Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Moedhou, aanhou, planmaak

As jy in ’n droogtejaar in Namakwaland ’n pragtige blomkoolkop sien, weet jy dadelik dis groente met ’n storie, skryf Eben Human.

In ’n wêreld wat al droër en warmer word, is die tekort aan water uiteindelik die grootste bedreiging vir ons menslike bestaan.

Ons worstel al met ’n hele klomp groot probleme, maar daar is twee tydbomme wat nou gesamentlik tik: menslike aanwas en die druk wat toeneem op die aarde se beperkte waterbronne.

Met my onlangse besoek aan die Namakwalandse kunstenaar Bob Gardiner en sy vrou, Malinda, vertel hulle my opgewonde van die groot blomkool wat hul dogter Lisa Boonzaaier in Kamieskroon se sand gekweek het.

Bob sê hy het al self voorheen probeer, maar Lisa het met haar poging sy vorige pogings heel­temal oortref.

In Kamieskroon is erwe nog bekostigbaar en terwyl ’n skaapboud op die stoof prut, word ons na die tuin genooi waar Lisa haar blomkool wou oes. Malinda kyk toe trots hoe die pragstuk uit die Namwakwalandse grond gelig word. Sy groot blare is versigtig weggebreek en siedaar – ’n mooi, gesonde kop wat ’n paar mense kan voed.

So vars is die blomkool na die kombuis geneem om saam met vars wortels en rape uit dieselfde tuin vir die middagete gekook te word.

Lisa Boonzaaier sit hier trots met haar blomkool wat sy pas geoes het in haar groentetuintjie op Kamieskroon in Namakwaland. Daar was heelwat uitdagings om dit in ’n droogtejaar te kweek.Foto: EBEN HUMAN

Net soos die vars aartappel wat ek verlede jaar op ’n plaas in die Sandveld naby Redelinghuys geëet het, het die geure my asem weggeslaan. Sulke groente wat nie verkoel, verpak, vervoer en effens verouder het nie, smaak net baie beter as waaraan ons stedelinge met winkelgroente gewoond geraak het.

Eers wanneer jy die hele storie van die groentetuin hoor, kan jy verstaan watter opwinding dit in ’n huishouding in Namakwaland veroorsaak het.

Nadat Lisa einde verlede jaar haar graad aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal het, wou sy dadelik in China begin onderwys gee om te begin afbetaal aan haar studieskuld. Met die reis na die Ooste gefinaliseer, kon dit daarna maklik soos tronkstraf voel om skielik op ’n dorpserf in Kamieskroon ingeperk te wees. Dit is juis by tronke waar groentetuine al met groot vrug as deel van terapeutiese behandeling gedien het.

“Gestrand in my tuisdorp, sonder ’n werk en sonder die vooruitsig om selfs een dag vooruit te kan beplan, het ek besluit om ’n groentetuin te begin om myself besig te hou. So wou ek ook bydra tot ons huishouding,” sê Lisa.

Om ’n groentetuin in Kamieskroon te vestig, was nie ’n maklike projek nie. Die taai weersomstandighede was maar net een van die vele struikelblokke wat sy as tuinmaker en groenteprodusent moes oorkom.

Die bergagtige omgewing net buite Kamieskroon. Van hier kan jy die Kamiesberge verken en ook die Namakwalandse Nasionale Park besoek vir ’n skouspel van die lenteblomme.Foto: EBEN HUMAN

“Toe ek my groentetuin aan die begin van die jaar begin het, was Kamieskroon steeds vasgevang in ’n erge watertekort, wat meer as drie jaar al ’n probleem is. Ek het soms net toegang gehad tot dorpswater, wat elke tweede dag vir ’n kort tydjie van twee uur beskikbaar was,” sê die Kamieskroner.

“Hoewel ons twee watertenke het, moes dit spaarsaam gebruik word omdat dit ons drinkwater vir die hele jaar is. Daar was ook ’n hele paar ander uitdagings wat ek moes oorkom.”

Die verwoestende warm ooswind en die onvermydelike ryp in die winter was al erg genoeg.

“Daar was ook ’n stinkbesieplaag soos wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Groente soos my blomkool en rape is herhaaldelik tot op die grond afgevreet – so erg dat ek sommige dae gedink het hulle gaan dit eenvoudig nie maak nie.”

Weer en peste was maar van die uitdagings. Om die yl, sanderige grond in ’n beter toestand te kry, was ’n ander.

“Ons grond is baie sanderig. Daar is ’n groot tekort aan voedingswaarde of die vermoë om vog lank te behou. Vir hierdie probleem was daar net een oplossing: kompos, kompos, kompos.”

Dié groot molrot het Ben-Jon Dreyer op sy erf in Kamieskroon gevind en ’n boomwortel gevoer. “Hy was oud en honger en het byna so groot soos ’n dassie gelyk,” sê hy. Foto: BEN-JON DREYER

Die oud-Puk het toe haar eie organiese komposhoop begin en sy vertel: “Die komposhoop het bestaan uit organiese kombuisafval, droë organiese tuinafval, grond en kraalmis wat ek uit ons melkbokke se kamp gekry het.”

’n Boer van ’n nabygeleë plaas het ook beesmis uit een van sy krale beskikbaar gestel. Om beesmis agter op ’n bakkie in ’n sterk oostewind te probeer laai, was maar net nog ’n uitdaging vir Kamieskroon se groenteboer.

“Die kraalmis is in die beddings ingewerk saam met potplantgrond om die grondstruktuur losser te maak. Klei wat ek by ’n nabygeleë dam gekry het, is ook ingewerk in ’n poging om die vog in die grond langer te behou.”

Maar daar was nog ’n onwelkome kalant waarmee Lisa rekening moes hou: “Ons het ook verskriklik baie duinmolle in die dorp. Anders as die stinkbesies of die oostewind kom hulle stil-stil, sonder jou wete, in die nag. Dis eers die volgende oggend dat jy agterkom dat een of meer van jou eiervrug- of basilieplante met blare en al in die grond in verdwyn het.”

Die Namakwalandse duinmol (Bathyergus janetta) was ’n yslike frustrasie. Om te sien hoe al jou harde werk oornag verorber word deur ’n dier wat jy nie eens kan sien nie, was hartverskeurend, sê sy.

Maar hierdie diereliefhebber wou ook nie die duinmolle doodmaak nie en moes nuwe planne bedink.

Duinmolle word baie selde gesien, maar Ben-Jon Dreyer het al een op sy erf in Kamieskroon gevind. Hy het gesê dit lyk byna so groot soos ’n dassie.

Lisa verduidelik haar strategie: “Ek het ogiesdraad gebruik en dit onder in die bedding gelê. Op hierdie manier kon die duinmol net die gedeeltes van die wortels vreet wat onder die draad deur groei en nie die hoofwortelstruktuur of hele plant nie.”

So het die blomkool, wortels en rape oorleef sodat ons uiteindelik dit kon geniet as deel van ’n heerlike Sondagmiddagete.

Lisa sê haar passie vir tuinmaak is beslis nie gebreek in haar tuisdorp nie: “Om aan tafel te gaan sit en aan jou eie tuisgekweekte vars groente te kan smul, was ’n groot plesier.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.