Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Interessante kinkel in dié ren

Die afgelope week was dit weer tyd vir die jaarlikste Wines2Whales-bergfietsmarathon en die Kaap het behoorlik uit sy nate gebars met al wat ’n fietsryer is.

Die Wines2Whales-marathon vind in van die mooiste dele in ons land plaas: vanaf Somerset-Wes tot by Onrusrivier.

Verlede naweek het die eerste byeenkoms plaasgevind, die Chardonnay. In die week was dit die Pinotage, en die naweek is dit die Shiraz, die marathon waaraan baie van die professionele ryers kom deelneem.

Selfs Donderdag op my Kulula-vlug Kaap toe het ’n mens die manne met hul geskeerde bene en mooi kuite op ’n afstand al gesien en die fietsrysakke op die vervoerband by die lughawe het maar net my vermoede dat hulle ook Valies is wat aan die W2W kom deelneem, bevestig.

Hulle se die naweek se Shiraz gaan ’n winderige besigheid wees, maar ek vat 100 maal eerder die wind as die modderbad wat die arme Chardonnay- en Pinotage-ryers al vroeër die week in die gesig moes staar. Ek het al hierdie einste byeenkoms in reën en modder gery en glo my, dis nie my gunstelingtydverdryf nie.

Vanjaar is die 11de jaar dat hierdie gewilde byeenkoms wat by die wynlandgoed Lourensford afskop en in Onrusrivier by die see eindig, plaasvind en die organiseerders het pas aangekondig dat hulle ’n interessante kinkel in volgende jaar se marathon gaan byvoeg: die bekende roete van die afgelope 11 jaar word volgende jaar in die teenoorgestelde rigting gery, met ander woorde as’t ware van die walvisse na die wynlandgoedere toe.

Volgende jaar vind die Chardonnay vanaf 30 Oktober tot 1 November plaas, die Pinotage van 2 tot 4 November en die Shiraz van 6 tot 9 November.

Volgens die ren se direkteur, Hendrico Burger, is daar intussen wonderlike enkelspoorpaadjies bygevoeg sedert Johan Kriegler en sy span die roete in 2010 uitgelê het en om ten volle van hierdie paadjies gebruik te kon maak, moes hulle die hele ren so ’n bie­tjie herbedink.

Van die beste paadjies is by die Hemel en Aarde Vallei, Gaf se Bos en die voet van die Helderberg en die hele span het die dapper besluit geneem om die ou roete heeltemal om te keer.

Dit gaan beteken dat die Wines2Whales-marathon nou elke jaar gaan roteer. Die een jaar gaan dit in Somerset-Wes begin, en die volgende jaar in Onrus.

Die tweede skof van die marathon gaan steeds gekenmerk word as die “speelskof” daar by Oak Vallei en Paul Cluver-wynlandgoedere, hoewel die organiseerders verklap het dat die dag ook ’n paar nuwe verrassings gaan inhou.

Terésa Coetzee

En tydens die laaste skof gaan ryers weer oor die bekende Gantouw Pass moet stap, maar dié keer is dit darem afdraande in plaas van die opdraande soos tydens die oorspronklike Wines2Whales, al die pad terug tot by Lourensford waar die ren dan sal eindig.

Al drie skofte gaan sowat 70 km ver wees en hoewel die eerste skof in 2020 dalk bietjie moeiliker gaan wees as die oorspronklike roete, gaan die tweede skof min of meer dieselfde wees.

Die derde skof is volgens dié wat weet weer so bietjie makliker as die oorspronklike roete, maar die hoeveelheid wat ryers oor die drie dae vertikaal gaan klim, bly eintlik maar dieselfde.

Inskrywings vir volgende jaar se Wines2Whales maak reeds op 5 November oop en kan op die webwerf gedoen word.

November is een van die besigste maande wat fietsry in ons land betref. Môre vind die gewilde Tshwane Classic by die Voortrekkermonument plaas (en laat inskrywings kan daar gedoen word). Buiten die 947 Cycle Challenge se bergfietsren op 10 November, vind die groot padren op 17 November plaas en die week daarna is dit weer tyd vir die Double Century ren in Swellendam. Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat Breitling weer vanjaar ’n “droomspan” bymekaar gaan sit, so van die wêreld se heel beste atlete gaan weer die paaie met ons deel op hierdie dag.

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Bergfiets  |  Fietsry  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.