Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Groot kuier en skaars hiënas wag by Kirkwood-fees

Besoekers aan die 18de Kirkwood-wildsfees wat van Vrydag 28 Junie tot Sondag 30 Junie duur, kan regmaak vir ’n groot kuier en ’n ongewone veiling van hiënas.

Vyf gevlekte hiënas van die Addo Nasionale Olifantpark sal tydens Vrydag se veiling onder die hamer kom. Dit is ’n eerste vir dié fees.

Kirkwood skud sy vere reg vir die 18de jaarlikse Kirkwood-wildsfees op die dorp. Van links is Nombulelo Bixa (burgemeester van die Sondagsriviervallei-munisipaliteit), Jennifer Honsbein (Wildsfees-direkteur), Alan Stapleton (Spar/naamborg) en Anban Padayachee van Sanparke. Foto: Lulama Zenzile

Bieërs van provinsiale en private wildreservate kan op die diere bie.

Nick de Goede, Addo se parkbestuurder, sê die hiënas is beskikbaar, want die park probeer die spesie beheer.

“Ons wil die mark uittoets. Indien dit lewensvatbaar is, gaan ons dit oorweeg om in die toekoms weer hiënas beskikbaar te maak.”

Anban Padayachee van Sanparke sê 75 bergsebras gaan ook op die veiling beskikbaar wees.

Die feesprogram bied oudergewoonte verskeie aanbiedings, aktiwiteite en optredes deur van Suid-Afrika se topkunstenaars op die Adventure Province-verhoog.

By die stalletjies sal biltong, wyn en ’n verskeidenheid eetgoed beskikbaar wees.

Lira, wat al internasionaal opgetree het en ’n beoordelaar van The Voice SA is, maak Vrydagaand haar buiging op die verhoog.

Ander kunstenaars wat Vrydag optree, is Early B, Elandré Schwartz, Liesel Pieters, Karlien van Jaarsveld, Nicolis Louw en Jo Black.

Kunstenaars wat Saterdag op die verhoog gaan wees, sluit in Deon Groot, Wicus van der Merwe, Saarkie, Brendan Peyper, Juanita du Plessis, Ghapi, Jan Bloukaas en Robbie Wessels.

Feesgangers sal ook Monster Energy se Flight Night vir die eerste keer in die Oos-Kaap kan beleef.

Flight Night doen sy naam gestand met ’n ontploffing van uitlaatgasse, ligte, klanke en vuurwerk, terwyl van die voorste plaaslike en internasionale waaghalse wys wat alles op ’n motorfiets gedoen kan word.

Die jongspan kan hul gunsteling-karakters soos Peppa Pig en Spiderman ontmoet.

Jennifer Honsbein, feesdirekteur, sê verblyf in die hele Sondagsriviervallei is so te sê uitverhuur. Sy het die borge en lede van die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning oor die jare.

Kaartjies vir die fees kos R150 per dag vir volwassenes, onderskeidelik Vrydag, Saterdag en Sondag. ’n Naweekpas van R350 gee toegang vir al drie dae.

Kinders tussen sewe en 17 jaar oud betaal R70 per kaartjie per dag. ’n Naweekpas vir kinders kos R150.

Sassa-pensioentrekkers betaal R100 vir ’n kaartjie. Kaartjies is beskikbaar by die hek, Mafuta-padstal in Kirkwood, Westway Tickets op die hoek van Lewerkie- en Hoepiestraat in Cotswold en by BZN Stationers in Uitenhage.

Meer oor:  Doendinge  |  Veilig  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.