Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Joel se wenk vir Epic: Oefen harder en eet minder

Destyds was dit rugby wat Joel Stransky bekend gemaak het, maar deesdae is hy ook ’n bekende in fietsrykringe en ons sien hom dikwels op die podium. Hy gesels met Terésa Coetzee oor liefdadigheid, fietsry en sy planne vir vanjaar se Epic.

Joel Stransky

Om die verwondering en opheldering op ’n kind se gesig te sien wanneer hy of sy vir die eerste keer in hul lewe ’n bril kry, is ’n gevoel wat die oud-Springbok-rugbyspeler byna nie kan beskryf nie en dis hierdie gevoel wat hom genoop het om sy liefdadigheidsorganisasie, die Lumo Hawk-stigting, te stig.

Sedertdien het hierdie organisasie al honderde gesiggestremde kinders gehelp om ’n bril te kry en beter te sien. Dit het hul hele toekoms as’t ware aangrypend verander.

“Toe die hardloper Elana Meyer­ my 11 jaar gelede gevra het om die Cape Epic saam met haar te gaan ry vir haar liefdadigheidsorganisasie, het ek ingespring en al my kliënte en kontakte om geld gevra vir liefdadigheid.

“Ek het daardie tyd sulke kenmerkende ‘mohican’-hare op my valhelm gehad en daarvoor bekend geword, so teen die tyd toe ek my eie liefdadigheidsorganisasie begin het, het ek besluit om dit Lumo Hawk te noem.

“Dit is in 2011 begin en uit die staanspoor het ek besluit die geld wat ingesamel word moet vir minderbevoorregte kinders gaan wat hul opvoeding kan verbeter.

“Ek glo regtig opvoeding en skoling is die hoeksteen van ons land se toekoms. Hierdie jong kinders is die toekomstige leiers, kapteine, bestuurders en werkers van ons land; dis ons plig om hulle op te voed en op te lei,” sê Stransky.

Die afgelope 18 maande het hulle betrokke geraak by gesiggestremdheid. “Ons het agtergekom hoeveel kinders nie goed kan sien nie en eintlik ’n bril nodig het.

“Ons het intens by hierdie projek betrokke geraak en ek het intussen toerusting gekoop waarmee kinders se oë getoets kan word en ons het reeds 1 000 kinders se oë getoets, waarvan 400 kinders brille gekry het.”

Die groot vyf

In uithou-sportkringe word daar met respek gepraat van mense wat al die grootvyf-byeenkomste aangedurf het – dis die Ysterman (driekamp), die Comrades (hardloop), die Cape Epic (bergfietsry), die Twee Oseane-ultramarathon (hardloop) en die Robbeneiland-uitdaging (swem). Stransky het verlede jaar dié enorme taak aangepak in ’n poging om meer bewustheid oor die werk van die Lumo Hawk-stigting te skep en hulle het meer as R100 000 ingesamel.

“Wanneer mense my nou vra wat was die moeilikste, was dit by verre die 8 km-swem tussen Robbeneiland en Bloubergstrand.

“Dit was bitterlik koud die dag gedurende die swem, daar was ’n lastige wind en ek het halfpad deur so koud gekry dat my vingers heeltemal kromgetrek het.

“Dit het beteken dat ek glad nie ordentlike slae kon swem nie. My gesig was so dood en koud dat ek nie eens kon voel terwyl ek water drink nie.”

Hy het die Comrades onder 10 uur gehardloop en sê die ander uitdagings was almal relatief maklik in vergelyking met die swem.

“Ek is soos ’n kakkerlak, ek hou maar net aan. As ek my kop op ’n ding gesit het, kry min dinge my daarvan af,” sê Stransky.

Stransky wil vanjaar sy 11de Cape Epic voltooi.

Cape Epic sluip nader

Vanjaar neem Stransky vir die tiende keer aan die gewilde bergfietsmarathon die Cape Epic deel (dit sou sy 11de keer gewees het, maar in 2018 het hy ’n baie slegte val in die proloog gehad en kon daarna nie verder ry nie).

“Die Cape Epic is ’n baie unieke monster wat ’n mens moet aanpak en jy gaan ry dit nie onvoorbereid nie. Jy móét baie hard oefen en jou liggaam voor die tyd kondisioneer om in staat te wees om ’n Epic te kan ry,” sê Stransky.

Hy sê vanjaar se Epic gaan veral moeilik wees omdat dit die vertikaalste klim is wat tot nog toe in ’n Epic baasgeraak moes word en selfs hy is skrikkerig daarvoor.

Op die vraag wat sy wenke is aan mense wat die Epic vir die eerste keer gaan ry, antwoord hy laggend: “Oefen harder en eet minder!”

Hy voeg by dat jy gedurende die Epic die lewe vir jouself so maklik as moontlik moet probeer maak.

“As jy kan, moenie in daardie tentjies bly nie, want ’n mens slaap nie goed nie en dis lastig om in die nag so ver toilet toe te moet loop.

“Sorg dat jy soveel as moontlik kalorieë inneem elke dag. Onthou, jy eet vir die volgende dag en jy kan nie bekostig om uit brandstof te raak nie.

“Ons maak ook gebruik van goeie dienspakkette vir ons fietse en masserings. Dit alles help. Maak seker jou fiets is gediens en jou fietsryklere is gemaklik. Ek gaan nie die Epic in sonder om baie goed voor te berei nie,” sê Stransky.

Oefen, oefen, oefen!

Maandae is gewoonlik sy rusdag en dis selde of ooit dat jy Stransky sal kry oefen op ’n Maandag.

“Dinsdae ry ek tussen twee en ’n half uur en drie uur buite op die pad en dis gewoonlik ’n maklike sessie. Woensdae doen ek ’n binnenshuise sessie op die statiese fiets en Donderdae is dieselfde as Dinsdae.

“Saterdae en Sondae ry ons langer en ek probeer minstens een of twee sessies in die gimnasium ook te doen waar ek my bene­ en maag met gewigte oefen,” sê hy.

Hy kyk baie goed na sy eetgewoontes en hy het ’n paar jaar gelede heeltemal opgehou rooivleis eet omdat almal in sy familie met cholesterol sukkel. Die enigste rooivleis wat hy wel eet, is volstruis so af en toe.

Deesdae volg hy eintlik ’n plantgegronde dieet en hy eet baie min hoender en vis. “Wanneer ons by vriende braai, sal ek wel ’n stukkie vleis eet, want ek wil glad nie daai ou wees wat almal irriteer nie. Ek het ook ’n bietjie van ’n swak punt as dit kom by koek en lekker degerige eetgoed en ek moet maar selfbeheersing toepas,” sê hy.

In sy waterbottels in lang marathons ry hy met elektroliete en hy probeer te veel suiker en koolhidrate te vermy.

Hy weeg nou ’n volle 10 kg minder as in sy rugbydae . . .

Meer oor:  Cape Epic  |  Joel Stransky  |  Planne  |  Fietsry  |  Liefdadigheid  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.