Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Kom stap saam met die langnekke

Ja, dit is opwindend om diere in die wildtuin vanaf ’n motor se sitplek te beloer. Die geleentheid om saam met kameelperde te stap en buffels van agter op ’n oop bakkie te bekyk, is egter ’n wildkyk-ervaring in die oortreffende trap, vertel Cara-Lee Scheun.

Op die balkon van die Bellevue-bosreservaat se Elephants Lodge vermeng die reuk van vars boeretroos en koffiewasem met die oggendmis wat die plantegroei oor die berg verdoesel.

Stephen Smith, die veldgids, se stem onderbreek my mymering oor die ontmoeting met die diere wat wag.

“Onthou, hierdie is wilde diere. Ons gaan elke tree nader aan die diere met respek gee.” Hy voeg dan gerusstellend by: “Hulle is gewoond aan mense, maar daar was nog nooit ’n hand op hulle gelê nie.”

Die vraag oor presies hoé gemaklik die langnekke is met mense in hulle ruimte sal later duidelik word.

Foto:
Om kameelperde van naby in die natuur te beleef is werklik ’n unieke ervaring. Foto’s: CARA LEE_SCHEUN
Foto:

Loodt Büchner, eienaar van die lodge, benadruk die kameelperde is nie mak nie. Hy sê die diere het mense en hul interaksie in die gebied gewoond geraak sonder enige fisiese kontak.

“Hulle is lank en groot. Hulle sien nie mense as ’n bedreiging nie. Natuurlik is daar ook nog nooit op hulle jag gemaak nie.”

Toe Loodt sowat drie jaar gelede besef dié wilde diere storm nie weg wanneer mense hulle gemaksone betree nie, het hy besluit om die ervaring aan die publiek beskikbaar te stel.

“Suid-Afrika se wildbedryf is baie divers. Maar ek glo dit is ’n unieke ervaring, en beslis ’n eerste vir die Oos-Kaap. Om diere van dié kaliber in hul habitat te sien en ervaar is ’n unieke uitstappie.”

Jy kan op die kameelperd-staptog na hartelus foto’s neem – selfs ook selfies met ’n kameelperd of twee in die agtergrond.

Boots kameelperde na

Die staptog saam met kameelperde begin op ’n plaas sowat 5 km terug op die N10, oorkant die Bellevue-reservaat.

Die opgewonde geselsies agter op die bakkie op pad daarheen word sagter wanneer Stephen na ’n kolletjie teen die berge wys.

Doer bo op die berg steek ’n kameelperd se kop uit. Deur die verkyker en die langlens van ’n kamera word die bruin en oranje kleur van die kameelperde duideliker.

Stephen ry stadig nader, maar stop voor die bakkie in die kameelperde se direkte siglyn inbeweeg. Dis tyd om die bakkie, kameralens en verkyker te verruil vir die ware Jakob. Wanneer Stephen die bakkie afskakel, is die stilte oorverdowend.

“Ons gaan in ’n ry stap. Stadig en stil. Ek stap voor,” sê hy.

Die gedagte is om die diere se gedrag na te boots, het Loodt vroeër gesê.

“Geen dier loop direk op ’n ander dier af nie. Kyk maar by ’n watergat, diere kom van skuins af in en benader mekaar op ’n sekere invalshoek.”

In die veld neem Stephen die leiding. Die groep volg elke beweging wat hy maak, tree-vir-tree. Nes party mense in die groep hulle kameras wil oplig om ’n foto van die reusagtige diere te neem, gee hy nog ’n tree nader en dui aan dis tyd om te hokaai.

Hier is dit beslis nie nodig vir ’n groot lens op die kameras nie. Die dier van bykans 4 m troon hoog bo die doringbome uit en in die stilte kan ’n mens hoor elke keer wat hy blare van die takke afskeur om te kou.

