Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Moenie dié blomme pluk nie, feetjies slaap daarin

Van uile op ’n kluit, ’n feetjietuin in Swellendam tot ’n skulphuis aan die suidpunt van Afrika. Dít is buitestanderkuns waaraan jy jou in die buitelug kan verkyk, skryf Ilse Zietsman.

Die Uilhuis het meer uile en meerminne as wat ’n mens kan raaktel. Foto: ILSE ZIETSMAN

Die definisies wat aan buitestanderkuns (outsider art) toegedig word, wissel. Sommige beskou dit as kuns wat deur onopgeleide kunstenaars geskep is. Dikwels is dit visioenêr van aard en het dit ’n naïewe benadering. Dis uit die aard van die saak kontemporêr, want dit is nie lank terug geskep nie; dit word huidig geskep.

Buitestanderkuns word egter nie net deur onopgeleide of selfopgeleide kunstenaars geskep nie. Almal is dit ook nie eens wie of wat as buitestanderkuns kwalifiseer, al dan nie.

Die term “outsider art” is in 1972 deur die historikus Roger Cardinal geskep. Sy oorspronklike definisie het egter afgewyk van dit wat vandag as buitestanderkuns beskou word.

Die term buitestanderkuns is deels afgelei van die Franse term art brut (dit beteken “rou kuns”) wat veral na die skeppings van Jean Dubuffet verwys het.

Dubuffet het in baie van sy werke olieverf met sand, teer en strooi verdik wat aan sy skilderye ’n ongewone getekstureerde oppervlak verleen het.

Hier is ’n paar plekke om dié kuns te waardeer:

’n Magdom uile op ’n kluit

As jy nog nie van Helen Martins se Uilhuis in Nieu-Bethesda gehoor het nie, moet jy sekerlik ’n afstammeling van Rip van Winkel wees. Nieu-Bethesda lê 53 km buite Graaff-Reinet.

Soos die meeste ander buitestanderkunstenaars het Helen Martins nie kontak met hoofstroomkunstenaars gehad nie. Dit wat sy geskep het, was deel van haar persoonlike visie. Sy het haar eie interpretasie van Bybelse en Oosterse filosofieë uitgebeeld en vir haarself ’n wêreld van haar eie geskep.

Dit het alles in die 1940’s ná haar pa se dood begin. Eers het sy haar platdak-Karoohuisie aan die binnekant omskep. Sy het glas en glasbottels bymekaargemaak wat sy met ’n koffiemeule fyngemaal het, teen die mure gestrooi en met ’n mengsel van verf en vernis geplak het sodat dit, veral saans, kon blink.

Die Skulphuis in Kaap Agulhas is heel gepas in Golfstraat geleë. In dié huis woon ’n kunstenaar wat ook binne die huis interessante kunswerke skep.

Toe die een koffiemeul ná die ander die gees gegee het, het sy ’n stamper en vysel gebruik.

Helen Martins was lief vir lig en vir blink.

Op die vensterbank in haar kamer staan ’n ry gekleurde vase waardeur die lig op ’n sekere tyd van die dag val sodat blou en groen en rooi oral weerkaats.

Op haar eetkamertafel staan etlike blakers met kerse en in ’n muurrakkie staan ry op ry lampies en lanterns.

Orals, net mooi orals, is uile. Sommer met die aankom sien jy al ’n voëlhok vol steenuile met helder oë op die voorstoep. Hoeveel uile daar altesaam is, weet nugter alleen.

Daar word wel beweer dat daar 14 meerminne, 49 kamele, 18 lammetjies en sewe kameelperde is. In die agterplaas en in die huis self is daar ook vele ander figure.

Om die Uilhuis in Nieu-Bethesda te besoek, is ’n spirituele ervaring. Ek keer keer op keer terug; elke keer sien ek iets nuuts, iets anders, iets wat my opnuut raak.

Die Uilhuis is al as ’n baken vir buitestanderkuns in Suid-Afrika beskryf.

Plaaslike inwoners soos Piet van der Merwe en Koos Malgas was instrumenteel daarin om dit wat Martins in haar geestesoog gesien het, tot uitvoer te bring.

Soos met baie buitestanderkunstenaars is eers ná haar dood besef tot watter omvang haar kunsskepping gedy het.

Helen Martins is in 1976 oorlede toe sy haar eie lewe geneem het.

* Besoek die Uilhuis in Martinstraat, Nieu-Bethesda. Die Uilhuis is sewe dae per week oop van 09:00 tot 16:45 vir 364 dae van die jaar (dis net op Kersdag, 25 Desember, gesluit). Gedurende die Desember-skoolvakansie is die Uilhuis van 08:00 tot 17:45 oop. Kaartjies kos R60 per persoon.

