Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Grootsheid van berg van drome
Die Annapurna-basiskamp hoog in die Himalajas is waar jy oornag om die mooiste sonsopkoms denkbaar te sien. Dit het twee en ’n halwe dae se stap geverg tot hier. Foto: Waldimar Pelser

Sou hy weet wat kom, het Waldimar Pelser dalk nie die klimtog na die Annapurna-basiskamp in die Himalajas aangepak nie. Tog is hy dankbaar hy het en moedig álmal aan om dit ook te doen.

Dit verg dalk buitensporige inspanning om jou in hierdie tyd van Covid-19 te verbeel dat jy op ’n ysige piek in die Himalajas na ’n sonsopkoms staan en kyk met trane van blydskap wat oor jou wange rol – terwyl Checkers en die poskantoor die verste is wat jy in vier maande van die huis af was.

Maar selfs die gehoorsaamste grendel-kluisenaar mag mos maar droom, al is jy nie juis ’n klimmer nie en het jy jare laas enigiets hoër as ’n trapleertjie bestyg om gordyne wat na motbal stink bo uit die spaarkamer se kas te haal.

Hierdie is ’n storie oor voetslaan in die Annapurna-gebergte in Nepal se Himalajas, ’n berg waaroor dit die moeite werd is om te droom – met die bonus dat dit nie by droom hoef te bly nie.

Klim hom, al is dit eers volgende jaar.

Uiteindelik daar. Wilhelm van der Hoven en Waldimar Pelser by die Annapurna-basiskamp.

Maar eers ’n bekentenis: Die enigste rede waarom ek in ingewillig het om saam met Wilhelm van der Hoven die Annapurna-basiskamptrek aan te pak – in Desember se winter, nogal – is dat ek te besig was met ander reise en dinge om my huiswerk behoorlik te doen.

Hy het die huiswerk en beplanning hanteer.

What could possibly go wrong?

As ek self meer opgelees het, sou ek geweet het die kwik daal snags in Desember maklik na -15 °C by die Annapurna-basiskamp (ABC) waar ons die nag van Saterdag 8 Desember sou deurbring in ’n houthut met papierdun mure sonder verhitting, sodat ons die volgende oggend kan sien hoe die son se eerste strale teen die hange van Annapurna I kaats (teen 8 091 m eis dié piek die titel van die wêreld se tiende hoogste op).

As ek self meer opgelees het oor die wedervaringe van ander vreeslose (soos Wilhelm) en minder vreeslose voetslaners (soos ek) sou ek straks van die risiko geleer het om ’n dag ná ’n sneeustorting en aardtrilling, swaar gelaai met aardse besittings en met jou voete in plastieksakke teen die nattigheid, teen ’n helling vol vars sneeu langs te kronkel met toringhoë kranse links van jou en regs van jou ’n almagtige turkoois rivier wat dreun onder in die ravyn.

Ek sou dalk besef het dat as jy in daardie temperature met gewone hardloopskoene vir ses uur stap op modder, dan sagte sneeu, dan harde ys, jy naderhand die gevoel in jou tone verloor en dat as jy sou gly en in ’n bergstroompie val, jy jou tone kwyt kan wees as jy hulle nie vinnig met behulp van ’n keroseenstoof kan ontdooi nie.

Behoede jou as dit ver van ’n oornagplek sou gebeur, so trap maar móói.

As ek geweet het wat voorlê, het ek die staptog dalk nooit aangepak nie. So dankie tog ek was salig onbewus van dit wat wag, want ek sal dié ervaring nooit vergeet nie.

Niks staan in skerper kontras met die skaduagtige valleie waarin so baie van ons se lewens tydens inperking loop as die pieke en kruine en hemelse vistas van die Annapurna-roete nie.

