Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Laat jou pad kruis met dié plaasstalle

Plaas- of padstalle is so Suid-Afrikaans soos blatjang en bobotie, koeksisters en klapperys, tjops en tjips. Ilse Zietsman het by ’n paar gaan inloer.

Oudebosch is nie net ’n plaasstal nie – hulle het ook ’n toeriste-inligtingsentrum en is gelisensieer om wyn te verkoop.

Die Suid-Afrikaanse landskap sou heelwat droër daar uitgesien het as dié eet- en afdraaiplekkies nie daar was nie. Hier is ’n paar wat ek besoek het:

Bagdad Café op die R27 tussen Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville

As jy op die R27 tussen Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville ry, kan – en behoort – jy nie Bagdad Café mis te ry nie. Sodra dit lyk of jy twee duimgooiers op stoele langs die pad sien sit, kan jy maar gereedmaak vir afdraai.

Die twee pseudo-duimgooiers is opgestopte poppe met sweishandskoene vir hande.

Bagdad Café het sy eie vibe, soos jy aan die kleredrag van die voëlverskrikkerpoppe en ’n handgeskrewe bord teen die draad sal agterkom.

Die ruïne van Kruispad Kontantwinkel op Roete 62 wat nie die toets van tyd deurstaan het nie, maar wat ’n lieflike fotogeleentheid bied omdat dit so mooi verweer het.

Op die bord word kammakastige redes aangegee waarom dié padkafee dalk toe kan wees. Dit wissel van “Dis Maandag” tot “Dis bo 40 grade Celsius” en van “Babalas” tot “Genoeg gemaak gister” en “Sooibrand”.

In die tuin staan ’n trekker en ’n skoppelmaai. ’n Winkelmannekyn sonder arms, maar darem met ’n kopdoek, kniel tussen vetplante.

Bagdad Café bedien yskoue gemmerbier en warm sop met roosterkoek of soetsuurdeegbrood, plaasontbyte, kerriemaalvleis, pannekoek, draairoomys en melktert.

Of jy nou binne of buite sit, jy gaan jou oopmond vergaap aan die dekor. ’n Geroeste voëlhokkie wat van die plafon hang, het genadiglik nie ’n kanarie binne-in nie; Coke-blikkie-blomme omraam ’n oopskuifvenster; ’n ou winkelboek is meer as 100 jaar oud (blaai versigtig); ’n paar goue polvye hang skunnig aan ’n regop kerskandelaar.

As daar munte in jou beursie is wat pla, pak anysbeskuit, ingelegde kwepers, piekeluie, sauerkraut, boeke en tydskrifte van vervloë dae, kweperlekkers, ’n bliklantern of ’n knobbelrige pampoen in jou kattebak. Daar is ook T-hemde van Bagdad Café te koop.

Wees gerus, die ablusiegeriewe is nie werklikwaar die “naaste bos” nie, soos ’n speelse pyltjie aandui nie. Wat jy wel om die hoek van die gebou sien, is ’n ry van Aspoestertjie se skoene wat al beter dae geken het.

Op die muur bokant die skoene staan: “. . . en wat het van Aspoestertjie geword?” Kyk rond tot jy die ongewone spieël sien.

Bagdad Café op die Knersvlakte is allesbehalwe ’n gewone kafee of koffiedrinkplek.

Hello Hopefield, Kerkstraat 42B, Hopefield aan die Weskus

Nommer asseblief? Dis waaraan jy dink – dis nou as jy oud genoeg is – as jy die rooi telefoonhokkie in Kerkstraat voor Hello Hopefield met die stilhouslag raaksien. Hello Hopefield is egter baie meer hedendaags as dié Afrikaanse TV-reeks van die 1970’s en die rolprent wat daarop gevolg het.

Ilze Mostert, die energieke eienaar van Hello Hopefield, glo aan “mooi, mooi én mooi” in alles wat sy doen. Haar slagspreuk vir Hello Hopefield is “kwaliteit, vars en lekker”.

