SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Buite
Mooi, mooier, blommetyd!

Wes-Kapenaars het vanjaar in erge droogte begin skarrel vir watertenks. Toe dit daarna reën, ontplof die blomme sommer al in Junie by Nieuwoudtville, skryf Eben Human.

Die Postberg-reservaat in die Weskuspark by Langebaan lewer vanjaar weer sy gebruiklike blommeskouspel. Moenie te laat wag om hier ’n draai te maak nie. Foto: Eben Human

Vanjaar kon jy maar reguit na Nieuwoudtville ry vir ’n blommeskouspel. Ook in die Postberg-reservaat in die Weskuspark het die helderkleurige gousblomme weer geil gestaan.

Baie mense het vroeg in die jaar nog kliphard bespiegel dat daar weens die droogte min blomme in die lente sou wees. Die eerste waarskuwingskoot het egter gekom van die Maartblomme (Brunsvigia bosmaniae).

Interessante rotsformasies word aangetref by Charlieshoek in die Hantam-tuin. Foto: Eben Human

Dit was juis by Nieuwoudtville waar hierdie blomme pienk gepronk het. ’n Plaaslike blomkenner soos die gewese regsman Hendrik van Zijl volg die blomme se grille al jare en sê as dit op 29 Maart reën, kan jy maar weet dinge gaan gebeur in die planteryk.

Op 3 April het die eerste Maartblomme verskyn en Van Zijl het laat waai met sy foto­album op sosiale media. Vanoor die hele wêreld het hy reaksie gekry. Van Zijl was daarna self verbaas toe die lenteblomme al vroeg Julie in plate op Nieuwoudtville verskyn. “Só iets het ek nog nie op ons dorp gesien nie,” het Van Zijl gesê.

Tussen Springbok en Steinkopf kon jy al in Julie plate blomme in Namakwaland sien, terwyl blomme ook verder suid na Kamieskroon se omgewing begin verskyn het. Langs die Weskuspad tussen Melkbosstrand en Velddrif het plate wit gousblomme vroeg aandag getrek, en op ’n grondpad van Doringbaai na Lambertsbaai kon jy stop om foto’s te neem.

Dit is altyd lekker om van Garies met die mooi Struderpas deur die Kamiesberge na Leliefontein te ry. Op pad na Kamieskroon was weer mooi blomplate by Pedroskloof se afdraai.

Postberg is net in Augustus en September oop vir die publiek. Plate gousblomme het weer die aandag getrek, maar van die reservaat se elande is niks gewaar op my besoek nie.

Eugene Marinus, kurator van die Hantam Botaniese Tuin by Nieuwoudtville. Foto: Eben Human

Op die rit deur die Weskuspark het ’n volstruiswyfie met haar 20 kuikens gespog. Ek wonder hoeveel van hulle was uiteindelik kos vir die rooikatte.

Met my eerste besoek aan Nieuwoudtville het ek gaan luister hoe bewaringsmense by die Hantam Botaniese Tuin nog planne maak om die biodiversiteit van die droë streke te beskerm. Die saamtrek van die Succulent Karoo Ecosystem Programme (SKEP) is gereel deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) met Noel Oettle wat die samekoms se besprekings gelei het.

Die Namakwalandse skoenlapper word die samba-pylpuntjie (Phasis clavum) genoem. Foto: Eben Human

Die voëltjies het net hard op die agtergrond gekwetter toe die opening waargeneem is deur Chris Fortuin, munisipale bestuurder van die Namakwa-distriksmunisipaliteit. Oettle, wat ’n studie doen van volhoubare boerderymetodes vir die droë streke, het Fortuin agterna geprys vir sy insig.

Daarna het die Namakwalandse blomkenner Annelise le Roux, skrywer van blomgidse, die hoofrede gelewer met haar verslag oor wat alles die afgelope 20 jaar met bewaringswerk in die Knersvlakte vermag is.

Van die ander sprekers was Elbie Cloete en Dean Impson van Cape Nature, Jan Coetzee van die Wêreldnatuurfonds (WWF), Ismail Ibrahim en Mohlodi Tau van Sanbi, Francois van der Merwe van die Leslie Hill Vetplant Karoo Trust, Ben-Jon

Dreyer van die Wildernis­stigting en Shahieda Davids van SKEP.

Le Roux het in ’n latere gesprek gewys op die dinge wat blomme die meeste beïnvloed: temperatuur en water.

Blomme ontkiem wanneer dit warmer word. Maar water is ook nodig daarvoor. Droogtestres plaas terselfdertyd ekstra druk op die planteryk, het sy ver­duidelik.

Alles gebeur nou gouer as waaraan ons gewoond was. “Die warm bergwinde wat gewoonlik eers teen die einde van Augustus verwag word, het al in die middel van Julie begin waai,” het Le Roux bygevoeg.

’n Veer van die groot Ludwigse pou is tussen die gousblomme gevind. Foto: Eben Human

Een van die eerste slagoffers van aardverhitting kan die kokerbome wees. Daar is al met navorsing bewys dat die koker­bome al hoe meer suid trek om van die ergste hitte te probeer ontsnap.

Die beste blommepad was vanjaar na Nieuwoudtville en toe Eugene Marinus, kurator van die Hantam Botaniese Tuin, aanbied om meer van hierdie blommeparadys van 6 000 ha te wys, was ek baie opgewonde.

Die dorp het ’n trotse geskiedenis van bewaringswerk. Die botaniese tuin het tot stand gekom op die plaas Glenlyon, waar die legendariese Neil MacGregor groot moeite gedoen het om die wêreld bewus te maak van die planteskat van dié omgewing.

MacGregor se verbintenis met Nieuwoudtville het in 1883 begin toe die Skot James MacGregor hier die plaas Katlaagte gekoop het.

