Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Laat Franschhoek jou bekoor

Franschhoek is vir die avonturiers, die buitelugentoesiaste, die motorliefhebbers, die smulpape, die romantiese siele en vir diegene wat ’n tikkie bekoring najaag, skryf Malani Venter.

Die Franschhoekvallei stel nooit teleur nie. Hier is iets vir almal – buitelugavonture, top-restaurante, hordes landgoedere, kuns en pragtige oornagplekke. Foto: Getty Images

Elke keer wat die pad my neem na die Franschhoekvallei, maak die hemelsluise oop. Dit pla glad nie, want onse stukkie aarde hier het dit al hoe meer nodig.

Soos die R45 verby dié streek se landgoedere kronkel, raak als groener en mooier. Dit reën behoorlik toe ek by Akademiestraat 5 stilhou. Hier tref jy ’n witgekalkte Kaaps-Hollandse huis aan (wat van die 19de eeu dateer), byna weggesteek agter reuse-eikebome. By sy voordeur sal jy die talle toekennings teen die muur sien pronk – die “Wêreld se Beste Boutique Hotel”; die “Top- Klein Hotel in die Wêreld”, die “Top- Luukse Hotel in die Wêreld” en die mees onlangse een, die “Wêreld se mees Romantiese Hotel”.

Die beste in die wêreld! Kom kuier by die Akademie Street Boutique Hotel in Akademiestraat, Franschhoek. Foto: Akademie Street Boutique Hotel
Dis ’n lushof as jy in die agterwerf van die Akademie Street Boutique Hotel rondloop. Hier is die “kweekhuis” waar jy ontbyt en skemerkelkies kan geniet. Foto: Akademie Street Boutique Hotel

Die Akademie Street Boutique Hotelis ’n lushof – vir die oog en die siel.

Ja, jy sal sekerlik goedkoper wegkom by tientalle ander oornagtuistes, maar soms het mens ’n tikkie bekoring in hierdie somber wêreld nodig. En met die hotel se spesiale winteraanbiedinge wat geld vir Julie en Augustus, is dit meer moontlik om dit te kom beleef.

Die dekor van die herehuis bestaan uit ryk kleure, afgerond met ’n titsel goudkleurige bykomstighede. Kaggels, klaviere, mooi musiek in die agtergrond en eksie-perfeksie tuine rond die poskaarthotel af. Die beskrywing klink dalk formeel, tog voel jy tuis hier.

Elke suite en kothuis (hier is altesaam nege) het ’n Afrikaanse naam (soos Gelatenheid, Oortuiging en Vreugde) wat dit verbind aan die hotel se erfenis. Die “kweekhuis” waar drankies vroegaand bedien word en jy ontbyt kan geniet, is ’n heerlike kuierplek – ’n enorme kaggel word aangesteek wat die hele ruimte warm maak terwyl jy net kan ontspan.

Ongeag die seisoen, bring die swemklere saam – by van die wooneenhede is waterpoele wat met hout warm gestook word.

  • Winterpakket: Gedurende Julie en Augustus sal gaste Vrydagaande 50%-afslag kry vir ’n tweenagverblyf (Vrydag- en Saterdagaand).
  • Neem kennis: Net ontbyt en skemerkelkies word bedien. Besoek www.aka.co.za of bespreek met die kode “RW2019”. Jy kan ook e-pos stuur na info@aka.co.za of skakel 082 517 0405 | 021 300 0940
Franschhoek se wyntrem is aan te beveel as jy die vallei en sy landgoedere op ’n buitengewone manier wil verken. Foto: Akademie Street Boutique Hotel

Kom bly op die plaas

Op die Le Roux-familieplaas Bourgogne, op die Excelsiorpad, sal jy die Franschhoek Farm Cottages aantref. Die plaasgeluide sal jou hier welkom heet saam met die werf se honde, en dan natuurlik die natuurskoon van die dam, pruimboorde en omliggende berge.

