Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Doendinge in die Paarl
Kom beleef die kuns en kultuur

In die winter het die Paarl ’n bekoring wat jou begroet wanneer jy in die ellelange hoofstraat (die langste in die land) afry. Miskien is dit die kleurryke restaurante en koffiewinkels, dalk die landgoedere se wingerde of die historiese geboue langs die pad, skryf Malani Venter. 

Ag, toe Pollie, kom ons gaan Paarl toe! Moenie dié winter die dorpe op jou voorstoep miskyk nie. Die Paarl bied iets vir elkeen – hier is talle doendinge vir die buitelug-entoesias en die winterdisse is iets wat jy moet kom ervaar.Foto: VERSKAF


Daar kom naweke op ’n mens se pad, veral in die winter, wanneer jy so min as moontlik aktief wil wees. En dis heeltemal reg om elke nou en dan onder ’n kombers voor die kaggel te sit en so te sê niks te doen nie. Maar moenie dat dit dié seisoen ’n gewoonte word nie.

As die energievlakke regtig laag is, maar jy nog kans sien om ’n paar kilometer te ry, dwing jouself om in die motor te klim en die pad te vat na die Paarl (sowat 62 km vanaf Kaapstad via die N1). Want sodra jy dié Bolandse dorp se hoofstraat binnery, is dit so goed of jy het ’n vitamien B-inspuiting gekry!

Hier is my voorstel vir ’n voortreflike wegbreekoggend óf -naweek in die Paarl:

Eet jou trommeldik 

Kyk uit vir die pienk borde in die hoofstraat met die naam.

Massiewe burgers:Water jou mond nie al klaar net deur hierna te kyk nie? Kom eet burgers by Barley & Biltong Emporium by die Spice Route.Foto: MALANI VENTER
Kyk uit vir dié pienk borde: In die Paarl se Hoofstraat is Kikka een van jou besoekpunte wat jy in die Paarl moet besoek.Foto: MALANI VENTER

­Kikka daarop. Dié koffie-en-blommewinkel is iets vir die oog. Met die intrapslag sal jy jou verkyk aan die bosse proteas wat hier uitgestal word of iemand se kunstige hande besig om ’n fynbosruiker aanmekaar te sit.

Die eienaars, Karike en Abe, het in 2014 begin met laekoolhidraat-weergawes van die disse op hul spyskaart. Wees gewaarsku: Dis nie ’n maklike taak om net een dis van hul spyskaart af te kies nie!

Vir massiewe gourmetburgers is die Barley & Biltong Emporium by Spice Route net die plek om te wees.

Sjokolade vir Afrika:Pieter de Villiers maak die wonderlike sjokolades wat jy by die Spice Route kan koop. Foto: MALANI VENTER

Dié bestemming is ’n gemeenskap op sy eie wat deel uitmaak van die beste wat die kosbedryf jou kan bied. Hier sal jy ’n verskeidenheid van talente bymekaar kry – soos die sjokolade­maker Pieter de Villiers van De Villiers Chocolate, Brenda de Jager se speserywinkel Brenda’s Deli of die bekende sjef Bertus Basson wat tradisionele Suid-Afrikaanse disse met ’n effense andersheid in sy restaurant opdis.

Delizioso! Die sjef Guiseppe Massolini sal vir jou in sy huis ’n egte Italiaanse gereg opdis op die landgoed Belair waar hy woon.Foto: MALANI VENTER

Nie ver van Spice Route nie sal jy die landgoed Belair kry waar die eksentrieke sjef Guiseppe Massolini woon. In sy ewe eksentrieke huis sal hy ’n feesmaal vir ’n minimum van tien mense voorberei (jy moet net vooraf bespreek). 

Sy Italiaanse gebak is iets wat jy nie kan misloop nie.

  • Waar is dit? Op die Suid-Agter-Paarlpad
  • Meer inligting: bel­air.co.za | 021 863 1504

Jy kan aktief wees dié winter 

Teen dié tyd sal jy wíl oefening inkry om al die kalorieë te verbrand. 

