Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Kapenaar kraai koning in Sanparke se foto-kompetisie

’n Kapenaar en twee Gautengers is die wenners van Sanparke se jaarlikse fotografiekompetisie.

Deelnemers het die geleentheid gekry om hul beste foto’s wat in een van Suid-Afrika se nasionale parke geneem is in vier kategorieë met twee afdelings (DSLR-kameras of kompakte en selfoonkameras) in te skryf. Die verskillende kategorieë het uit fauna en flora, landskappe, leefstyl en fotostories bestaan.

Rowan Krull, ’n finansiële bestuurder van Oos-Londen, het die eerste plek gewen met ’n seldsame fotostorie wat wys hoe ’n leeuwyfie in ’n boom klim.

“Ek is baie opgewonde omdat ek gewen het. Dit is wonderlik om dié stel foto’s met almal te deel,” het die 37-jarige Krull Woensdag gesê.

Volgens Krull was hy sowat 50 m van die toneel af en was dit die perfekte oomblik om die leeu se boomklim-manewales met sy Panasonic FZ200-kompakkamera vas te lê.

Krull, ’n ywerige amateurfotograaf, het die wenfoto’s in Maart op ’n uitstappie aan die Krugerwildtuin geneem. Hy het twee nagte se verblyf in ’n nasionale park van sy keuse gewen.

Die algehele wenner en wenner in die fotostorie-kategorie vir kompakkameras en selfone was Rowan Krull met sy foto’s van ’n leeuwyfie wat in ’n boom klim.Foto: Rowan Krull
Nog een van Krull se wenfoto’s.Foto: Rowan Krull
Volgens Krull was hy sowat 50 m van dié seldsame toneel af.Foto: Rowan Krull

Maddison-Lee Brinkley van Centurion het tweede gekom met haar sonsondergang-foto van skulpe wat uitgespoel het op ’n strand. “Ek het dié foto verlede jaar in Desember op ’n strand in die Namakwa Nasionale Park geneem. Ek gaan elke jaar met vakansie na daardie omgewing en neem altyd foto’s van die asemrowende sonsondergange. Ek glo dat elke dag ’n geleentheid bied om iets unieks vas te vang. Hierdie foto is maar een van die vele wat ek met my Huawei P20 Pro-selfoon geneem het. Die park is ongeveer ’n uur en ’n half se ry op die grondpad van Garies af, die naaste dorpie. Die plek staan onder plaaslike inwoners as Groenriviermond bekend.”

Die 25-jarige Brinkley, wat as ’n ontleder in die versekeringsbedryf werk, het twee aande se verblyf by die Golden Gate-hotel en -chalets in die Golden Gate Hoogland Nasionale Park losgeslaan. Die sukses wat sy in die fotokompetisie behaal het, spoor Brinkley nou aan om haar stokperdjie verder te neem. “Ek voel dat die tyd nou aangebreek het om ’n behoorlike DSLR-kamera aan te skaf. Wie weet, dalk wen ek die fotokompetisie volgende jaar,” het Brinkley geskerts.

Maddison-Lee Brinkley van Centurion het tweede gekom met haar sonsondergangfoto van skulpe wat uitgespoel het op ’n strand in die Namakwa Nasionale Park. Foto: Maddison-Lee Brinkley

Die Pretorianer Elize Labuschagne, wat haarself as ’n groot diere- en natuurliefhebber beskryf, het derde gekom met ’n uitsonderlike fotostorie van ’n jakkals en ’n slang wat sy op een van haar vele fotosafari’s met haar DSLR-kamera geneem het. Sy het as prys ’n Wild Card-lidmaatskap vir ’n paartjie, wat ’n jaar lank geldig is, gewen.

Die Pretorianer Elize Labuschagne het derde gekom met ’n uitsonderlike fotostorie van ’n jakkals en ’n slang wat sy met haar DSLR-kamera geneem het.Foto: Elize Labuschagne
’n Slang in die bek . . .Foto: Elize Labuschagne
Hierts, jou glibberige ding!Foto: Elize Labuschagne

Meer oor:  Sanparke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.