
Die Montagu-gholfbaan, een van die drie by die Fancourt-hotel-en-buiteklub by George. Foto: Verskaf
’n Hotel by George het soortgelykes in Egipte, Marokko, Kenia en Tunisië uitgestof om as die beste hotel by ’n gholfbaan in Afrika aangewys te word.
Die Fancourt-hotel-en-buiteklub in George is op die sewende jaarlikse World Golf Awards-geleentheid as Afrika se beste gholfbaan-hotel, asook die beste in Suid-Afrika, aangewys.
Die wenner is bepaal deur stemme van professionele mense wat in die gholfbedryf werk, asook die publiek. Die World Golf Awards is deel van die World Travel Awards en het ten doel om uitnemendheid in gholftoerisme te vier en te beloon.
“Ons is ongelooflik dankbaar en geëerd om hierdie erkenning te ontvang,” sê Peter Dros, verkoops- en bemarkingsdirekteur van Fancourt. “Veral aangesien duisende gholfspelers van dwarsoor die wêreld gestem het, en ook siende dit ’n ongelooflike moeilike jaar vir gholftoerisme en die gasvryheidsbedryf was.”
Die hotel is 7 km van die George-lughawe geleë en die oord beslaan 613 ha grond omring deur die Outeniquaberge. Die hotel het 115 luukse kamers en suites en is volgens sy webtuiste geskik vir plaaslike en internasionale gesinne, paartjies, gholfspelers en “diegene wat net op soek is na ’n warm en ontspanne Tuinroete-toevlug”.
Daar is verskeie ontspanningsfasiliteite, waaronder ’n spa met ’n binnenshuise verhitte Romeinse bad. Die sentrum huisves ’n bymekaarkomplek vir jong kinders, ’n vertrek net vir tieners, ’n gimnasium, fliekteater en ’n binnenshuise verhitte swembad.

Die Fancourt-gholfbaan. Foto: Verskaf

Een van die luukse suites in die hotel. ’n Nag in so ’n kamer kos ongeveer R4 500 vir ’n paartjie. Foto: fancourt.co.za

Een van die goedkoper, “klassieke” kamers in die hotel. ’n Nag in hierdie kamer kos ongeveer R3 800 vir ’n paartjie. Foto: fancourt.co.za
“Liefhebbers van die buitelug kan tennis, hardloop- en staproetes, voëlkyk en visvang-aktiwiteite geniet. Vier toprestaurante bied elk ’n kenmerkende eetervaring vir elke smaak,” lui die webtuiste.
Kranige gholfspelers sal weet van die drie gholfbane op die terrein, ontwerp deur die gholfster Gary Player.
Die hotel is ook in 2017 aangewys as die beste gholf-hotel in Afrika.
Chris Frost, besturende direkteur van die World Golf Awards, sê ondanks die vele uitdagings vanjaar, het stemme gekom van honderdduisende belanghebbendes uit ’n rekord van 129 lande.
“Dit is ’n wonderlike erkenning en ’n heerlike noot waarop ons die jaar kan afsluit. Dit weerspieël natuurlik die talente, harde werk en toewyding van ons span,” sê Dros.