Kom stap dan op ’n roete wat jou sal neem na historiese en mooi geboue in die dorp. Daar is altesaam 34 plekke langs die roete wat jy kan besigtig. Hier is ’n paar:

Die Paarl-museum 

Terug in tyd:Die Paarl-museum maak deel uit van die erfenisstaproete deur die dorp.Foto: MALANI VENTER

In 1934 het die Paarlse munisipaliteit De Oude Pastorie van die Strooidakkerk-gemeente gekoop. Dit is deur die Paarlse argitek Wynand Louw gerestoureer en in 1939 as museum geopen. Die gebou is in 1940 tot nasionale monument verklaar en het as die Hugenote-museum bekend gestaan.

Die naam is in 1969 na De Oude Pastorie-museum verander, nadat die Hugenote-gedenk­museum in Franschhoek tot stand gekom het.

In 1958 het dit amptelik ’n provinsiaal-ondersteunde mu­seum geword. In 1995 – met die Paarl se geskiedenis as tema – is die naam na die Paarl­museum verander.

Die museum is van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00 oop, Saterdae van 09:00 tot 13:00, en op vakansiedae van 09:00 tot 14:00. Toegang vir volwassenes kos R5.

Het Gesticht-sendingskerk 

Dis in 1813 gebou en gebruik as ’n skool, kerk en ’n bymekaarkomplek vir diegene wat sendinggenootskappe ondersteun het. 

Die gebou is in 1817 aan die Paarl-sendinggenootskap oorgegee en was in gebruik totdat die groter Zion-kerk in 1841 gebou is. Dit is gebou in die karakteristieke neogotiese styl, wat geskik was vir kerke in die 19de eeu.

Dit dien deesdae as museum.

  • Meer inligting: Hoofstraat 112 | 021 872 0817

Zion-kerk 

Dis in 1841 gebou toe die ds. ­George Barker die Het Gesticht-sendingskerk te klein vir die gemeente van oudslawe gevind het. Die Vrouewerkvereniging in Kaapstad en in Londen het geld ingesamel vir die bou van hierdie eenvoudige neogotiese kerk.

Een vleuel is later bygevoeg. Die naam van die Zion-kerk het in diens gebly totdat die gemeente in die vroeë 1960’s weens die Groepsgebiedewet uit die gebied gedwing is. Dit het die kerk vir baie jare sonder ’n gemeente gelaat. 

Dit word tans deur die Hervormde Kerk gebruik.

Proteas soos dié verwelkom jou by Kikka. Foto: MALANI VENTER

Die Taalmuseum 

Die Afrikaanse Taalmuseum:Dié museum is ingerig in die oorspronklike huis van Gideon Malherbe, waarvan ’n gedeelte as huismuseum ingerig is.Foto: MALANI VENTER

Dié museum is ingerig in die oorspronklike huis van Gideon Malherbe, waarvan ’n gedeelte as huismuseum ingerig is.

Die blou muurpapier tref dadelik die oog – nie die oorspronklike papier nie, maar ’n replika van hoe dit min of meer gelyk het. Die meubels is die oorspronklike uit die 19de eeu.

Nie net word jy hier teruggeneem na die verlede nie; die museum lig jou ook in oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans en die drukpers.

Meer inligting: 021 872 3441. Die museum is van Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 16:30 oop. Naweke en op openbare vakansiedae (ook Kersfees en Nuwejaar) is dit gesluit. 

Toegang kos R20 vir volwassenes en R5 vir kinders.

Die Taalmonument 

Afrikaans word gevier: Die Afrikaanse Taalmonument wat die wêreld se jongste taal vier.Foto: VERSKAF

Ook hier leer ’n mens meer van Afrikaans en die taal waarvan die wortels oor drie vastelande – Asië, Europa en Afrika – versprei lê. Die argitek Jan van Wijk het die monument juis so ontwerp om erkenning te gee aan die diverse herkoms van Afrikaans. 

Van Wijk se as is in ’n rots in die tuin agter die monument geberg. Maak gerus gebruik van die begeleide toere om die geskiedenis van Afrikaans en die monument te hoor.

Daarbenewens kan besoekers die tuine om die monument verken wat ryk aan inheemse fynbos is. Hier is ook wandelpaaie en bergaf-fietsrybane.

  • Meer inligting: Besoek die monument van Maandae tot Sondae. Van April tot November is die tye 08:00 tot 17:00. 

Van Desember tot Maart is dit 08:00 tot 20:00. Toegang kos R25 vir volwassenes en R5 vir kinders. Skakel 021 863 4809/0543 vir meer inligting.

