daar mooi doringbome met lang wit dorings wat vir ons vinger wys.

Ons sien ook eindelik ’n luiperd. Nee, ek jok, dit was net ’n lui perd. Twee lui perde, om presies te wees. Wittes. Soos spoke staan hulle daar in die veld die MU-X en aanstaar.

Skielik begin dit reën. Ek dink die ouens van Isuzu sal bly wees, want ons MU-X was vir ’n tyd lank bruin van al die stof. Nou is dit weer swart.

’n Waarskuwingsteken aan motoriste in die Baviaanskloof.
Raaskrans in die Baviaanskloof.Foto: Willemien Green
‘n Ou dorsmasjien op Uitspan, ‘n vakansie-oord in die Baviaanskloof.
Geroeste wrakke van ou motors langs die pad in die Baviaanskloof.
Uitlegkaart van die Makkedaatgrotte.Foto: Willemien Green
Die Makkedaat-grotte is almal in ’n kom geleë wat uitkyk op die Baviaanskloof. Foto’s: Willemien Green
Die klein stofie verwarm die grot heerlik in die winter en jy kan sommer terselfdertyd ook jou koffiewater warm hou.
Kuier in die lapa tot laat by die Makkedaatgrot.Foto: Willemien Green
(Lui) wit perde op die grondpad tussen Steytlerville en Uitenhage.
’n Ooi en haar skattige tweeling op die grondpad van Steytlerville na Uitenhage.
’n Arend langs die pad.
Stop by die Kleinpoort Pompstal vir iets om te drink.Foto: Willemien Green
Flitsfeite

Die voertuig: Die voertuig: Isuzu MU-X SUV

  • Enjin: 3.0-liter 4 silinder-turbodiesel
  • Wringkrag: 380 NM @ 1 800-2 800 RPM
  • Aandrywing: 4x2-agterwielaandrywing of deeltydse 4x4.
  • Ratkas: 6-Spoed outomaties
  • Prys: R568 000 (4x2) of R629 100 (4x4)

Die verblyf:

  • Waar: Op die oewer van die Rietrivier, Baviaanskloof
  • GPS: S33.52846, E23.72762
  • Prys: R240 – R350 per persoon per nag (afhangend van waar jy bly)
  • Kontak: 044 934 1012; 082 215 5175; www.makkedaat.co.za

Meer oor:  Baviaanskloof  |  Toetsbestuur  |  Toerisme  |  Doendinge  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.