“Kameelperde kan tussen 4 en 5 m hoog word en hoewel hulle nekke baie lank is, het hulle slegs sewe nekwerwels – net soveel soos ’n mens. Beide ’n kameelperdbul en -koei het klein horings op hul koppe. Die koeie se horings is ietwat korter en dikker as die bul s’n,” noem Stephen ’n paar feite terwyl die kamera’s eenstrykdeur klik-klik.

Tien tree verder, om ’n bos, is vier kameelperde sigbaar. Wanneer ons groep sowat 10 m van hulle af te staan kom met takke wat ondervoet kraak, hou hulle op met vreet en vestig al hulle aandag op die besoekers.

’n Mens dink onwillekeurig aan Youtube-video’s van kameelperde wat mekaar met die nek takel om hul dominansie te vestig, maar Stephen beduie met sy hande: “Alles is oukei, neem foto’s.”

Buffels word ook van naby besigtig – maar liewer van agter op ’n bakkie!
Foto:
Foto:

Die kameelperde is letterlik net ’n paar tree weg en van die gaste raak gemaklik genoeg om ’n paar selfies te neem met die langnekdiere in die agtergrond.

Oor hoe gevaarlik die staptog op die spoor van ’n kameelperd nou eintlik is, het Loodt verduidelik: “Die realiteit van die saak is, dié is wilde diere. Ons gaan elke dag uit na hulle asof dit die eerste keer is. Ons respekteer hul habitat en sorg dat ons niks doen wat hulle bedreig laat voel nie. Die gidse is opgelei om gevaarlike situasies te hanteer en die gaste se veiligheid eerste te stel. As ons voel die diere raak te nuuskierig en kom te naby, sal ons hulle wegjaag.”

Ná ’n ordentlike fotosessie stap die groep in stilte terug na die bakkie – asof elkeen deur die oomblik oorweldig is. Kort-kort loer iemand oor ’n skouer om seker maak dit was nie net ’n droom nie.

Vergroot buffels se genepoel

Terug op die bakkie begin ’n tweede deel van Bellevue se toer.

Op die 2500 ha-reservaat kry besoekers ook ’n nabye ontmoeting met buffels. Vir dié uitstappie bly ’n mens egter op die bakkie, maar kan van sowat 20 m af kyk hoe die buffels gevoer word en met mekaar omgaan.

Volgens Loodt word die buffels aangehou vir bewaring en teeldoeleindes om die genepoel in die land te vergroot.

“Omdat mense en verstedeliking die diere se natuurlike grense ingeperk het, kan hulle nie meer self migreer nie. Ons wil verseker daar is nog buffels met ’n sterk genepoel vir die volgende generasies.”

Die uitstappie word afgesluit met ’n stewige ontbyt op die dek van die lodge waar ’n mens gemaklik kan agteroorsit en met ’n bietjie geluk nog wild rondom die grensheining kan sien.

Vingerpunt-feite

Waar: Van Port Elizabeth op die N10 in die rigting van Cradock; sowat 10 km ná Paterson is ’n grondpad wat na regs na Alicedale afdraai.

Wanneer: Daagliks om 07:15 (sluit ’n ontbyt in) en 15:00 (sluit ’n middagtee met versnaperings in).

Wat kos dit? R650 per persoon vir die kameelperd-staptog. R450 vir die ontmoeting met buffels. Of R1 100 vir albei.

Kontak? Bel 042 235 1450, of stuur ’n epos aan loodt@bellevueforest.co.za of book@bellevueforest.co.za.

Jy kan gerus ook by www.bellevueforest.co.za gaan loer vir meer inligting.

Wat nog? Toere word beperk tot 10 mense. Alle ouderdomme welkom.

Wat moet ek saamneem?

  • Die staproete nie uitdagend nie, maar neem liefs toe, gemaklike stapskoene vir die veld,
  • ’n Warm baadjie vir die rit op die bakkie,
  • Sonskerm en hoed,
  • Kamera,
  • Water.
  • Meer oor:  Wegbreek  |  Wildtuin  |  Vakansie  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.