Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Jy leer jou liggaam ken met fietsry

Ek skrik nie vir koue pampoen nie, maar vir koue op ’n fiets wel en vorige jare het ek allerhande goeie verskonings gehad waarom ek nie op ’n weeksoggend voor werk op my fiets hoort nie. Hierdie jaar is dinge egter mos so ’n bietjie anders en vanoggend was ek vir die eerste keer sedert die inperking begin het, weer op my fiets daar in my geliefkoosde Wieg van die Mensdom. En al was die windjie maar effe koud en skraal, was dit hemels om net weer die vryheid te ervaar, vars (koue) lug in te asem en te sien hoe die veld intussen van lowergroen na skakerings van bruin en geel verander het. Daar was heelwat ander fietsryers wat ook daar gery het, die koue en afstandsreëls ten spyt.

Hierdie foto is in die hartjie van die Wieg van die Mensdom geneem gedurende die jaarlikse Glacier Cradle Traverse. Dié ren sou verlede week plaasgevind het, maar dit is toe in ’n virtuele byeenkoms verander. Foto: Fanus Oosthuizen, Oakpics

Een van die redes hoekom die Wieg van die Mensdom seker altyd vir my ’n bekoring sal inhou, is nie net omdat dit is waar die meeste van ons fietsryers naweke oefen nie, maar ook omdat ek letterlik my eerste trappe in die fietsrywêreld in daar gegee het. Die heel eerste fietsren waaraan ek in my lewe deelgeneem het, was ’n nagren by Teak Place en ek het nog op ’n geleende bergfiets sonder ’n lig by die beginpunt opgedaag. Ek verbeel my die afstand was so 25 km en hier by die 12de kilo toe almal my alleen daar in die donkerte gelos het, was ek reg om huis toe te gaan. Maar omdat ek daar in die middel van nêrens was, moes ek noodgedwonge deurdruk eindpunt toe waar ek ’n T-hemp en ’n medalje vir my poging gekry het.

My vriende lag hulle slap as ek hulle vertel ek het gedurende daardie ren ’n hele paar glase Coke gedrink en sommer twee energiejels net ingeval ek dalk uit brandstof raak (ten spyte daarvan het ek in elk geval doodmoeg geraak en duskant laaste gekom!).

Sedert daardie beginjare van fietsry tot nou toe, het ek seker omtrent so 18 kg ligter geword en dis regtig wonderbaarlik hoe sport ’n mens leer om jou liggaam te ken en te verstaan.

Deesdae drink ek net Coke tydens langafstand-marathons soos die Cape Epic en die Joberg2C en ek eet veel eerder ’n piesang of ’n aartappel as wat ek ’n energiejel oor my lippe sit.

Van vandag af kan fietsryers ná ’n fietsrit weer ’n lekker varsgebroude filterkoffie by die Bidon Bistro in Muldersdrift koop. Foto: Verskaf

Ek sal in my lewe nooit vergeet nie hoe ek een skoot by Johan Bornman, ’n fietswerktuigkundige, gaan aanklop het vir hulp om my fiets vinniger te maak. Hy het reguit vir my gesê dit gaan baie goedkoper en doeltreffender wees om net gewig af te skud. En Johan was reg. Daar is ’n baie goeie rede waarom die professionele ryers so pedanties is oor wat hulle oor hul lippe sit – elke tien onse op ’n fiets maak inderdaad ’n verskil op die heuwels van die Tour de France.

Ek het intussen baie geïnteresseerd geraak in die hele Keto-beweging omdat dit mos deesdae die jongste dieet-gier is en terwyl ek voorheen nooit daarvan sou droom om op ’n leë maag te gaan oefen nie, het my liggaam geleer om dit te kan doen en deesdae pak ek maklik ’n 40 km lange tog aan met net 15 ml MCT-olie en ’n suikervrye amino-drankie in my waterbottel. Let wel, ek sal nooit ’n resies op ’n leë maag aandurf nie en dis gek om nie ontbyt te eet voor ’n marathon nie.

Maar ek glo dat wanneer jy wel afwisselend vas, kan jy jou metabolisme ’n aansienlike hupstoot gee en die doeltreffendheid met tot 13% verhoog. Om minder koolhidrate en suiker te eet werk beslis vir my, maar dan moet ’n mens die regte vette en proteïene inneem vir genoeg energie.

Van vandag af is die gewilde Bidon Bistro in Muldersdrift weer oop en fietsryers kan van 05:30 af veilig daar parkeer. Terwyl ’n gesonde afstand gehandhaaf word, is daar kos-trokke waar besoekers koffie en allerhande lekker wegneemetes kan koop.

Ander bergfietsparke in die omgewing wat ook reeds oop is, is:

Pretoria

  • Rosemary Hill
  • Buffelsdrift
  • Wolwespruit
  • Hazeldean Trails
  • Hennops Trails

Centurion

  • The Big Red Barn

Johannesburg

  • Cradle Moon
  • The Cradle Trail
  • Northern Farm
  • Taroko Trail Park (Modderfontein)
  • Braamfontein Spruit
  • Thaba Trails
  • Rietvlei Trails
  • Hobby Park Trails Kingskloof
  • Cycle Lab Bike Park, Bryanston
  • Johannesburg Country Club

(Bron: Treadmtb.co.za)

Meer oor:  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.