Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
KYK: Rafiki en Simba, of ’n nare einde in die natuur?
Die bobbejaanmannetjie het met die leeuwelpie geloop en toe homself gaan tuismaak in ’n nabygeleë maroelaboom. Foto: Kurt Schultz / Kurt Safari Co.

Dit is nie elke dag dat ’n mens ’n Rafiki en jong Simba soos in The Lion King in die regte lewe in die natuur saam sien nie, wat nog te sê om dit op kamera vas te vang.

Kurt Schultz, direkteur van Kurt Safari Co. (www.kurtsafari.com), het Saterdag in die Krugerwildtuin ’n bobbejaanmannetjie afgeneem wat ma speel met ’n jong leeuwelpie.

Schultz se besonderse foto’s en video hiervan het opslae gemaak op sosiale media.

Volgens Schultz het hy Saterdag sy kamera gegryp sodat hy ’n paar foto’s kan neem op pad na ’n sakeontbyt wat hy in die Skukuza-kamp moes bywoon.

Hy het stilgehou by ’n klipperige rantjie waar daar gereeld leeus is.

Dié oggend was daar net ’n trop bobbejane en dit was met die stilhou-slag duidelik hulle is opgewonde.

“Die gebied het granietrantjies wat dikwels deur leeus en luiperds gebruik word om hul pasgebore welpies weg te steek,” sê Schultz.

Dis toe dat hy sien waaroor die bobbejane so op hol is.

’n Bobbejaanmannetjie, met die welpie onder sy arm, het te voorskyn gekom en homself tuis gaan maak in ’n maroelaboom.

Met die leeuwelpie in sy mond, het die bobbejaanmannetjie flink in ’n maroelaboom geklim sodat hy rustig kon sit en die welpie se pels deursoek vir vlooie. Foto: Kurt Schultz / Kurt Safari Co.
’n Bobbejaanmannetjie het Saterdag doodluiters met ’n leeuwelpie in ’n maroelaboom geklim.Foto: Kurt Schultz / Kurt Safari Co.

Hier het hy doodluiters begin om vlooie op die welpie te soek.

Die bobbejaantrop het naderhand rustig geraak, terwyl die mannetjie van tak tot tak gespring het met die welpie onder sy arm. Kort-kort het hy gestop en die welpie se pels verder deurgesoek.

Schultz sê in sy 20 jaar as wildlewe-toergids in Suid- en Oos-Afrika is dit die eerste keer dat hy op so iets afkom.

Of die bobbejaan besluit het om die welpie aan te neem, is nie seker nie.

In die uur wat Schultz kon vertoef, het die trop dieper in die kliprantjie inbeweeg en was later buite sig.

“Ek weet nie of die bobbejaan die welpie teruggesit het nie. Die leeuwelpie het baie moeg en ontwater gelyk van die lang tyd wat hy in die warm son in die bobbejaan se arms moes deurbring,” sê Schultz.

Rafik en Simba? ’n Jong bobbejaanmannetjie is Saterdagoggend naby die Skukuza-kamp in die wildtuin afgeneem waar hy doodluiters ’n leeuwelpie in ’n maroelaboom sit en versorg het asof dit sy eie is.Foto: Kurt Schultz / Kurt Safari Co.
Wat maak jy as ’n bobbejaan jou deursoek vir vlooie? Jy lê baie stil. Dié bobbejaanmannetjie met die leeuwelpie is Saterdag deur Kurt Schultz naby Skukuza in die wildtuin afgeneem. Foto: Kurt Schultz / Kurt Safari Co.

Indien die welpie weggevoer is, is daar min hoop dat hy sal oorleef. “Ek het al gesien hoe bobbejane luiperdwelpies doodbyt,” sê Schultz.

Jenni Trethowan van die Baboon Matters-stigting sê die gedrag van die bobbejaanmannetjie – op die oog af nog jonk – is uiters ongewoon.

’n Mens sou dit eerder van ’n bobbejaanwyfie kon verwag omdat sy moederlike instinkte het, sê Trethowan.

“Hoewel ouer bobbejaanmannetjies soms na die jonger bobbejane omsien, bly hierdie ’n ongewone verskynsel. Veral omdat bobbejane daarvoor bekend is dat hulle luiperdwelpies vang,” sê Trethowan.

Sy sê hoewel die foto’s besonders is, is dit ook hartseer, want ’n mens weet nie wat die welpie se lot was nie.

Meer oor:  Bobbejaan  |  Leeuwelpie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.