Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Hoe koel is dit! Jy kyk voëls . . .

Ek weet ek gaan nou soos ’n regte hipster klink, maar ek was ’n voëlkyker voordat dit koel was.

Ja, jy het reg gehoor. As jy naweke by jou plaaslike voëlskuiling uitkamp met ’n kakie-onderbaadjie, verkykers vas teen jou oogbanke en probeer uitwerk of die voëltjie voor jou nou ’n doodgewone gevlekte muisvoël is of ’n (snak) witkopmuisvoël (Bird­life SA moet sommer dadelik gebel word!), geluk! Jy is ook nou amptelik deel van ’n stokperdjie wat as “koel” beskou word.

Carla Lewis

Condé Nast Traveler het reeds in 2017 geskryf dat voëlkyk een van die vinnigste groeiende reistendense is. Wanneer iemand jou vertel hy gaan op ’n bootvaart na ’n eilandargipel om boobies te gaan kyk, is hy nie ’n grillerige loervink wat na vroue wat bostukloos sonbaai gaan staar nie. Hy gaan waarskynlik blouvoetmalgasse soek.

Voëlkyk was nie altyd die glansrykste van alle stokperdjies nie. Voëlkykers is so bietjie soos die jukskeispan op hoërskool.

Die kinders wat daaraan deelgeneem het was so bietjie vreemd en niemand kon regtig die aanloklikheid van die sport verstaan nie.

Dis nie soos branderplankry en velddraf, waar die deelnemers gewoonlik mooi, aktiewe mense geklee in spannende lycra-uitrustings is nie.

Mense vereenselwig dit met onbeholpe middeljarige ooms in kakie-onderbaadjies, wat verwoed na een of ander lewerik, tinktinkie of bosbontrokkie soek, wat vir die lekeoog na net nog ’n klein bruin voëltjie lyk.

Kyk na drankadvertensies, die barometer van begeerlike leefstyle en opwindende stokperdjies. Jy sal nie ’n whiskey-advertensie sien waar ’n groep voëlkykers ’n knertsie duur enkelmout skink nadat hulle ’n besonderse skaars voël gewaar het nie.

Dit is alles bestem vir aktiwiteite soos seil en kunsvlieghengel. Voëlkykers het ook niks “after action satisfaction” beleef toe sigaretadvertensies nog wettig was nie. Daarvoor moes jy ski of rollemskaats. Maar, as jy kyk na die groeiende aanhang onder rocksterre en Hollywood-akteurs (Cameron Diaz is glo ’n voëlkyker), is ons nie meer so ’n vreemde spesie nie.

Persoonlik blameer ek Pokemon Go vir die groeiende gewildheid. Om rare elektroniese diertjies op jou selfoon te vang, is nie veel anders as om daardie bedreigde lifer tussen die boomtakke te soek nie.

Maar ek sal nooit ophou verwonder wees deur die klein wonderwerk van ’n gewone troupant nie, selfs al sien ek honderde in die Kruger.

Ek kan verstaan waarom millenniërs aanklank daarby vind, veral omdat daar ook nou soveel voëlkyk-apps is wat jou help om jou elsies van jou tobies te onderskei en jou boonop na hul roep kan laat luister.

Ek, aan die ander kant, is steeds maar so ’n bietjie van die ou skool. Ek besit ’n regte gedrukte voëlboek en ’n paar verkykers. Daar is iets meer diepgesetel aan die ritueel om die voëltjie te beloer, hom dan na te slaan en op papier te identifiseer, as om al sy kenmerke by ’n blikbrein in te voer en te wag dat hy vir jou moontlike kandidate uitspoeg. As hy ’n heerlike naam het soos bontroklaksman, of feevlieëvanger of groenrugkwêkwêvoël, sê ek dit hardop. Voëlkyk is ook net meer pret in Afrikaans.

Party mense is voëlkykers omdat hulle daardie geveerde kluitklaplysie najaag om soveel lifers as moontlik af te tik. Om ’n nuwe voël te sien bly spesiaal, veral wanneer dit ’n skaars of bedreigde spesie is. Ek sal nooit vergeet toe ek die eerste keer in die donker poele van ’n visuil se oë gekyk het, of gesien het hoe ’n elegante waterploeër oor die silwer waters van die Chobe-rivier gly nie. Om na vergeleë bestemmings te reis om die merkwaardige voëls te sien, bly immers ’n voorreg.

Ek is ook van plan om in my leeftyd ’n blouvoetmalgas, skoenbekooievaar en Angolese pitta by my lysie te voeg.

Maar ek sal nooit ophou verwonder wees deur die klein wonderwerk van ’n gewone troupant nie, selfs al sien ek honderde in die Kruger. Wanneer Wolraad, die swartkeelgeelvink, jaar ná jaar in die laatwinter, vroeglente terugkeer na die koorsboom buite my kamervenster en ’n hele harem nessies weef vir al sy wyfies, is ek vasgenael voor die sepie wat voor my afspeel. (Gaan sy intrek? Gaan sy die nes verwoes?)

En wanneer ek een oggend die rubberagtige piepgeluid van ’n rooikeelbyvreter hoor (wat klink soos iemand wat rou halloumi-kaas kou) en die reënbogie met vlerkies buite my huis se venster gewaar, is dit net so spesiaal soos enige ander lifer.

Dis die wonder van voëlkyk, jy kan halfpad om die wêreld reis en tienduisende rande bestee om ’n pronkende paradysvoël te sien. Of jy kan van jou voorstoep kyk hoe ’n swerm rooikopvinke in jou voëlbad baljaar.

  • Carla Lewis is ’n artikelskrywer en Beeld se inhoudsredakteur op Saterdae. Hierdie rubriek is die eerste in ’n reeks oor voëlkyk, wat elke derde Saterdag gaan verskyn.
Meer oor:  Carla Lewis  |  Omgewing  |  Buite  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.