* Kontak die Uilhuis by 049 841 1733 of admin@theowlhouse.co.za

* Lees meer:www.theowlhouse.co.za en A journey Through the Owl House deur Anne Emslie (as jy dit in die hande kan kry).

In die agterplaas van die Skulphuis is ’n Suiderkruislabirint.

Volg feetjies en kabouters

Kuns? Net ’n foefie? Slegs vir kinders? ’n Gekkespul?

Noem dit wat jy wil, die feetjietuin – of feetjieheiligdom soos wat hul webwerf dit noem – op Swellendam se deure is al amper 30 jaar oop. Die Sulina-kontinent soos hulle ook hulself noem, is ’n spesiale tuiste vir feetjies, engele en almal wat saggeaard is.

Hier moedig hulle jou aan om jou te verbeel dat jy weer vyf jaar oud is. Loop op jou tone deur die tuin en verkyk jou aan feë, rooi en wit paddastoele, wens­putte en skoenlappers.

Helen Martins se Karoo-huis op Nieu-Bethesda verklap nie wat binne aangaan nie.

As jy eers binne is, bevind jy jou in ’n fantasieruimte.

Eintlik wil ’n mens nie eens hê iemand moet met jou praat nie; jy wil net deur die tuin wandel. Jy wil nie gesê word jy móét in feetjies glo nie; jy wil dat jou innerlike kind self ontwaak.

Boonop is daar juis ’n plakkaat wat waarsku: Moet asseblief nie ons blomme pluk nie, want die feetjies slaap soms daarin. Daar kon netsowel bygeskryf gewees het:

Moenie onnodig praat nie; jy gaan dan die feetjies wakkermaak.

* Besoek The Continent of Sulina, Buitekantstraat 37, Swellendam. Die feetjietuin is Woensdae tot Sondae van 09:00 tot 16:30 oop. Hulle is toe gedurende Juniemaand en op Kers- en Nuwejaarsdag.

* Kontak The Continent of Sulina by 028 514 1786.

* Lees meer: http://thecontinentofsulina.blogspot.com.

’n Skulphuis aan die suidpunt

In ’n weggesteekte straatjie in Kaap Agulhas woon Mosie Hope, ’n kunstenares, in ’n klein gewelhuisie wat dadelik die aandag trek omdat die voorkant amper heeltemal met skulpe bedek is.

Die vorige eienaar was verantwoordelik vir die vooraansig van skulpe wat haar agt jaar geneem het om te voltooi. Heel gepas is die straat se naam Golfstraat.

Op die tuinmuur pryk die Magiese Mollusk. Dis die grootste beeldhouwerk van ’n spiraalskulp in die Suidelike Halfrond, vertel Mosie. As jy haar mooi vra, sal sy vir jou vertel watter spesiale vonds binne-in die weekdierskulp skuil.

Mosie Hope stal al meer as twee dekades lank haar waterverfskilderye in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap uit.

Benewens skilder is sy passievol daaroor om op- en uitdrifsels, insluitende plastiek, wat sy op die strande van Struisbaai en Kaap Agulhas optel, in kuns en bruikbare artikels te omskep.

Hierdie kuns getuig van brute direktheid en eerlikheid, soms ook bisarheid, wat kenmerkend van baie buitestanderkuns is.

Helen Martins se beelde is van sement en glas.

Mosie het onder meer al ’n jellievislig uit ’n fietswielraam, stukke plastiek en lekkergoedpapiertjies gemaak.

In die agterplaas van die Skulphuis is ’n labirint in die vorm van die Suiderkruis. Enig­iemand is welkom om die labirint te kom loop.

Dit help om spanning te verlig en om iets wat jou pla of waarmee jy sukkel, op te los. Dit help ook om van negatiewe gedagtes en vrese ontslae te raak.

Mosie verduidelik hoe ’n mens te werk moet gaan: Haal drie keer diep asem voordat jy begin loop.

Bly doodstil terwyl jy loop. Fokus jou gedagtes op iets spesifieks waaraan jy wil dink of laat jou gedagtes toe om self hul loop te gaan. Wees bewus van jou asemhaling.

As jy in die middel van die labirint kom, is dit tyd om ’n rukkie te rus en na jou hartklop te luister. Stap hierna weer na die beginpunt.

* Besoek die Skulphuis (Sea­shell House), Golfstraat 8, Kaap Agulhas. Stuur vooraf ’n boodskap na 082 296 0144 om seker te maak dat Mosie Hope daar is om jou te ontvang.

* Die Skulphuis het ’n selfsorgwoonstel, geskik vir twee mense, te huur. Dit is binne enkele minute se stap vanaf Kaap Agulhas se vuurtoring en die getypoele. Bespreek by seashellhouse@isat.co.za

* Lees meer: www.seashellhouse.co.za.

Meer oor:  Swellendam  |  Buite  |  Doendinge  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.