Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
KOM KYK: Fynbosplant ná 200 j. ‘herontdek’

Besoekers aan die Nampo Kaap-landbouskou kan kom kyk na ’n Erica-spesie wat ná sowat 200 jaar in die Wes-Kaap “herontdek” is.

Adriaan Hanekom, ’n afgetrede fynboskweker van Caledon, stal twee E. recurvata-plante by sy stalletjie met fynbosplante uit.

Die een plant is byna tien jaar oud en is deur Hanekom van ’n steggie gekweek wat hy van ’n plantkenner ontvang het nadat dié uiters bedreigde spesie in 2007 in die omgewing van Napier herontdek is.

’n Plantjie van drie jaar oud word ook op die landbouskou in Bredasdorp uitgestal.

“Dié Erica is meer as 200 jaar gelede al ontdek, maar niemand het gedink dis waar nie, want dit is van sade af in Engeland gekweek. Toe is dit weer in die natuur ontdek wat bevestiging is dat dit wel ’n regte spesie is.”

Volgens Hanekom lyk dié plant anders as gewone Erica-plante, met die blom wat ’n uitsonderlike lang styl het.

“Dit word deur sonvoëltjies en suikerbekkies bestuif waar dit in rotsskeure groei. Dis amper ’n natuurlike potplant en het nie veel waarvan hy leef nie.”

Die Erica-spesie is al in 1802 deur Henry Andrews beskryf en geskets, waarvan ’n illustrasie in sy bekende boek, Coloured Engravings of Heaths, verskyn het.

Ná ’n eeu is die plant glo nie in die natuur gevind nie en is dit al hoe meer as ’n “tuinbaster” of ongeldige spesie beskou.

Ross Turner, ’n plantkundige, het egter tydens plantkundige opnames in 2007 op ’n onbekende Erica-spesie met ’n lang styl afgekom, wat ook tussen rotse gegroei het.

Monsters van die plant is na die plantkenner Ted Oliver in Stellenbosch geneem wat die plant toe uit Andrews se sketse herken het.

Oliver het ’n steggie van dié plant aan Hanekom gegee om te kyk of hy dit kan kweek en dit word nou op die landbouskou uitgestal.

* Nampo Kaap duur tot Vrydag in Bredasdorp en daar is meer as 300 uitstallers

Meer oor:  Landbou  |  Fynbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.