Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Kafees neem ’n mens op ’n nostalgietoer

Alle Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, het sekerlik ’n wat-ek-die-meeste-mis-lys. Dis dalk maklik om te raai: koeksisters, skaap­tjoppies op die vuur, daai tannie se blatjang, ’n Afrika-sonsondergang. Maar toe ’n voormalige Suid-Afrikaner skryf hoe hy na ’n regte kafee verlang, het dit by Ilse Zietsman vasgesteek.

Die mees suidelike kafee in Afrika moes ’n tydelike naamsverandering ondergaan toe dit deel van ’n TV-reeks uitgemaak het. Foto: Ilse Zietsman

Ek neem al jare foto’s van plattelandse kafees, hoek­kafees, vis-en-tjips-kafees, ag, sommer enige kafee wat my oog vang.

Min van ons ken nie ’n kafee uit ons kinderdae nie. Of jy nou oud genoeg is om van loslekkers en suigysies in plastieksakkies te onthou al dan nie, almal het ’n kafee of twee waarmee hulle hulle kan vereenselwig.

Selfs Ernst van Heerden het gedig oor sy pa se dorpswinkel waarin daar altyd iets van alles was, soos hy later onthou het. In “Algemene handelaar” beskryf hy sy pa se winkel as “argitek­tonies onooglik”; dit het “twee verspotte uitstalvensters”, “ ’n wye stoep” en “gewel­reklame met spelfoute en al”.

Deesdae sien ’n mens min kafees wat nog met gewels kan spog, maar die spelfoute is immer aanwesig. Baie dorpskafees waar veral op Vrydagmiddae en Saterdagoggende fluks op die stoep gekuier word, val nie noodwendig sag op die oog nie, maar ’n eietydse verweerde sjarme bly hulle by.

Die onpretensieuse vooraansig van ’n kafee op Prins Albert. Sou dit nog so lyk? Foto: Ilse Zietsman

Die mees suidelike kafee in die land

Die L’Agulhas Kafee Superette was eens op ’n tyd pruimpers geverf; in ons huis staan dit steeds as “Die Pers Kafee” bekend.

Tydens die skiet van ’n TV-reeks het dié kafee selfs vlugtig die Swartwater Kafee Superette geheet.

Die L’Agulhas Kafee is werklik die mees suidelike kafee in die land, soos ook bokant die kafee se deur verkondig word.

Op die voorste muur van die kafee is ’n vis uit klippies­mosaïek wat al sedert die 1960’s daar is, só vertel een van die ooms van die distrik.

Benewens brood, melk, tandepasta en die koerant kan jy ook by dié kafee petrol ingooi. Die kleinspan kan op ’n munt­outomaat-perdjie ry wat lyk asof dit eens deel van ’n ou mallemeule was.

Klapmuts se kafee (hoewel dit nie van buite na ’n kafee lyk nie) is Mao-rooi; voorheen was dit Omo-blou. Foto: Ilse Zietsman

’n Kafee met ’n stoep en ’n gewel

Bredasdorp, Kaap Agulhas se buurdorp, het self ’n kafeegebou met ’n geskiedenis. Rooistoepies het eintlik rooi trappies, maar ook ’n outydse, blinkgepoetste rooi stoep en gewel.

Benewens Rooistoepies was dit al die Oasis Supermark en Kafee; deesdae huisves dit De Jagers Uitrusters.

Die mense van die dorp onthou hoe hulle kleintyd kerk toe geloop het, maar op pad soontoe eers by Rooistoepies vir lekkergoed ingewals het.

Die viskafee op Bredasdorp wat eens Valley Fisheries geheet het, spog met sy eie klein geweltjie.

Deesdae is die viswinkel se naam Just Caught. Hy verkoop nie net vis nie, maar ook calamari en viskuite.

Die Rietbron Kontant Winkel is lankal nie meer pers en geel nie, vertel iemand nou die dag. Foto: Ilse Zietsman

Klim af by Klapmuts

Klapmuts se kafee is wel nou die Mega China Shop – weliswaar met die hart van ’n kafee – maar dis steeds so helder soos môre heeldag geverf.

Dit was al Omo-blou; die afgelope paar jaar is dit weer Coke-rooi. Of is dit nou Mao-rooi . . .

Nie te ver hiervandaan nie en in teenstelling hiermee is daar by Mike’s Algemene Handelaar en die Koelenhof Posagentskap by die Muldersvlei-spooroorgang skaars ’n leksel rooi te bespeur.

