Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ja, dié voël bestaan regtig!

As daar nou al ooit ’n gedrog was wat lyk asof hy deur die skrywer Lewis Carroll in ’n opiumwaas opgedroom is, is dit die skoenbekooievaar (Balaeniceps rex).

Sy snawel lyk soos ’n Midde-Oosterse skerppunt-pantoffel, met ’n permanente grinnik wat ’n mens die indruk gee hy is besig om een of ander bose plan te beraam.

’n Skoenbekooievaar by die Murchison-waterval nasionale park in Uganda. Foto’s: iStock

Bo-op rus twee kraalogies en op sy kop is ’n vere-kuifie wat parmantig wip as hy vir prooi in moerasse en vleilande soek. Boonop is dit ’n groot voël; sommige van hulle word tot 1,5 m lank.

As hulle mekaar die hof maak, klap hulle hul snawels soos oorywerige Flamenco-dansers met kastanjette, wat dan soos die rat-tat-tat van ’n semi-outomatiese wapen oor die moeras dreun.

As dit kom by disfunksionele gesinsverhoudinge, kan diévoëls ook hul eie werklikheidsreeks kry, of selfs ’n ware lewensdrama-dokkie op die Crime and Investigation (CI)- kanaal. Al die elemente is daar: afwesige ouers, mededinging tussen die kinders, telgies wat voorgetrek word, kinderverwaarlosing en dan die groot tragedie, kuikenmoord. Letterlik.

Ma lê gewoonlik twee eiers, maar die tweede eier is as’t ware ’n versekeringspolis, as die een kuiken nie deurtrek nie. Die sterkste kuiken sal die swakker een boelie, hom pik en sy kos steel, terwyl Ma en Pa soos versotte ouers al hul aandag en kos vir hul sterker bloedjie gee.

Op die ou einde vrek die swakker kuiken van verwaarlosing.

Disfunksionele verhoudings, of te nie, dié voël lê onder die topvyf-voëls wat ek graag in my leeftyd sal wil sien. Eintlik is hy heel boaan my lysie.

Kyk hoe kyk hy vir my . . . ’n Nabyskoot van ’n skoenbekooievaar.

Dis egter nie so maklik soos om Krugerwildtuin toe, of selfs na een van ons buurlande te ry nie.

Jy moet Oos-Afrika toe mik; die naaste skoenbekooievaars aan ons sal jy vind in die Bangweulu-moeras, in die noordweste van Zambië.

As jy gelukkig genoeg is om Uganda toe te reis om gorillas te kyk, sal jy waarskynlik op die Entebbe-lughawe land.

Slaan sommer twee vlieë met een klap en bespreek ’n dagtoer na die Mabamba-moeras (waar jy sommer ook ’n paar ander interessante Oos-Afrika-voëls op jou lysie kan afmerk).

Omdat die ooievaar so gesog is onder voëlkykers, is daar wel talle safari-operateurs in Entebbe wat vir jou een tussen die riete kan uitsnuffel.

Om ’n skoenbekooievaar te soek, is harde werk en jy sal waarskynlik ’n kenner of gids se hulp moet inroep – iemand wat die voëls se habitat en hul gewoontes goed ken.

Hulle verkies ondeurdringbare papirusmoerasse en vleilande as hul habitat en is besonder menssku.

Boonop is hulle skaars: Birdlife International klassifiseer hulle as kwesbaar en skat hul wêreldwye bevolking tussen 5 000 en 8 000 voëls.

Meer oor:  Omgewing  |  Buite  |  Voëlkyk  |  Skoenbekooievaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.