Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Maak reg vir ’n nog erger Epic

Die Absa Cape Epic raak net moeiliker en moeiliker, sê almal elke jaar wanneer die volgende jaar se Epic-roete bekend gestel word.

Volgende jaar se roete is vroeër die maand bekend gestel en weer eens is die algemene slotsom dat die Epic volgende jaar lekker moeilik gaan wees.

Terésa Coetzee tydens die Absa Cape Epic van 2018. Foto: Sportograf

Ja, stem my vriend Gawie Combrink van Nelspruit saam. Gawie het al ses Epics voltooi en vanjaar het hy en sy spanmaat Wessel Botha onder die top-25-spanne geëindig. Hy en sy spanmaat Johan Rabie het voorheen al sesde geëindig, ’n uitsonderlike prestasie.

“Maar onthou, elke Epic het verskillende uitdagings. Ek dink nie ’n mens moet ooit die ren onderskat en dink daar bestaan so iets soos ’n maklike Epic nie,” sê Gawie.

En natuurlik is hy reg.

“Ek sien die roete is meer Ceres se kant toe en die wêreld daar is altyd hard. Warm en sanderig en gewoonlik as die roete korter is, beteken dit meer tegniese terrein,” meen hy.

Volgende jaar se Epic, wat van 15 tot 22 Maart in die Kaap plaasvind, is ’n bietjie korter as vorige jare oor die afstand van 657 km, en behels minder klim met 15 550 m in totaal en ryers kan hulle maar regmaak vir kilometers en kilometers se enkelspoorpaadjies wat die bene gaan byt.

En as jy Ceres se wêreld ken, sal jy weet dat daardie area geniepsig is met fietsbande en terwyl jy jou bene en bolyf oefen, moet jy maar terselfdertyd presies weet hoe om vinnig ’n binneband in te sit of ’n gebreekte ketting gou reg te maak.

“Daai goed moet jy in elk geval kan doen as jy die Epic ry, Terésa,” mymer Gawie ietwat kwaai en ja, natuurlik is hy wéér reg.

(Glo dit as jy wil of nie, in al die jare wat ek fietsry, het ek nog nooit nodig gehad om self ’n band om te ruil of ’n meganiese probleem uit te sorteer nie. Regtig nie! Daar is soveel galante here in die bergfietskringe dat ek elke keer dat ek fietsmoeilikheid gehad het, hulp van die ander ryers gekry het. Selfs in 2018 se Epic toe my ketting tydens die vyfde skof gebreek het, het twee ouens van verskillende spanne onmiddellik gestop om my te help en hulle het die ketting omtrent binne twee minute reggemaak. Geseënd sal hulle wees.)

Die proloog skop volgende jaar weer by Tafelberg af en strek oor ’n afstand van 20 km met 600 m se klim. Ek hou altyd van hierdie roete, nie net omdat die uitsig oor Kaapstad beeldskoon is nie, maar ook omdat dit heel rybaar is, buiten die een wilde afdraande waar ek skaamteloos afklim en loop.

Die eerste skof is 98 km met 1 800 m se klim en begin en eindig in Ceres. Tydens hierdie skof gaan ryers die welbekende Eselfontein-roetes ry. Dis van die oudste geboude roetes in die land en baie tegnies.

Die tweede skof is volgende jaar die koninginskof met ’n afstand van 94 km en 2 050 m se klim vanaf Ceres na Saronsberg, Tulbagh, deur die Witzenberg-vallei. Hierdie vallei is ongenaakbaar, en voor jy daar kom moet jy eers die veeleisende klim van die Skurfberg se enkelspoorpaadjie aandurf.

Skof drie is 88 km met 2 100 m se klim en dit begin en eindig in Tulbagh. Hierdie skof het ’n 4,5 uit 5 moeilikheidsgradering, wat beteken dis ’n moeilike skof wat wag ná die vorige dag se groot uitdaging.

Die vierde skof strek oor 101 km met 1 950 m se klim vanaf Tulbagh tot Wellington en die skof het ’n 4 uit 5 moeilikheidsgraad.

Tydens die vyfde skof waar ryers ’n sirkelroete om Wellington ry, word daar 2 900 m geklim oor 85 km. Dit beteken net een ding, hárde werk wanneer jou bene reeds baie moeg is van die vorige dae se ry. Die moeilikheidsgraad is weer eens 4,5 uit 5.

Die sesde skof strek oor 95 km met 2 300 m se klim en selfs die sewende (en laaste) skof moenie vir een oomblik onderskat word nie. Al is dit net 66 km ver, moet ryers steeds hard werk terug eindstreep toe oor die 1 850 m se klim.

Die eindpunt is weer volgende jaar by Val de Vie en daar is ’n baie goeie rede waarom ’n mens soos ’n superheld sal voel as jy oor hierdie eindstreep ry. Want dit beteken jy het agt volle dae van die hardste bergfietsry in die wêreld voltooi . . .

Meer oor:  Absa Cape Epic  |  Fietsry  |  Fietsren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.