Baie kafees huisves ook posagentskappe soos Die Rooi Spens op Hermon. Foto: Ilse Zietsman

Waar daar Coke is, is daar vriendelikheid

Gepraat van Coke-rooi, oorkant die Hermon-hotel naby Riebeek-Kasteel is Die Rooi Spens. Op sy bloedrooi kammagewel staan: “Waar daar Coke is, is daar vriendelikheid.”

Niks van die spelfoute soos “vroue klerasie afdeeling”

waarna Van Heerden goediglik verwys nie; alles is reg gespel hier.

Die Rooi Spens verkoop lugtyd, kruideniersware en vrugte en groente, staan op die muur. En pienk polonie as die hongerpyne jou opkeil.

’n Algemene handelaar ontlok amper altyd ’n mate van nostalgie. Foto: Ilse Zietsman

Elandsbaai se eie kafees

Oorkant die Elandsbaai-hotel gaap die skuurdeur van The Lazy Libra. ’n Reddingsboei hang langs die deur.

’n Ronde houtbord lys wat binne te koop is: hout, seekos, roomys, hardeware, hengelgereedskap, geskenke en ys. Ook “snoek tackle” en “wax”, lees ek op die muur.

Vir die oningeligtes en nie-swemmers (soos ek): Dié waks word op branderplanke gesmeer om ’n beter greep te verseker. Elandsbaai is mos juis bekend vir sy branders!

Die hout is op ’n kruiwa voor The Lazy Libra gestapel sodat jy dit nie kan miskyk nie.

Langs ’n swartbord waarop “dop-ys” geadverteer word, poseer ’n grysbaard-Rasta gemoedelik as hy nader gewink word.

Van Heerden kon hierdie kafee beskryf het toe hy verwys het na “opeenhopings van allerlei negosies”. Al wat verskil, is dat wat vir jou “onkoopbaar” is, vir my heel moontlik onweerstaanbaar is.

’n Straatblok of wat verder bly die Sonskyn Kafee oop tot laat. Benewens die gewone verkoop die kafee ook motorolie, bootenjinolie, braaiwors, maalvleis, samoesas en “bompies” (gevriesde vrugtesappies).

Waar ’n mens ook al in die land rondry, loop jy ou kafees raak; ’n mens weet net nie altyd hoe lank hulle nog gaan sake doen voordat hulle dalk ook verdwyn nie. Foto: Ilse Zietsman

Raai waar’s Rietbron

Wat sê dit van jou as jy iemand ontmoet wat vertel dat hulle van Rietbron kom en in een asem byvoeg dat jy nie sal weet waar dit is nie en jy dan kan antwoord dat jy al dié gehuggie se kafees gekiek het? Ja, sommer twee.

Met die uithaal van die foto’s om te bewys dat ek nie tande trek nie, is ek gemoedelik in­gelig dat die Rietbron Kontant Winkel nie meer donkerpers en kanariegeel is nie; die Rietbron Algemene Handelaar ook nie meer verbleikpienk nie.

Vir dié wat nie weet nie, Rietbron is in die hartjie van die Karoo, omtrent halfpad tussen Willowmore en Beaufort-Wes.

Ek vermoed by dié algemene handelaar is nie naastenby so baie “in- en uitlopers wat groet” soos by Van Heerden se pa se winkel nie; ook nie dosyne “besoekers, handelsreisigers (en) skoolkinders” nie.

Dis darem net te ver uit die pad uit.

Rooistoepies op Bredasdorp het soos ’n (kafee)kat al ’n paar lewens gehad. Foto: Ilse Zietsman

Wat sou geword het van . . .

As ek so deur my ou kafeefoto’s blaai, weet ek dis tyd om weer agter die wiel in te skuif. Tyd om te gaan kyk hoe lyk die Droë Vlakte Kafee, Alg. Handelaar en Slaghuis en die Botterkloof Algemene Handelaar General Dealer net buite Stilbaai en Brugstories in Stilbaai deesdae.

Sou die Lekkerbek Kafee en die Omkom Stoor op Prins Albert nog sake doen? Word daar dalk weer koerante by die Handelshuis Aurora afgelewer?

Wat van die Indraf Kafee op De Rust?

In die kafees van ouds was daar nog “toegeneentheid en liefde vir personeel en klante”, wat die algemene handelaars van destyds op hul voorname geken het; soms loop ’n mens nog ’n titsel daarvan raak wanneer jy dit die minste verwag.

Die Sonskyn Kafee op Elandsbaai is oop tot laat en net die plek om in te draf as jy op die ingewing van die oomblik besluit het om te braai. Foto: Ilse Zietsman

Meer oor:  Nostalgie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.