Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Kom stap in die spore van die San
Die nuwe Weskus-staproete, Shoreline of the San. Die stappers op pad na Elandsbaai-grotte tydens sondsondergang. Foto’s: Tilia Kotze

Die ongetemde kuslys tussen die Breë- en die Olifantsrivier aan die Kaapse Weskus het nou ’n nuwe staproete wat in die voetspore van die San volg, skryf Stefanie Hefer.

Die onlangs bekendgestelde roete, Shoreline of the San, strek oor sowat 60 km noordwaarts langs die kus tussen Elandsbaai (sowat 90 minute se ry uit Kaapstad) en Strandfontein.

Dit neem stappers op ongerepte strande na tot nog toe onverkende argeologiese grot-opgrawings vol Sankuns en skulpmiedens op private grond, verby Weskus-vissershawens, en deur strandveld-fynbos waar bitter min ander al voorheen bevoorreg genoeg was om te stap.

Die kuslyn bied iets van alles – duine, fynbos, rotse en poele water. Foto: STEFANIE HEFER
Die groep stappers op hul laaste dag van die Shoreline of the San-staproete aan die Kaapse Weskus. Die laaste skof van Doringbaai na Strandfontein is tussen fynbos en klotsende waters.

Langs die pad oornag stappers in gerief op plase en in klein gastehuise langs die see. Danksy die bekende Weskus-gasvryheid kan daar ook aan bodemlose potte plaaskos en seekos gesmul word.

Asof dit nie reeds genoeg bederf is nie, stap jy daagliks net met ’n klein dagrugsak oor die skouers – jou bagasie word soggens gelaai en per voertuig na die volgende oornagbestemming gebring!

Die inligtingsbrosjure meld heeltemal tereg dat hierdie ’n “gemakpak”-avontuur is waar jy net fokus op die ervaring en die omgewing, terwyl alles anders verskaf word vir jou – van maaltye tot verblyf.

Die staproete is een van die eerstes wat uitgelê en aangebied word deur die avonturier en ekstreme sportentoesias, Anette Grobler, wat hierdie en ander kuslyne in die wêreld op haar eie van hoek tot kant al platgestap het. Van marathonstappe, oorlewing in die natuur en alleen oornag op godverlate plekke kan jy haar bittermin vertel.

Hierdie San-staproete het juis sy ontstaan te danke aan Anette se vriendskap en vele kampvuuraande saam met twee raakvat-Weskusvroue, Carol Burger van Steenbokfontein in die Lambertsbaai-omgewing, en Tillia Kotze, gebore Weskusser en boerin van Aurora.

Grotte langs die staproete met San-geskiedenis.

Hierdie drie energieke skrik-vir-niks-vroue het hul kennis van stap, die Weskus en veral van sy buitengewone mense en sy natuurlike skatte ingespan om toestemming en toegang te kry tot plekke en ervarings wat tot nog nie vir die breë publiek toegangklik of bekend was nie.

Anette se weermag-agtergrond (ja, sy was inderdaad baie jare gelede ’n SANDF-majoor) verseker uitstekende beplanning tot in die fynste detail, met deeglike en gerusstellende inligtingsessies elke oggend oor hoe die dag se roete – en ander reëlings daar uitsien.

Kort nadat die stapgroep een laatmiddag op dag 1 byeenkom en inboek in die oornagplek op Elandsbaai wag die eerste hoogtepunt al.

Die groep word in ’n reuse-grot digby die dorp ingewag deur prof. John Parkington, emeritus-hoogleraar aan die departement argeologie van die Universiteit van Kaapstad. Sy spesialis-belangstellingsvelde sluit in die analise van prehistoriese kuns en Suid-Afrika se pre-geskiedenis van jagter-versamelaars (“hunter gatherers”).

Die grot waar hy vir ons ’n boeiende inligtingsessie aanbied, hou vir hom baie herinneringe in.

Hy het in sy loopbaan onder meer deurslaggewende en langdurende argeologiese opgrawings met sy spanne in hierdie omgewing en in hierdie spesifieke grot gedoen.

Een van die middagetes op die Weskus-staptog.

Hy vertel en wys en antwoord vrae totdat die son agter die see begin verdwyn en die groep keer vol nuwe kennis opgewonde terug na ons verblyfplek om gereed te maak vir ons eerste groot dag se stap die volgende oggend. En dinge word van hier af net interessanter!

Van ’n trekkerrit agter op ’n wa na historiese Boesmangrotte en ’n blink skuurklip waar olifante honderde jare gelede hulle jeuk kom krap het, na wynproe-verrassings en seekos-buffets (onder meer op ’n volmaanaand by die beroemde Muisbosskerm naby Lambertsbaai).

