Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Hier gebeur die lewe teen ’n stadiger pas

Nie te ver van die mees suidelike punt van Afrika nie, sal jy ’n wegbreekdorpie aantref met twee name – die een genoem na ’n seegrot en die ander na ’n skeepswrak. Op Arniston, ook bekend as Waenhuiskrans, word jy byna gedwing om jou spoed te verminder en jouself te bederf, vertel Malani Venter.

Die Arniston Spa Hotel op Arniston, ook bekend as Waenhuiskrans, in die Overberg. Foto’s: CAPE COUNTRY ROUTES

Met die jaar wat so te sê halfpad is, en die winterskoolvakansie net om die draai, reken Buite dis tyd om te beplan vir ’n genotvolle wegbreek.

Cape Country Routes (CCR) verskaf inligting oor verskeie aktiwiteite en blyplekke, waarvan die meeste redelik naby aan groot sentra geleë is.

Dit bied aktiwiteit- en verblyfbestemmings, soos die Arniston Spa Hotel, wat deel vorm van CCR, langs Suid-Afrika se gewilde padroetes. Elk van die 22 bestemmings het genoeg water danksy hul proaktiewe water­besparingstegnieke.

Vir ’n wegbreek van jou daaglikse roetine en iets wat die kinders se gesigte sal laat ophelder, mik vir ’n vinnige padroete seelangs van die Moederstad af, of as jy kans sien vir ’n avontuur wat effe langer gaan duur, pak in vir ’n rit na die Addo-olifant Nasionale Park in die Oos-Kaap.

Die kleurryke vissersbootjies wat al generasies lank deur plaaslike vissermanne gebruik word.

Hier is vier aanbevelings:

1. Geniet jou wegbreek buite

Begin jou ruskans met ’n buitelug-staptog in die De Hoop-natuurreservaat buite Bredasdorp.

Jy kan solank uitsien na dié beskermde gebied se heuwels, wit sandduine, see-uitsigte (jy sal dalk nog ’n paar dolfyne sien), inheemse plantegroei en diverse klein wilde diere soos springbokke, en voëls.

Verblyf wat geskik is vir jou begroting sluit in selfsorg­hutte, luukser selfsorgkothuise en vyfsterhuise.

Die binnehof van die Arniston Spa Hotel. In die somermaande is dit ’n plek van pure ontspanning.

2. Welkom in Agulhas!

Nie te ver van Arniston nie sal jy Agulhas kry, bekend as Afrika se mees suidelike punt, waar die Atlantiese en Indiese Oseane bymekaarkom. Dié mooi bestemming is die tuiste van die Agulhas Country Lodge, ’n pragtige hotel wat van natuurlike kalksteen gebou is en op die rand van die dorp op die kranse net bokant die see geleë is.

Die restaurant se spyskaart sal jou oortuig om vir ’n volgende kuier terug te kom. Jy kan ook die vyfsterete met ’n besoek aan die hotel se sigaarkamer met konjak en topgehaltesigare afsluit.

Die opening van die Waenhuiskrans-seegrot. Beslis ’n besoek werd as jy hier kom oorbly. Moet dit liefs nie die eerste keer sonder ’n toergids soek nie.

3. Sien kans vir die langpad

Hoewel die Zuurberg Mountain Village in die Addo-olifantpark gewild is by oorsese toeriste, is dié Eduardiaanse bestemming ook ’n gunsteling by plaaslike besoekers en diegene wat ’n gesinsuitstappie uit Port Elizabeth wil onderneem.

Die Zuurberg Mountain Village se verblyfpakkette het meer as genoeg plek vir kleintjies om te gaan verken.

* Die reeks aktiwiteite wat hier aangebied word, sluit viertreksafariritte, bergstaproetes en spabehandelings in. Meer inligting en besprekings: www.capecountryroutes.com

Kort voor verkiesingsdag neem die pad my na ’n strandoord sowat 24 km vanaf Bredasdorp en 43 km via die R316/R319 vanaf Kaap Agulhas in die Overberg.

Ek word ingeteken in die Arniston Spa Hotel met ’n hoendervelmooi uitsig oor die see. Dié viersterhotel met sy 67 kamers, waaronder BBP-, luukse, superieur, see- en swembaduitsig­kamers, pronk ekstra wit in kontras met die blou see.

Van die kamers het ook kaggels (heerlik vir die winter) en die see-uitsigkamers het ’n private balkon met ’n panoramiese uitsig oor die water. Die res kyk uit op die binnehoftuin en -swembad. Dus is dit maklik om iets te kies wat jou sak pas.

Wanneer dit nie hooggety is nie, kan jy langs die kus heerlik die rotspoele verken en jou verkyk aan al die rotsformasies. Maar wees versigtig, selfs met laagwater moet jy jou oë op die branders hou.

Vir uitpak is daar nie kans nie. ’n Toergids staan gereed in die voorportaal om die groep besoekers die Waenhuiskrans-seegrot, ’n kort stapafstand vanaf die hotel, te gaan wys. Dis juis hierdie seegrot waaraan die dorpie een van sy name, Waenhuiskrans, te danke het.

“Dis groot genoeg om ’n wa en ’n span osse te huisves,” word langs die pad vertel. Dis nog ’n rukkie voordat die hooggety inkom, daarom kan ons die rotspoele behoorlik bekyk en genoeg foto’s met die selfone neem. Deur ’n kleinerige skeurtjie in die rotse klim jy gebukkend deur en word dan verras met ’n enorme seegrot vol rotsklippe en -poele.

Dis moeilik om ’n foto te kies om die vele rotsformasies en uitsigte langs Arniston se kus te wys. Dis beter om self te kom kyk.Foto’s: MALANI VENTER

Dis iets om te aanskou en laat jou stil van verwondering. Ek stel voor dat ’n mens nie met jou eerste besoek die grot op jou eie gaan soek en verken nie. Maak eerder gebruik van ’n toergids wat die getye ken en presies weet hoe om daar te kom.

Die uitsigte hier ding behoorlik met mekaar mee; daar is egter nie ’n wenner nie. Elkeen bied iets besonders, ’n nuwe foto, nóg ’n string oe’s en aa’s.

Ná die verkenningstog langs die kus gaan maak ek my tuis op die hotel se stoep. Voor my besoek hoor ek uit alle oorde van die “legendariese spyskaart” wat ek hier sal teëkom. En dis inderdaad waar.

Die seekosdisse en uitsig vanaf die stoep laat my swymel.

’n Besoek aan die hotel se Ginkgo-spa het my ook vir ’n wyle laat vergeet van “verkiesingstres”. Hier leer jy om rem te trap, die stadiger pas aan te pak en net ’n pamperlang-wegbreek te geniet.

Kom maak jou tuis op die stoep, gaan verken die kleurryke vissersbootjies in die hawe wat steeds deur die plaaslike vissers gebruik word, en verwonder jou aan die witgekalkte huisies van die aangrensende vissersdorpie Kassiesbaai, ’n nasionale monument binne stapafstand van die hawe, of die kus met sy asem­benemende uitsigte.

Meer oor:  Waenhuiskrans  |  Toerisme  |  Naweekwegbreek  |  Buite  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.