In Januarie 2017 het Christelí Daniller en haar familie besluit om ’n kamer in hul huis vir Airbnb uit te huur. “Die kinders het al die nuwe gesigte so geniet en ons was mal daaroor om almal te verwelkom. Ons het later besluit om ’n paar kothuise op die familieplase, Bourgogne en Montagne, vir besoekers beskikbaar te stel,” vertel Christelí.

Sedert April 2017 is die Royal Gala-kothuis vir besoekers oopgestel en in Oktober daardie jaar die Songold-kothuis.

Nie lank daarna nie is The Sunkiss, Ruby Sun en African Delight ook vir besoekers beskikbaar gemaak.

“Al hierdie name is dié van pruime wat ons op die plaas kweek,” volgens Christelí.

Hoeveel kos dit? Die Sonskyn-plaashuis (vir gesinne) is R2 400 per nag (vir ’n maksimum van ses mense).

Die eenslaapkamereenhede wissel van R1 090 tot R1 400 per nag.

Neem kennis! Daar is tans ’n winteraanbieding van 30%-afslag.

Meer inligting: 082 459 4591 | ffcottages@gmail.com | www.ffcottages.com.

Terwyl jy in Franschhoek is, kom besoek ook dié plekke en geniet hierdie doendinge:

Die dorp se jaarlikse Bastille-fees is vandeesmaand. Maak ’n plan om deel van die vieringe te wees. Foto: Leanne Stander

  • La Motte-wynlandgoed

Dis ’n pragtige landgoed langs die R45 waar kunswerke in die tuin en ’n groen grasperk met oorgenoeg sitplek onder die eikebome jou begroet.

As jy die landgoed en sy omgewing wil verken, kom doen dit te voet. Die Volhoubare-staproete is ’n verdere uitdrukking van La Motte se verbintenis tot bewarings- en biodiversiteitstandaarde, asook die beskerming van kosbare inheemse flora en fauna in die berggebied rondom die landgoed en die aangrensende Wemmershoekberg.

Hier kan jy die voëllewe, proteatuin, ’n rykdom van flora en uitsigte op die Franschhoekvallei ontdek.

Die sirkelroete, wat begin by die La Motte-proekamer, strek oor 5 km. Dit sal jou tussen twee en drie uur neem om te voltooi. Die roete het ’n graad 1B-gradering en vereis ’n redelike mate van fiksheid. Dit word dus nie aanbeveel vir kinders jonger as tien nie. Let wel: Honde en bergfietse word nie op die roete toegelaat nie.

Op ’n Maandagoggend kan jy op ’n begeleide staptoer gaan. Jy kan op die landgoed se webtuiste vir dié toer bespreek. As jy klaar gestap het, kom geniet iets te ete in die Pierneef-restaurant, geïnspireer deur die landgoed se bewondering vir die Suid-Afrikaanse kunstenaar Jacobus Hendrik Pierneef.

Die historiese landgoed Grande Provence is een van die landgoedere waarlangs die wyntrem stop. Kom kyk na die pragtige kunswerke in die beeldtuin en galery. Foto: Grande Provence

Kom geniet middagete van Dinsdae tot Sondae van 11:30 tot 15:00. (Dis wel oop van 09:00 tot 17:00.)

In die wynproelokaal sal jy nóg van die landgoed se liefde vir Pierneef sien – van sy kunswerke, asook die kwaste waarmee hy geverf het, word hier uitgestal.

Nóg hier te sien en doen: Kom besoek die museum van Dinsdae tot Sondae van 09:00 tot 17:00. Jy kan ook op ’n historiese (R80 p.p.) of ’n beeldhoukuns-staptog (R80 p.p.) gaan.

Meer inligting: www.la-motte.com | 021 876 8000 | pierneef@la-motte.co.za (restaurant) | museum@la-motte.co.za (museum).

  • Franschhoek-wyntrem

Volg die tremspore na plekke soos die historiese wynlandgoed Grande Provence sowat 9 km

vanaf die sakekern van Franschhoek. Kom kyk na van Suid-Afrika se beste, en mees gevestigde en ontwikkelde kunstenaars se werk by The Gallery. Hier word ’n beeldtuin gehuisves met ’n versameling monumentale werk wat gereeld aangevul word.

