Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Kom verken Plet en stap by Robberg

Hoekom sal jy nou nie Plettenbergbaai langs die Tuinroete wil kom besoek nie, het Malani Venter onlangs met die inry-slag na dié dorp gewonder. Dis vrek mooi, hordes goed om te doen en ja, dis vrek mooi.

’n Plek wat jy beslis moet kom besoek – die Robberg-natuurreservaat naby Plettenbergbaai word beskryf as een van die mooiste reservate in die land. Foto: Malani Venter

Dit was my eerste besoek aan Plettenbergbaai. In die twee dae dat ek hierdie pragdorp, eintlik streek, van die Tuinroete besoek het, kon ek met eerste oogopslag verstaan waarom dié dorp onlangs as die gewildste kusbestemming vir beleggingskopers buite Kaapstad se Atlantiese kusgebied aangewys is. Die eiendomsgroep Seeff sê daar was die laaste paar jaar ’n beduidende instroming van mense na Plettenbergbaai wat op soek is na ’n rustiger omgewing. Ek weet nie hoe rustig dit is as die matrieks ná hul eindeksamen in hul hordes hierheen migreer nie, maar ja: Ek soek ’n huisie op Plettenbergbaai!

Om in twee dae die hele omgewing te sien is ongelukkig te min, maar hier is die eerste aflewering van twee berigte oor Plet – dié een oor ’n paar plekke wat ek (en ander skrywers van Buite al voor my) verken het:

Robberg-natuurreservaat

Aan die suide van die dorp is dié CapeNature-reservaat met sy rotsagtige skiereiland vol kronkelpaadjies om te stap.

Ek stap ’n korter roete van die drie opsies. Dit was nie die plan nie, maar ja, as jy oor die winter nie jou deel gedoen het om relatief fiks te bly nie, dan word jy langs die pad gedwing om regs te swenk en ’n korter roete van 5,5 km (Witsandroete) te stap, terwyl jou stapgroep aanhou op die Puntroete van 9,2 km. Die kortste roete is 2,1 km ver.

Op die korter roetes word jy steeds beloon met ’n panorama-uitsig oor die Atlantiese Oseaan, fynbos en later ’n ellelange strand waarop jy so te sê alleen is. Ek stel voor jy begin vroeg in die dag om die reservaat te verken, want voor jy jou kom kry, is daar hordes mense agter jou op ’n stappaadjie – dis gewild onder plaaslike inwoners en toeriste. Kyk ook of jy tyd het om die Nelsonbaai-grot te besoek – die Gwano-grot is nie toeganklik vir besoekers nie.

Onthou, in die somer word dit vinnig warm, bring dus jou hoed en smeer jou behoorlik met sonbrandroom in.

Vir veiligheidsredes moet jy nie ná 14:00 op die Puntroete stap nie en bly op die roete wat die kaart (wat jy ontvang by die ingangshek) aandui. Indien jy op roetes stap sonder rigtingwysers, kan jy verdwaal.

Kom maak 'n draai

Old Nick Village

Sowat 2 km oos van Plettenbergbaai langs die N2 sal jy dié stukkie grond met die mooiste winkels kry. Om dit ’n winkelsentrum te noem is in my oë verkeerd – dis ’n versameling eklektiese winkels omring deur pragtige tuine en waterpoele. Hier kan die kinders rondhardloop terwyl jy rustig van een “huisie” na die volgende stap.

Red Shed-kwekery is ’n lus vir die oog – dié kwekery is ’n trekpleister vir enige tuinliefhebber.

By Mungo Mill sien jy die talent van mans en vroue in die weef­bedryf – sien hoe hulle te werk gaan en van die mooiste weefprodukte skep.

Kom verkyk jou aan die dekorprodukte by Je Ne Sais Quoi Designs – nie net is die binnekant mooi nie, jy wil net foto’s buite dié winkeltjie ook neem.

Hier is nog talle winkels waarby ek nie uitgekom het nie – kom verken self!

  • Dit is elke dag oop vanaf 09:00 tot 17:00. Hier is ook elke Woensdag ’n mark (vars groente en vrugte en ander tuisgemaakte produkte is te koop) van 10:00 tot 14:00. Bel 044 533 1395, stuur e-pos na info@oldnickvillage.co.za of besoek oldnickvillage.­co.za.
  • Só skryf een van Buite se gereelde skrywers Heleen Coertze oor haar besoek aan Robberg:

By Robberg baljaar dolfyne heeljaar in die branders, en van Julie tot November kan jy selfs walvisse hier sien. Boonop snork en blaf die robkolonie van ongeveer 4 000 robbe ongesteurd in die beskermde mariene gebied voort. Ons stap die Puntroete van 9,2 km gemaklik binne vier uur klaar, met genoeg tyd vir koffie en piekniek langs die pad.

Mooi nê? Die kusgebied is uitsonderlik en dis moeilik om te konsentreer waar jy moet loop met ’n uitsig soos die. Foto: Malani Venter
By Old Nick Village, ’n paar kilometer buite Plettenbergbaai, sal jy oulike winkeltjies soos Je Ne Sais Quoi Designs raakloop. Foto: Malani Venter
Die kusdorp om te wees! Plettenbergbaai is een van die gewildste bestemmings vir Suid-Afrikaners en toeriste. Foto: Malani Venter

Hoewel daar ’n korter Wit­sand­roete van 5,5 km ook is om te stap, wou ons groepie dié keer eerder aan die wilde kant van die skiereiland beweeg. Albei roetes begin saam op die Witsandpaadjie. Ons tonnel voort deur stroke bos en lappies fynbos. By die inligtingsbord oor die Kaapse pelsrobbe hurk ons vir ’n eerste teetjie en sien Plettenbergbaai dynserig in die verte wink. ’n Steilerige gedeelte met skerp afgronde aan jou linkerkant hou die oë op die pad.

Jy hoor en ruik die kolonie Kaapse pelsrobbe, maar by die Witsandduin hou ons volgens die roetekaart reguit aan. Gelukkig is daar op die naelbytgedeeltes dik toue teen die oranje gepoetste rotsblokke waaraan jy kan vashou. As bewys van hoe rof die see hier kan raak, is daar reg op Die Punt oorblyfsels van ’n klipvissershuisie wat in 2008 deur ’n reusebrander platgeslaan is. Op strategiese plekke help die plankiesvoetpaadjies ook om net weer die senuwees te kalmeer.

Hoewel meer as 100 voëlspesies in die natuurreservaat opgeteken is, sien ons gelukkig lieflike oranjeborssuikerbekkies, rooivlerkspreeus en selfs ’n paar gespikkelde muisvoëls.

Meer inligting: www.capenature.co.za

Avontuur

Vir die adrenalien-junkies:

As jy egter na meer adrenalien verlang, volg die avonturier Jacques Marais se voorstelle:

  • Gooi dikwielspore: Plett MTB Park bied puik bergfietsroetes in ’n veilige omgewing aan. Daar is ook ’n springbaan (pump track) waar jy truuks kan uithaal op jou ysterperd. Kyk by www.cairnbrogie.co.za.
  • Rekspronge: Jaag jou adrenalienvlakke met 100% op as jy rekspring van die Bloukransbrug af saam met Face Adrenaline. Kyk by www.faceadrenalin.com. Plettenbergbaai en omstreke bied dosyne uitstekende avonture en aktiwiteite – ja, ook vir die jongspan! Daar is ook die verruklike Keurboomsriviermond vir diegene wat varswaterpret en kilometers se draf- en fietsryroetes soek.

Meer oor:  Plettenbergbaai  |  Stap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.