Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
KYK: ‘Selfmoord-maand’ in Hwange

Hulle noem Oktober ‘selfmoord-maand’ in die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe.

Watergate droog op. Plantvreters is maer, die bokke se ribbes riffel soos sinkplaat onder hul pelse.

Diere waag hul lewe wanneer hulle hul dors by ’n dam of watergat gaan les, waar roofdiere hulle voorlê.

Vir aas -en roofdiere is dit egter ’n vreetfees, die gelyke van ’n eet-tot-jy-bars-buffet.

As jy vir ’n paar dae verskeie dramatiese tonele by die Masuma-watergat sien afspeel het, verstaan ’n mens die makabere beskrywing van “selfmoord-maand” alte goed. Maraboe-ooievaars en aasvoëls hang rond soos doodsengele, reg om hul sekel in die sterwende diere in te slaan.

’n Maraboe-ooievaar bak droog by Masumadam in die Hwange Nasionale Park. Foto: Carla Lewis

Daar is nie enige natuurlike waterbronne soos riviere wat deur Hwange vloei nie, en tydens die droë seisoen hoor jy heeltyd die ritmiese takke-takke-takke van kragopwekkers en pompe wat oortyd werk om watergate soos Masuma van lewensvog te voorsien.

Dis veral die hardgebakte kors om die watergate en panne wat die diere fnuik. Hulle loop daaroor, dink dit is ’n soliede oppervlakte, maar as hulle weer sien, sit hulle pensdiep in die modder. Oral om die watergat sien jy ook sebras en bokke met ‘sokkies’ wat tot onder hul kieliebakke strek.

Verlede week het twee rooibokramme behoorlik hul rieme styfgeloop by Masumadam. Hulle sit vas in dik, swart modderslyk en swerms aasvoëls en maraboes sirkel oor die watergat, gereed vir wanneer die bokke van hul aardse beslommernis verlos word.

Toe ons die middag, kort ná middagete, weer by die pan aankom, is die een rooibokram skoonveld, maar die ander is vasgebak in die modder.

Gewoonlik is dit beter om die natuur sy gang te laat gaan, al is dit hoe wreed en hartverskeurend. In Hwange probeer hulle egter die diere red.

’n Moddergemors...Twee rooibokooie en ’n swem maraboe-ooievaars by die Masumadam in Hwange Nasionale Park. Foto: Carla Lewis

Een van die Zimbabwiese parkeraad se gidse vertel ons dat ’n verrottende karkas in die modder ’n gesondsheidsrisiko vir die waterbron inhou. In Hwange is elke druppel kosbaar.

Daar word gou ’n reddingsplan beraam en personeel van Camp Hwange en Kapula Camp – twee private lodges in Hwange – gaan te werk om die arme dier van ’n gewisse modderdood te red.

Om ’n rooibok uit die modder te kry, is egter nie so maklik as om ’n viertrekvoertuig uit die modder te sleep nie. Eerstens kan die 4x4’s nie te naby aan die modder kom nie, want netnou sit hulle ook vas. Die vrees en adrenalien pomp dik deur daardie ram se are en hy sal nie huiwer om enige weldoener – al is sy bedoelings hoe edel – met sy horings te gaffel nie.

Dan is daar ook die nukkerige olifantkoeie wat om die watergat patrolleer.’n Dapper siel maak dit tot by die ram, en probeer om die dier aan sy horings uit te trek.

Ná ’n paar minute se gespook en spartel sit die dier nog vas. ’n Nuwe strategie word bewimpel: Iemand moet van agter stoot, terwyl daar van voor af getrek word. ’n Herwinningstou word om die ram se horings gebind.

’n Trop olifante onderweg na die Masumadam om hul dors te les. Foto: Carla Lewis

Stadig wikkel-wikkel hulle die dier los, en dit neem drie volgroeide mans om hom uit die modder te lig. Vir ’n oomblik lê die ram doodstil. Hy kry ’n piets op die boud, net om seker te maak hy leef nog. Hy staan op, sy beentjies al wankelend. Dit lyk belowend, maar enkele oomblikke later het sy delikate hoewe weer die sagte kors deurboor. Ons hou ons asems op. Dit lyk asof hy weer gaan vasval, maar weer kry die span hom uitgetrek.

Dis nou maak-of-breektyd; die bok moet weer deur ’n modderpoel gehelp word. Dit voel soos beseringstyd in ’n rugbywedstryd. Die spelers se fut is uit. Uiteindelik kry hulle die ram op soliede grond. Die tou word verwyder, die rooibokram gee ’n paar skoppe en die ergste modder word afgeskud. Dan spaander hy in die dorre veld in, vuil, moeg, maar met ’n tweede kans in hierdie wrede selfmoordseisoen.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Hwange Nasionale Park  |  Wild  |  Omgewing  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.