Dit was ’n lewenshoogtepunt

Die eerste sonstrale kaats teen Annapurna I, die wêreld se tiende hoogste piek. Foto’s: Waldimar Pelser

Binne twee en ’n half dae het ons daardie Desember vanaf Kimche, ’n gehuggie met niks meer nie as 30 inwoners, begin stap, op en af, oor tentatiewe hangbrûe bo diep Himalaja-valleie, oor bruisende strome, deur modder en deur ys, in hitte en koue, tot by die Annapurna-basiskamp, 30 km se stap van onder na bo.

Ek het uitsigte gesien wat netsowel my laaste kon gewees het, want dit was so hartstogtelik mooi.

Ons reis het begin in die hoofstad, Katmandoe, vanwaar ons met Buddha Air na Pokhara gevlieg het, poort na die Nepalese Himalajas. Jy kan ook ’n bus vat, maar die vlug is vinnig en teen $125 (net oor die R2 000) elke sent werd . . . mits hy natuurlik opstyg: Weens wispelturige weer vertrek vlugte in die voetheuwels van die Himalajas selde betyds.

Op Pokhara koop jy, as jy vol geld is, als wat jy nie vir die ekspedisie saamgebring het nie.

Ons het liewer gehuur: Stapstokke (noodsaaklik), ’n slaapsak teen die ekstreme koue (noodsaaklik), ’n baie groot waterdigte windbreker met kappie (noodsaaklik).

New Bridge: Moenie afkyk nie!

’n Nag of wat in Pokhora, wat soos iets in die Switserse Alpe voel teen ’n kwart van die prys, is aan te bevele voor jy begin klim.

Al wat ek daar ekstra gekoop het, was ’n noupassende top en broek van vliesstof (fleece) – daai tweede vel waarby jy al die ander lae klere voeg as dit koud is en wat jy afskil as die son vir ’n ruk skyn.

My grootste fout was dat ek nie vooraf behoorlike waterdigte stapstewels gekoop en ingeloop het nie. Die regte stewels is veral nodig in die winter wanneer dit sneeu. Ek sal selfs volgende keer ’n metaalharnas vir my skoene kry wat vir ’n stewiger vastrap op die ys sorg.

Jy wil immers nie gly en ’n enkel verswik nie – die noodhelikopter na onder kos ’n hele paar duisend dollar, en dís as jy die val oorleef.

Koop ook voor jou vertrek in Pokhara die permit waarsonder niemand toegang tot die Annapurna-bewaringsgebied kry nie. Neem daarom altyd ekstra paspoortfoto’s saam, en kontant.

As jou tyd min is, maak soos ons en huur ’n Jeep om jou te gaan aflaai by Kimche, waar die grondpad finaal eindig en die voetpaadjies na bo begin, anders stap jy die eerste voldag deur bra onaansienlike stofstrate terwyl die Annapurna I verleidelik in die verte knipoog.

Desember is eintlik reeds die einde van die klimseisoen, want dis baie koud, so ons had geen probleem om vervoer, toerusting en verblyf onderweg te vind nie (die spitstyd is Oktober).

Op, op, op . . .

Só lyk die verblyf heel bo. Daar is geen verhitting nie.
Kort-kort loop die roete deur die mooiste gehuggies.

Elke dag het ons gemiddeld 10 km afgelê en op dag een so ses en ’n half uur gestap van Kimche (1 784 m) na Chhomrong (2 170 m), deur diep, lowergroen valleie en met steil kliptrappies op, op, op. Teen dié lae hoogte is die temperature nog matig en die dorpslewe ’n vreugde om te aanskou.

Jy eet by “teehuise”, waar die spyskaart altyd dieselfde is en die pryse opkruip hoe verder die portiere die eiers en hoenders op hul rûe na bo moet dra.

Maak jou hart en lyf warm met masala-tee.

Op dag twee spring ons met sonop weg en stap via die gehuggies van Sinuwa, Bamboo en Dovan na Himalaya (2 920 m), waar dit reeds bietjie begin sneeu het.

Ons het geen verblyf vooraf bespreek nie, maar wel probeer om ’n paar uur voor sononder reeds die volgende dorpie te probeer bereik om ’n kamer vir die nag te soek.