KWV 

Dié maatskappy is in 1918 as die Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika geregistreer.

Op ’n besoek aan die KWV-sensorium in die Hoofstraat trek die kunswerke dadelik die aandag. Hier hang skeppings deur onder andere Jacobus Hendrik Pierneef en Irma Stern.

Die KWV-sensorium is in 2012 aangebring met die doel om ’n permanente tuiste vir die maatskappy se kunsversameling te skep, sowel as ’n kreatiewe platform vir die handelsmerk.

Probeer gerus brandewyn-en-sjokolade-proesessies terwyl jy jou kan verlustig in die uitsonderlike kunswerke.

Die stadsaal 

Hierdie imposante gebou is deur Wynand Louw ontwerp en in 1928 voltooi. In die volkstaal het dit elemente van Kaaps-Hollandse en neoklassieke argitektuur. Dit word steeds as die stadsaal gebruik.

  • Bronne: Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Zomerlust, die Paarl-museum, Spice Route, www.­paarlonline.­com en Peridot Communications 

Het jy geweet?
  • Die Paarl het sy naam gekry van die groot stuk graniet op die kruin van die Paarlberg.
  • Die Khoi-Khoi en San was die eerste mense om die gebied te gebruik en oorspronklike San-rotskuns kan nog by Wemmershoek en Bainskloof gesien word. Die Khoi-Khoi het Paarlberg “Skildpadberg” genoem.
  • Die dorp is in 1687 gestig – naas Kaapstad en Stellenbosch die oudste dorp in Suid-Afrika.
  • Die geboorte van Afrikaans as die wêreld se jongste taal word gevier deur die Afrikaanse ­Taalmonument, wat op die sui­delike hang van die Paarlberg staan.Verskeie soorte argitektuur kan in die dorp bespeur word: Georgiaanse, Victoriaanse, Eduardiaanse en Kaaps-Hollandse geboue.
  • Die Drakenstein-gevangenis, waar oudpres. Nelson Mandela sy laaste jare van ballingskap deurgebring het, is sowat 15 km buite die Paarl.


Geen hoogtevrees:Kom daag jouself uit tot abseiling vanaf Paarl Rock. Foto: VERSKAF
Vir die buite-entoesias

As jy meer buite wil verkeer, kan jy hierdie opsies oorweeg:

  • Die Klipkershout-staproete in die Paarlberg-natuurreservaat behels verskeie roetes, wat wissel van 2,4 km tot 10 km. Hier kan jy ook rotsklim, bergfietsry of iets rustigers doen soos piekniek hou.
    Ander bergfietsroetes kan geniet word op die Jan Phillips-bergpad, die Agter-Paarlpad en die wynlandgoed Rhebokskloof.
    Meer inligting: www.drakenstein.gov.za of skakel die Paarl-toerismekantoor by 021 872 4842.
  •  Vir ’n uitdagender staptog, maar steeds nie te moeilik nie, klim Bretagne Rock uit. Die roete begin met ’n paadjie wat uit herwonne plastiek gemaak is. Later sal jy jou wel met die hulp van kettings moet uittrek om by die eindbestemming te kom. Op ’n helder dag kan jy selfs Tafelberg sien.
    Meer inligting: www.drakenstein.gov.za.
  • Daag jouself uit tot rotsklim of abseiling vanaf Paarl Rock of by Cascade Manor. Besoek www.cascademanor.co.za.
  • Leer meer by die Giraffe House Wildlife Awareness ­Centre (www.giraffehouse.co.za), waar jy in die buitelug is, maar terselfdertyd meer oor diere leer.
    Le Bonheur-krokodilplaas (021 863 1142) by Simondium gee jou die kans om krokodille van naby te sien (al ooit geduik saam met krokodille?). Hier is ook ’n restaurant en piekniekgeriewe.
    Drakenstein-leeupark (lionrescue.org.za/) is betrokke by die rehabilitasie van leeus wat mishandel of in gevangenskap was – plaaslik sowel as internasionaal. Bring die familie en kom kyk na hoe hierdie leeus ’n nuwe lewe gekry het.



  • Meer oor:  Paarl  |  Doendinge  |  Kultuur  |  Kuns
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.