SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Buite
Chobe: Hier klim Afrika diep in jou hart
Een van die toeriste in Botswana se Chobe-wildparadys het gesê nêrens sak die son so mooi soos oor die valleivlaktes en riviere van Botswana nie. Foto’s: Clifford Roberts

Sedert trofeejag in 2012 in Botswana verbied word, het vele lodges en wildplase hul deure gesluit. Nou floreer die wild, skryf Maryke Roberts nadat sy dié land besoek het.

By die Ngoma Safari Lodge, net buite Botswana se Chobe Nasionale Park, het Afrika finaal my hart verower. Dit is ’n lang storie wat in paaie­mente vertel moet word.

Die Chobe Nasionale Park is Botswana se eerste nasionale park en is in 1968 geproklameer. Dit beslaan 11 700 vierkante kilometer. Die Choberivier vorm die noordelike grens.

Hoewel die laaste renosters in dié land reeds 30 jaar gelede uitgewis is, is daar geen tekort aan ander wildspesies nie – inteendeel, die oorvloedige getalle is verstommend.

Die land se president het in 2012 wetgewing uitgevaardig wat jag verbied, en vele lodges en wildplase het hul deure gesluit. Nou floreer die diere. Daar word gereken dat Chobe alleen 200 000 olifante het. En as ek ons gids van Ngoma, Johane Mathengu, reg verstaan, eet een volwasse olifant tot 250 kg per dag en drink hy 160 tot 200 liter water per dag.

Die droogte wat die groot reën van die laaste paar weke voorafgegaan het, het sy tol geëis, en ek sien hoe die gedagtes aan dooie olifante langs die pad hom ontstel het – hoewel dit net die natuur se manier is om die droogte te hanteer. Ook ander diere plant nie in droogtetye voort nie, sodat die natuur se balans behou word.

Terwyl ons wag vir Mathengu en sy magneetnommer (wat elke voertuig moet vertoon sodat owerhede kan sien wie die sondaar is as parkreëls oortree word, of sodat hulle weet watter voertuig om te gaan soek as probleme opduik), gewaar ek twee voertuie met Bellville-registrasienommers by die park se Sedudu-hek.

Die viertrekvoertuie is swaar gelaai. Twee pare kom uit. Albei mans is met ’n beursie doenig terwyl die een vir die ander sê: “Nee, man, ontspan, jy betaal weer môre vir die park se toegang.”

Ai, hoe lekker: mense wat die natuur geniet en self die Caprivi-strook en die Okavangodelta gaan verken en wie se entoesiasme in Afrikaans gedeel word!

Hoewel die laaste renosters in dié land reeds 30 jaar gelede uitgewis is, is daar geen tekort aan ander wildspesies nie – inteendeel, die oorvloedige getalle is verstommend.
Chobe – die plek waar die olifante doodluiters by jou venster verbystap.
Met meer as 460 voëlspesies aangeteken, is jy in die Chobe-omstreke verseker van belonende ’n voëlkyk-uitstappie .

Ons loer om te sien hoe die magneet lyk toe Mathengu dit op Australiërs se deur gaan sit. “Ons nommer is 23. Dit beteken ons wil vandag meer as 23 spesies sien!” reageer die vrou laggend.

Mathengu glimlag: “Ons gaan dubbeld daardie getal sien. Sedudu beteken ‘die plek waar diere vergader’.”

Namate ons wildrit vorder, hoor ons dat net Kaapse buffels hier voorkom; dat jy twee groepe olifante kry: teeltroppe met kalfies en koeie, en manlike vrygeseltroppe; dat kameelperde hul lewe lank geen geluid maak nie; dat die wollerige kapperbos roofdiere goeie wegkruipplek bied en plaaslike mense sy wortels droog en brand teen heksery; dat die Choberivier sy naam te danke het aan die dae toe boomstompe rivierlangs vervoer is vir die land se houtbedryf choba die woord is wat werkers gebruik om mekaar aan te moedig om die swaar stompe te stoot.

Ons sien hoe ’n kaalwangvalk heeltemal onwaardig teen ’n droë boomstam opklouter en termiete van die oppervlak afpik. Ons is verstom om in die boom langsaan ’n stuk of 40 rooikeel-byvreters te sien wat met hul bloedrooi borsies soos Kersversierings teen die grys takke uitstaan.

Ons hou stil toe meer as 300 buffels oor die pad na die rivier stap. ’n Naaldekoker kom sit op ons lugdraad se punt – soos die lemoentjie op ons bure se Cortina in die 1980’s, merk ek droog teenoor my man op.

Ver in die veld gewaar ons drie leeus wat in die skaduwee van ’n boom rus. Die een wyfie lê soos ’n lui huiskat op haar rug. Al wat van haar sigbaar is, is die reusepote, wat ontspanne teruggevou is. Kort-kort loer ’n jong maanhaar oor ’n dooie stomp na ons.

Naderhand het ons bykans elke moontlike spesie in die park gesien: van die kleinste miskruier tot olifantbulle; van berghane en witrug-aasvoëls wat in

Ons kamer by Ngoma Safari Lodge is meer ’n luukse woonstel met sy eie lapa en swembadjie en kyk uit oor die Choberivier. Die oop stuk veld langs ons kamer is ’n deurgang vir olifante na die water

die lug sirkel tot piepklein sysies; van kameelperdkalwers tot reusagtige olifant- en buffelbulle.

Terug by die lodge vertel een van die personeellede hoe die olifante by kamer 1 se swembadjie water gedrink en die tuintjie omtrent kaal gevreet het.

Saligheid daal oor ons neer toe ons op die dek gaan sit en oor die valleivlaktes en die rivier uitkyk na ’n hele trop olifante wat in die rivier kom bad. ’n Hiënagesin draf stadig nader om te drink, en ’n visarend-paar, wat nes maak in die boom onder die lodge, roep na mekaar.

’n Mens kan nie anders nie as om hier in dié ongereptheid jou hart aan Afrika te gee nie.

Meer oor:  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.