Aan tafel daai aand vertel ’n Chinese vrou van ’n aardbewing tussen Himalaya en ons volgende stop, Deurali, waar ons mik om die Sondagoggend op pad na die basiskamp (ABC) ontbyt te eet.

Jou lewe vereenvoudig.

Op pad na bo moet jy soms ietwat skrikwekkende paadjies soos dié navigeer.

Kos, skuiling, hitte, veiligheid. Jy bekommer jou nie oor stort nie; dis regtig te koud.

Water skep jy uit stroompies, of koop gefiltreerde water by die gemeenskappe wat 11 maande van die jaar hoog bo in dié berge woon om stappers soos jy teen ’n klein bedrag te huisves.

Op dag drie bereik ons die oggend Deurali, waar Wilhelm se skoene voor ’n keroseenstoof uitgedroog word nadat hy op ’n bamboespaal gegly en in ’n ysige stroom beland het, en kort ná middagete die Machhapuchhre-basiskamp, die laaste rusplek voor ons in digte mis en in diep sneeu skuins voor 17:00 aankom by die Annapurna-basiskamp (4 130 m bo seevlak).

Dit was snerpend koud en selfs dié tyd van die jaar was die twee herberge amper vol. Hoe vroeër jy aankom, hoe veiliger.

Eerste lig by Annapurna I.
Jip – dis ’n bruggie daai. Moenie gly nie!

Kort voor sononder trek die wolke weg. Oorkant die spierwit maanlandskap waaroor ons gestap het tot hier verrys een van die Himalajas se skouspelagtigste pieke, Machhapuchhre (6 993 m, die “vis se stert”), in warm geel lig. Dit is heilig. Die trane loop.

Dis ’n geweldige oomblik.

Die aand word verwyl in die gemeenskaplike sitkamer – sonder verhitting. Jy trek al die klere aan wat jy saamdra en sit boonop in ’n slaapsak gewikkel.

Dis minus 15. Tee, tee, tee.

Voor sonop stap ons na ’n krans waarvandaan die Annapurna-piek met eerste lig sigbaar word, eers spookagtig grys teen die nag, dan spoel die son in koper en goud van heel bo tot diep in die vallei terwyl jy wonder wat jy gedoen het om te verdien om hierdie skouspel te sien.

Selfs nou, amper twee jaar later, kan ek die grootsheid daarvan nie genoegsaam beskryf nie.

Om te weet

As jy die Annapurna-basiskamproete aanpak, stap jy elke dag net so ver as wat jy wil, onder die voorwaarde dat jy betyds die volgende teehuis en dus slaapplek wil bereik.

Daar kry jy ’n bed en matras, aandete, ’n louwarm stort as jy kans sien om jou klere hoegenaamd uit te trek, en kan jy ook teen ’n klein bedrag jou selfoon laai.

Als kos meer hoër op teen die berg, maar dis nooit peperduur nie en selfs by ABC kos ’n beskeie ete minder as R100.

Pasop op pad op om nie te vinnig te klim nie – hoogtesiekte is dodelik en daar is geen manier om 100% seker te maak dat jy dit nie sal kry nie.

Die roete vereis geen klimwerk nie, jy stap heelpad en klim baie trappe, maar plek-plek sal jy jou hande moet gebruik om oor ’n klip of wat te klim soos wat dit maar in berge gaan.

Hou die weer dop en neem ’n behoorlike plastiekseil saam om bo-oor jou rugsak te span as dit sou reën terwyl jy stap. Op pad af sal die knieë begin lol maar daar is volop mooi plekke om te rus – en selfs kans om te sien hoe mans soos honderde jaar gelede groot rotse met hamers breek totdat dit fyn gruis is – hier reis jy dus ook terug in tyd.

Ons hele avontuur het Vrydagoggend in Phokara begin, Sondag was ons bo, en Woensdag was ons terug waar ons begin het. Toe – jy kan dit doen . . . sodra ons grens natuurlik weer oopgestel word.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.