As jy ’n buitengewone geskenk wil koop, kan jy by The Shop inloer wat ’n goeie versameling Afrika-artefakte, versamelstukke en ’n reeks Suid-Afrikaanse ontwerpersjuweliersware bied.

Meer inligting oor Grande Provence: 021 876 8600 | reservations@grandeprovence.co.za | ownerscottage@grandeprovence.co.za | www.grandeprovence.co.za.

Van die ander landgoedere waar jy kan afklim, sluit in Rickety Bridge, Solms Delta, Vrede en Lust, Babylonstoren en Noble Hill. Daar is verskillende opsies om van te kies.

Meer inligting oor die wyntrem: 021 300 0338 | 021 876 4943 | info@winetram.co.za | wine-tram.co.za

  • Franschhoek-motormuseum

Hier kan jy meer as 100 jaar se motorgeskiedenis beleef met die buitengewone versameling motors, motorfietse en memorabilia op L’Ormarins. Hier word talle motors in vogvrye sale vertoon.

Meer inligting: 021 874 9002 | fmm@fmm.co.za.

  • Hugenote-monument

Die monument staan as baken aan die punt van Hugenoteweg en is op 17 April 1948 ingewy.

Doen jouself ’n guns en kom stap hier rond in die netjiese tuin.

As jy meer wil leer van die vrouefiguur met die Bybel en verbreekte ketting in haar hande, asook die drie lugboë van die monument, besoek hugenoot.org. za of skakel 021 876 2598.

Wanneer is dit oop? Die tuin is daagliks van 09:00 tot 17:00 oop.

  • Stap in die vallei

Kom stap (sonder ’n gids) oor drie dae 30 km ver op die Franschhoekvallei-staproete wat jou deur die vallei neem.

Die roete begin in die Mont Rochelle-natuurreservaat en neem jou deur wingerde, fynbos en verby plekke waar jy meer oor die dorp en sy omgewing se geskiedenis kan leer.

Jy bly oor in hotelle en gastehuise – en moenie bekommerd wees oor jou bagasie nie, dit sal vir jou van die een blyplek na die ander vervoer word.

Meer inligting: walkingholidays.co.za | info@walkingholidays.co.za | 021 852 5937.

Die Volhoubare-staproete op die wynlandgoed La Motte. Foto: walkingholidays.co.za

Die Mont Rochelle-natuurreservaatis in die Franschhoekberge, en het ’n skouspelagtige uitsig oor die Franschhoekvallei (op ’n helder dag kan jy tot Tafelberg sien), het ’n diverse plantlewe en verskeie staproetes.

Permitte (R40 per persoon, gratis vir kinders onder 16 wat ’n betalende volwassene vergesel) en kaarte is beskikbaar by die Franschhoek-toerismekantoor en Hugenote-museum.

Meer inligting: mont.rochelle@gmail.com | 083 270 7291

  • Verken op 'n bergfiets

Experience Franschhoek gee jou die geleentheid om die Franschhoekvallei op hul begeleide bergfietstoere te verken. Hulle het talle roetes om van te kies wat verskil in moeilikheidsgraad (vir diegene wat dit net rustig wil ry of die meer avontuurlustige ryer).

Hoeveel kos dit? Vir ’n halfdag kos dit R650 per persoon. Hulle is oop van Maandae tot Sondae vanaf 08:00.

Meer inligting: 082 541 1760 | bookings@experiencefranschhoek.co.za

  • Kom hou saam fees

Die Franschhoek-Bastillefees is om die draai waartydens die Franse erfenis gevier word. Die dorp word dan getooi in rooi, wit en blou. Kom wees deel van die fees op 13 en 14 Julie.

Hoeveel kos dit? Kaartjies vir die kos-en-wyn-marquee kos R395 per persoon. Bespreek by www.webtickets.co.za.

Wie sê ’n wynvat word net vir wyn gebruik? Verken die dorp te fiets. Foto: Grande Provence

Meer oor:  Franschhoek  |  Buite  |  Doendinge  |  Staproete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.