Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Limpopo-fotograaf wen groot kompetisie

Lance van de Vyver, ’n natuurfotograaf van Hoedspruit in Limpopo, het honderde ander natuurfotograwe van oor die wêreld heen uitgestof toe hy vandeesweek aangewys is as die algehele wenner en fotograaf van die jaar in Wilderness Safaris se Africa in Focus-fotokompetisie.

Van de Vyver se foto van ’n jong leeu wat met ’n ietermago speel het die beoordelaarspaneel – wat bekende fotograwe soos Isak Pretorius, Trevor Cole, Keith Ladzinski, Shannon Wild, Chris Eyre-Walker en Gaël vande Weghe ingesluit het – die meeste beïndruk.

Lance het die foto in die Tswalu- private natuurreservaat in die Noord-Kaap geneem.

Scaly Protection is aangewys as die algehele wenfoto in Wilderness Safaris se Africa in Focus-fotokompetisie. Foto: Lance van de Vyver

“Ons het leeus gesoek en afgekom op ’n trop by ’n watergat. Die meeste van hulle was egter vas aan die slaap.

“Dit was ’n warm, Noord-Kaapse dag en dit het voorgekom of ons reeds al die aksie gemis het, totdat ons ’n groepie jong leeus in die ruigtes gesien het wat om ’n onbekende voorwerp koek.

“Nadat ons ’n beter blik op die trop probeer kry het, het ons agtergekom hulle het ’n ietermago gevang.

“Leeus is van nature nuuskierige diere, maar die nuwe ‘speelding’ was heeltemal onbekend vir die jong gespuis. Dit was soos ’n legkaart wat beweeg het, maar wat hulle nie kon ontsyfer nie,” vertel hy.

“Ons het seker vir ’n uur gesit en die klompie dopgehou, maar in daardie hele uur was daar skaars ’n paar sekondes om hulle ordentlik af te neem, as gevolg van die dik ruigtes.”

Die paar sekondes was egter genoeg vir Van de Vyver om sy wenskoot te kry.

Hy is oorspronklik van Nieu-Seeland, maar het sowat agt jaar gelede Suid-Afrika toe geïmmigreer om ’n natuurfotograaf te word.

To Save a Species Foto: Meghan McCabe
Rising Moon Foto: Peter Pickford
Shield Wall Foto: Manoj Shah
Willow Foto: Giovanna Aryafara

“Ek kon nie glo my foto het gewen nie,” sê hy.

Toe ek deur die inskrywings blaai en al die ongelooflike natuurfoto’s sien, het ek nie gedink ek staan ’n kat se kans nie.

Carla Lewis

“As fotograwe en kunstenaars is ons seker maar altyd op soek na ’n bietjie positiewe terugvoer oor ons werk, maar om ’n internasionale fotokompetisie van dié grootte en aansien te wen, laat jou voel jou harde werk is nie verniet nie.”

’n Totaal van 641 fotograwe het vir die kompetisie ingeskryf, en meer as 3800 foto’s is ingeskryf.

Hy wen ’n nege dae lange droomsafari met sy eie private gids van Wilderness Safaris, ter waarde van R300 000.

Algehele wenner:

Scaly Protection deur Lance van de Vyver. Die foto is geneem in die Tswalu- private natuurreservaat in die Noord-Kaap

Afdelingwenners

Afrika-landskappe: Rising Moon deur Peter Pickford. Die foto is geneem aan die Skedelkus in Namibië

Afrika-wildlewe: Shield Wall deur Manoj Shah. Die foto is geneem in die Masai Mara Nasionale Park, Kenia

Afrika se kulture, mense en gemeenskappe: Willow deur Giovanna Aryafara. Die foto is geneem in die Omo-vallei, Etiopië

Bewaring van die Afrika-wildernis: To Save a Species deur Meghan McCabe. Die foto is geneem in ’n natuurreservaat in Gauteng.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.