Elke item op haar spyskaart is “eerlikwaar” tuisgemaak. Al waaroor sy bieg, is dat sy wel “ ’n bekende tamatiesous uit ’n bottel” gebruik. Daarby ondersteun haar kombuis sover moontlik plaaslike verskaffers. Eiers van vrylopende hoenders kom van ’n kleinboer net buite die dorp; so ook die vleis soos springbok en volstruis wat voorgesit word.

Van volstruis gepraat, almal in die dorp praat deesdae van die nuutste toevoeging op Hello Hopefield se spyskaart: ’n fynproewer-volstruisburger wat met rooirissie en roketpesto voorgesit word.

By Hello Hopefield eet jy nie net gesond nie; die spyskaart spog met innoverende disse soos Franse roosterbrood wat van mosbolletjies gemaak word, kaas-en-ham-muffins en vegetariese lensieburgers met brie-kaas. Spokie, die grys-en-wit kat wat teen jou bene kom skuur, is Hello Hopefield se gelukbringer.

Nanaga Plaasstal, op die kruising van die N2 en R72, Port Elizabeth

Praat jy van Nanaga, praat jy van pasteie. Hier is hulle nie net gou by die bak nie, maar ook fluks, in stede van lui, by die vak, om ’n outydse spreekwoord nek om te draai.

Hoewel Nanaga nie net pasteie verkoop nie, is dié padstal seker die bekendste vir hul gebak. Pasteie word gaar of gevries, enkel of familiegrootte, verkoop.

Daar’s te kies en keur: kaas-en-spek, hoender, biefstuk, peperbiefstuk, spinasie-en-feta, wildsvleis, lamskerrie en lamsvleis-met-ment. By Nanaga is ook roosterkoeke beskikbaar wat as padkos geniet kan word of by die huis gevul en gebak kan word. Verder kreun die rakke onder saadbrode, beskuit, koffiedoopkoekies, stroopwafels, blatjang, konfyt, kaas en biltong. Daar is ook ’n geskenkeafdeling.

In Oktober hou die Nanaga Plaasstal Nanagafees. Kyk op www.nanaga.co.za om meer hieroor uit te vind.

Oudebosch Plaasstal, op die kruising van die R102 en Eersterivierweg, Humansdorp

By Oudebosch Plaasstal kan jy koffie drink, roosterbrood eet, geskenke – vir jouself of vir vriende – aanskaf, die uitsig bewonder en die vars Tsitsikamma-lug inasem, deel hul webwerf jou mee. Oudebosch is trots Oos-Kaaps, voeg hulle by.

Of jy nou buite, binne, in die koffiewinkel of biertuin sit, die Tsitsikammers kom maak kort voor lank ’n geselsie. Daar’s speelplek vir jou kroos as die kuier dalk lank uitrek. As jy die uitgestalde rietmandjies en -besems op die stoep en al langs die tuinpaadjie bekyk, begin jy agterkom dis wat jy nódig het.

Nie net bied hulle proteaplaastoere aan nie, maar die meeste van die geskenke in die geskenkwinkel het proteamotiewe of is deur proteas geïnspireer. Aan die sykant van die gebou is ’n toeriste-inligtingsentrum waar jy meer oor Oos-Kaapse bestemmings kan uitvind.

Oudebosch Plaasstal is ook gelisensieer om wyn te verkoop.

Van Brakel Stoor, op die kruising van die R316 en R326, tussen Caledon en Napier, Overberg

Die oorspronklike Van Brakel Stoor dateer uit die 1920’s. Vanaf die vroeë 1950’s was dit ’n plaaslike kruidenierswarewinkel met ’n werktuigkundige wat trekkers en ander landboutoerusting kon versien en ’n bymekaarkomplek vir boere van die distrik.

In 2004 het Van Brakel Stoor soos dit vandag daar uitsien, sy deure geopen. Die boere gebruik nog steeds die “nuwe” padstal of restaurant as vergaderplek of om sommer net te kom koffie drink. As ’n baaspasteibakker soos ’n vriendin van my vir jou sê dat Van Brakel Stoor die beste padkospasteie verkoop wat sy ken, raak jy, soos ek, ’n gereelde indrawwer.

Tradisionele middagetes word ook bedien en konfyte, ingelegde vrugte, soetkoekies en jêmtertjies is te koop.

Meer oor:  Padstal  |  Buite  |  Plaasstalle  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.