Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Hobby Park bied baie vir fietsryers

Teen dié tyd weet ek dit nou beslis, daar is lente in die lug en daar is min dinge wat my so bly maak, want ek is seker daarvan hoe ouer ek word, hoe moeiliker raak dit om soggens op te staan en te gaan oefen.

Stephen Fowler, ’n Woesrand-klublid wys hoe mens een van daai bultjies moet benader. Foto: Chris Kuun

Fietsryers kan maar sê net wat hulle wil, maar daar is niks lekker daaraan om in die donkerte op jou fiets te klim terwyl jy voel hoe ’n yswind jou ledemate een vir een afvries nie. Ek het al so koud gekry op my fiets tydens winterritte dat ek kon sweer een van my tone lê los in my skoen, afgevries. Daarom erken ek skaamteloos dat ek die afgelope winter meer as een keer die ouens by die klub per WhatsApp met allerhande geldige verskonings laat weet het ek gaan nie saamoefen nie.

Vandag skop my persoonlike fietsrykalender vir die res van die jaar by Sun City met die Cycle4­Cansa af en volgende week is ons ’n hele Suid-Afrikaanse groepie wat in Mauritius die jaarlikse Vets & Masters- driedaagse fietsrytoer gaan ry.

Daarna is dit tyd vir die jaarlikse Cape Pioneer Trek in Mosselbaai, George en Oudtshoorn, en in Oktober is dit die Change a Life­-fietstoer in Sardinië in die Mediterreense See (ek tel die slapies af hiervoor – die hoogtepunt van my jaar).

Ek weet nou al ek moes eintlik maar tydens die winter harder geoefen het vir alles wat nou opkom, maar nes daardie stout kinders op skool wat mos altyd wag vir die laaste aand voor die ek­samen om ’n boek oop te maak, leer ek ook nie my les nie.

Ek het darem die laaste tyd heerlike fietstogte saam met my vriende gedoen en een van die beste ontdekkings vanjaar was toe ek saam met een van die Woesrand-klubouens, Luigi Ragni, by die Hobby Park-fietsrypark in Robert Broomrylaan gaan ry het.

Hobby Park is eintlik amper op die drumpel van my huis en behalwe dat dit ’n veilige omgewing is waar jy kilometers van verskillende terrein kan ry – daar is geboude enkelspoorpaadjies met lekker vloeiende draaie – is daar iets vir elke fietsryer met verskillende tegniese vaardighede en fiksheidsvlakke.

Terésa Coetzee

Ek en Luigi het een Sondag­oggend sommer net ’n vinnige 20 km by Hobby Park gaan ry en ek was regtig verbaas oor wat die park ryers bied. (Luigi oefen vir sy eerste Munga-marathon in Desember en ry vir die liefdadigheidsorganisasie Mercy Ships.)

’n Mens kan egter jou roete verleng en tot 35 km ry. Toegang kos R50 om die hele dag daar te ry, of R100 per maand, dan kan jy die hele maand ry.

Bowenal het hy vertel dat die eienaars van die bekende Kingskloof (ook aan die Wes-Rand), Avianto en Hobby Park aan groot planne werk om al drie hierdie parke te verbind sodat fietsryers toegang kan hê tot honderde kilometers se roetes.

By Hobby Park is vier verskillende roetes wat duidelik gemerk is en dit wissel tussen die swart-, rooi-, groen- en blouroete.

Die swartroete is werklik net vir baie gevorderde ryers wat hou van ’n lekker uitdaging. Die ander roetes is heeltemal rybaar en toeganklik.

Ons het tot aan die bopunt van die Walter Sisulu Botaniese Tuin gery en eers gestop vir ’n paar foto’s van die mooi uitsig.

Op Saterdag 14 September vind die jaarlikse Beeld-Kinderfonds se Spinathon ook weer by die Iren­e Village Mall plaas en hierdie jolige byeenkoms is beslis die moeite werd. Dit skop om 08:00 af en duur tot 14:00. Deelnemers kan kies hoeveel skofte hulle wil ry.

  • Vir meer besonderhede, besoek www.beeldkinderfonds.co.za of stuur ’n e-pos na info@beeldkinderfonds.co.za.
Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Bergfiets  |  Fietsryers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.