Soos Tillia Kotze op haar Facebookblad skryf ’n dag of wat later: “Ek het werklik ge­seënd gevoel om te kon stap op ’n stuk kuslyn waar die San- en Khoi-vroue honderde jare gelede kom seekos versamel het vir hul pot. En wanneer ek van my stapstewels af na links opgekyk het, het ek bly wonder waar hierdie see-ekspans ooit ophou…”

Op die see-plaas Steenbokfontein met sy egte Weskus-plaaskombuis het ons vir aandete weggelê aan elke moontlike Weskuslekkerny.

Die eienaar en historikus Kitta Burger het ons aan haar lippe laat hang met haar vertellings van legendes en spookstories uit die verre en meer onlangse verlede, van die middernagtelike, dramatiese stranding van die HMS Sybille in 1901 digby die plaashuis tydens ’n woeste storm – en van die onwaarskynlike liefdesverhaal wat uit hierdie stranding voortgespruit het.

By Doringbaai wag die wynkelder Fryers Cove – geleë op die hawehoof – met ’n proewery van hul top-wyne en seekos.

En op die koop toe word ons om ons laaste draai van die stap, soos ons Strandfontein nader, ingewag met vonkelwyn. Die groep smul vir oulaas, ruil nommers en adresse uit, en mense wat mekaar vier dae vantevore van geen kant geken het nie, groet mekaar met ’n traan in die oog.

In antwoord op die terugvoervorm-vraag, “Van watter dag het jy die minste gehou en hoekom?”, skryf iemand: “Môre mos, want dan is dit verby…”

Sommer so langs die staproete . . .
Nog inligting

Die stap word gegradeer met ’n moeilikheidsgraad van 2/5 en is geskik vir enigiemand ouer as 10 met ’n gemiddelde stapfiksheid.

Anette sal help met ’n klein oefenprogram in die voorafgaande weke om te verseker jy het niks om te vrees nie.

Ons groep het in ouderdom gewissel tussen mid-twintigs en mid-sestigs, met twee stelle ma’s en dogters, ’n hele paar Gautengers en binnelanders sowel as Kapenaars en Tuinroete-inwoners. Kortom, ’n heerlike mengelmoes van uiteenlopende stapervaringsvlakke en –fiksheid. En almal is moeiteloos dwarsdeur sonder enige skade of ernstige skete. (Wel, niks wat ’n paar pleisters nie kon uitsorteer nie!)

  • Die eerste drie dae se stap is alles op die strand op meestal stewige laagwatersand. Die uwe het ál drie hierdie dae kaalvoet gestap (wat ’n paar ander stappers toe nagevolg het met groot sukses!)
  • Hoewel die stapoppervlak meestal plat is, is daar wel stukke strandlangs waar die see die strand tot ’n effense skuinste gespoel het wat gesorg het vir ’n paar moeë heupe en voete.
  • Die wegspringdag se stap van Elands- na Steenbokfontein was die langste – 17 km, maar selfs dit het ons teen vroegmiddag kafgedraf en afgesluit met ’n ligte middagete voor ’n welverdiende rus en besoek aan San-grotte op die plaas. Die ander dae se afstande het gewissel van 10 tot 14 km, wat ons telkens teen ’n rustige pas vroegmiddag voltooi het.
  • Die laaste skof van Doringbaai na Strandfontein is tussen kusfynbos langs ’n rotsagtige stuk kus met baaie, diep inhamme en dramatiese skeure.
  • Besoek Anette se webwerf www.silentsteps.co.za om vir hierdie – en ander opwindende staproetes wat Anette aan die ontwikkel is – te bespreek.
  • Die volgende Shoreline of the San-stappe is aanstaande jaar einde Maart, einde Augustus en laat-November. As jy belangstel om die streek se gasvryheid en skoonheid te gaan beproef sonder die uitputting van ’n staptog, kontak Carol Burger vir ’n verskeidenheid verblyfopsies, by carol@mtnloaded.co.za
  • Pak ’n klein tas of ruim naweeksak met skoon klere en gemakskoene, jou ipad en al jou persoonlike behoeftes soos leesboek(e) en wat-wat. Dit word daagliks na die volgende bestemming vir jou vervoer.
  • In ’n klein dag-rugsak van so 30 tot 50 liter pak jy jou benodigdhede vir die dag van stap: sonbril, kamera, sonhoed en sonskerm, ’n wind-en-reënbestande baadjie vir die wis en die onwis, waterbottel(s) met ten minste 2 liter water en knibbelgoed.

Meer oor:  Staproete  |  Stap  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.