In 1928 het ’n nasaat, Gordon MacGregor, met Helen Lyon getrou en die plaas is die volgende jaar na Glenlyon herdoop. Neil was ’n seun van Gordon Mac­Gregor en dit was hy wat die plaas oopgemaak het vir ekoboerdery.

Party hou van afval en ander verkies om te peusel aan ’n skuinskoek.

Blommetoere is elke jaar op die plaas aangebied en in 1993 het die BBC drie weke lank hier opnames gemaak vir sy reeks The Private Life of Plants.

In Januarie 1994 het sir David Attenborough en sy span teruggekeer vir opnames in die droë seisoen.

’n Mooi blomroete na Nieuwoudtville is oor die Piekenierskloof na die Olifantsriviervallei voordat jy buite Clanwilliam die Pakhuispas aandurf en verby Louis Leipoldt se graf na die Biedouwvallei mik.

Van Biedouw kan die pad oor die Botterkloofpas gevolg word tot op Matjiesfontein naby Nieuwoudtville om die blomtannies te ontmoet. Dan is dit tyd vir plaaskos. Party hou van afval en ander verkies om te peusel aan ’n skuinskoek.

Vir slaapplek kan jy ’n mooi gerestoureerde sandsteenhuis op Nieuwoudtville kies, of uitwyk na ’n plaas. Dié slag bly ons op Arend Kotzé se Willemsrivier, waar ook vanjaar mooi blomme was.

Die botaniese tuin lewer egter die hoogtepunt. Die tuin dek 6 000 ha en daar is nege wandelpaaie wat jy kan aandurf.

Die toegangsgeld is gering en op die wandelroetes sal jy heelwat sien. Marinus neem my egter na ’n baie spesiale deel – ’n deel wat danksy iemand soos Neil MacGregor goed bewaar gebly het en waarvoor jy R150 moet betaal vir ’n begeleide toer.

Die blommetjie van ’n malva-spesie in die Hantam-tuin. Foto: Eben Human

Die ingenieurs wat in hierdie tuin werk, word ystervarke genoem. Hoe behoorlik hulle die aarde omdol, is bewys deur die wetenskaplike studie wat Christy Bragg op hierdie pennerige gediertes gedoen het. Sy het tot agt ystervarke per hektaar gevind.

Dié dag sien ons ook erdvarkgate, maar dit is die blommeprag wat jou asem wegslaan. Die biodiversiteit is verstommend en dit is gou duidelik dat Marinus hierdie omgewing die afgelope 17 jaar behoorlik leer ken het. Hy is ’n boorling van Kleinmond en is geskool aan die Universiteit van Wes-Kaapland en kan gesaghebbend oor sy omgewing praat.

’n Paar keer verstom hy met sy fyn waarnemings. ’n Klipsprinkaan was deeglik gekamoefleer en sou ek nie kon opmerk terwyl hy doodstil gesit het nie.

My gids wou my graag ’n langtongvlieg wys wat die bobbejaantjies bestuif, maar ’n baie ligte briesie was genoeg om hulle op die dag op ’n sloerstaking te hou.

’n Veer tussen die blomme trek ook aandag. Dis een van ’n groot voël en my gids identifiseer hom as dié van ’n Ludwigse pou. Hy lyk amper soos ’n gompou en ons sien ook een ’n rukkie later opvlieg.

Van die blomme het gespesialiseerde bestuiwers. My gids wou my graag ’n langtongvlieg wys wat die bobbejaantjies bestuif, maar ’n baie ligte briesie was genoeg om hulle op die dag op ’n sloerstaking te hou. “Dit moet windstil wees voor hulle die bestuiwingswerk met die lang tongetjie kan doen,” verduidelik Marinus.

Daar is nog indringerplante en veral grasse in dele van die botaniese tuin wat pla. Marinus sê dit word met veebewyding gedeeltelik in toom gehou.

“Van die gras word ook geoes om as veevoer benut te word. Die beste is dat ons hiervoor betaal word,” verduidelik die kurator van die tuin. Suid-Amerikaanse grasse en onkruide het in ons land beland saam met voer toe perde daarvandaan ingevoer is vir die oorlog van 1899 tot 1901.

Marinus is self ’n ywerige fotograaf en het my ook verras met sy kennis van skoenlappers. ’n Skoenlapper wat ek afneem, identifiseer hy as ’n Namakwaland-spesie en die plant waarop hy gesit het, is ’n indringer­onkruid van Chili.

Kinders by dosyne. Lente is ’n tyd van oorvloed en die volstruise van die Weskuspark het weer ’n goeie broeiseisoen gehad. Foto: Eben Human

Ons sien ook ’n steenbokkie, maar dit is die verskeidenheid plante wat jou asem wegslaan. ’n Groot plaat rooi katsterte nader al die einde van hul blomtyd en aan my word uitgewys die bloukalossie, basterhongerblom, Karoo­satynblommetjie, die harlekynaandblom en ’n malvaspesie.

Ook die rotsformasies van die klipkoppies sit jou verbeelding op loop. Dit is egter baie teleurstellend om te hoor hoe bitter min mense vanjaar hierdie spesiale skouspel gesien het.

Marinus het daarop gewys dat sommige blomme reeds klaar geblom het, maar elke week verskyn weer nuwes. “Ons verwag die naweek nog reën en daar kan nog blomme wees tot diep in September,’’ het hy voorspel.

Kilometer ná kilometer het ons deur die Hantam-tuin gery en oral sien jy weer ander blomspesies. “Hou die mooi dan nooit hier op nie?” was my vraag nadat ons vyf uur lank tussen die blomplate gesnuffel en foto’s geneem het op ’n onvergeetlike blommedag.

Meer oor:  Blomme  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.